Inval van die Filistyne. Sonde van Saul.
1SAUL het 'n jaar geregeer. En toe hy twee jaar oor Israel geregeer het,
2het Saul vir hom drieduisend man uit Israel uitgesoek; en by Saul was tweeduisend in Migmas en op die gebergte van Bet-el, en duisend was by Jónatan in Gíbea in Benjamin; maar die orige manskappe het hy laat gaan, elkeen na sy tente toe.
3En Jónatan het die wagpos van die Filistyne verslaan wat in Geba was, en die Filistyne het dit gehoor. Daarop het Saul op die ramshoring laat blaas in die hele land om te sê: Laat die Hebreërs dit hoor!
4En die hele Israel het hoor sê: Saul het die wagpos van die Filistyne verslaan, en ook het Israel homself gehaat gemaak by die Filistyne. So is dan die manskappe opgeroep agter Saul aan na Gilgal toe.
5En die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: drieduisend strydwaens en sesduisend perderuiters en voetgangers soos die sand wat op die seestrand is in menigte; en hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Migmas, oos van Bet-Awen.
6Toe die manne van Israel sien dat hulle in die nood is — want die volk was in die noute gedruk — het die volk weggekruip in die spelonke en in die doringbosse en in die rotse en in die grotte en in die kuile.
7En die Hebreërs het die Jordaan deurgetrek na die land Gad en Gílead; maar Saul was nog in Gilgal met al die manskappe wat bewende agter hom aan gegaan het.
8En hy het sewe dae lank gewag, tot die tyd wat Samuel bepaal het; maar toe Samuel nie na Gilgal kom nie en die manskappe van hom af verstrooid raak,
9het Saul gesê: Bring na my die brandoffer en die dankoffers; en hy het die brandoffer geoffer.
10En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daar aan; en Saul het uitgegaan hom tegemoet om hom te groet.
11Daarop vra Samuel: Wat het jy gedoen? En Saul sê: Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom,
12het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die Here nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring.
13Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die Here jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die Here jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het.
14Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die Here het vir Hom 'n man na sy hart gesoek; en die Here het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die Here jou beveel het nie.
15Toe het Samuel klaargemaak en opgegaan van Gilgal na Gíbea in Benjamin, en Saul het die manskappe gemonster wat by hom aanwesig was, omtrent seshonderd man.
16Terwyl Saul en sy seun Jónatan en die manskappe wat by hulle aanwesig was, in Geba in Benjamin bly en die Filistyne by Migmas laer opslaan,
17het die roofkommando uitgetrek uit die laer van die Filistyne in drie afdelings: een deel het weggedraai op pad na Ofra, na die land Sual toe;
18en een deel het weggedraai op pad na Bet-Horon, en een deel het weggedraai op pad na die grens wat oor die dal Sebóim na die woestyn uitkyk.
19En daar was geen smid te vinde in die hele land van Israel nie, want die Filistyne het gesê: Anders kan die Hebreërs swaarde of spiese maak.
20Daarom moes al die Israeliete na die Filistyne afgaan om elkeen sy kluitbreker of sy pik of sy byl of sy ploegskaar skerp te maak —
21so dikwels as die snykant stomp was aan ploegskare en pikke en drietandvurke en byle; en om die osprikkels reg te maak.
22So het dit gekom dat daar in oorlogstyd geen swaard of spies te vinde was in die hand van al die manskappe wat by Saul en Jónatan was nie; maar by Saul en sy seun Jónatan was dit wel te vinde.
23En 'n wagpos van die Filistyne het uitgetrek na die pas van Migmas.