Sy:
1Was jy maar vir my
soos 'n broertjie wat aan my ma
se borste drink.
As ek jou buite teëkom en soen,
sou niemand my kwalik neem nie.
2Ek sou jou lei,
jou na my ma se huis neem,
sy wat my geleer het.
Ek sou vir jou kruiewyn gee om te drink,
die sap van my granate.
3Sy linkerarm is onder my kop,
sy regterarm omhels my.
4Meisies van Jerusalem,
ek besweer julle:
Moenie die liefde aanwakker nie,
moet dit nie opwek nie,
voordat dit nie self wil ontwaak nie.
Koor:
5Wie is dit wat daar
uit die woestyn kom
aan die arm van haar liefste?
Sy:
Onder die appelboom
laat ek jou ontwaak:
Daar het jou ma met jou
swanger geraak,
daar het sy wat swanger was
jou in die wêreld gebring.
6Dra my
soos 'n rolseël teen jou hart,
soos 'n rolseël aan jou arm;
want liefde is kragtig soos die dood,
hartstog meedoënloos
soos die •doderyk –
die liefdesgloed is 'n vlammende vuur,
'n verterende vlam.
7Baie water kan die liefde nie blus nie,
riviere kan dit nie wegspoel nie.
As iemand alles in sy huis aanbied
in ruil vir liefde,
sal hy diep verag word.
Haar broers:
8Ons het 'n jong sustertjie,
nog sonder borste.
Wat sal ons vir ons sustertjie doen
die dag wanneer om haar hand
gevra word?
9As sy 'n muur is,
sal ons 'n silwerverskansing
op haar bou;
en as sy 'n deur is,
sal ons haar met sederplanke afsper.
Sy:
10Ek is 'n muur,
en my borste soos torings;
toe word ek vir hom soos 'n stad
wat vrede aanbied.
Hy:
11Salomo het 'n wingerd besit
by Baäl-Hamon.
Hy het opsigters aangestel
wat duisend silwerstukke
vir die vruggebruik moes betaal.
12My eie wingerd is voor my.
Die duisend silwerstukke
is vir jou, Salomo,
en tweehonderd vir hulle
wat die vrugte oppas.
13O, jy wat in die tuine vertoef,
met vriende wat na jou stem luister –
laat mý dit hoor!
Sy:
14Glip weg, my liefste!
Wees soos 'n ribbok
of 'n jong rooitakbok
op die heuwels vol speserye.