Klagtes van die volk
1Die hele volksvergadering het toe hard uitgeroep en die volk het daardie hele nag gekerm. 2Al die Israeliete het by Moses en Aäron gemor en die hele volksvergadering het vir hulle gesê: “Het ons maar in Egipteland gesterf; of het ons maar in hierdie woestyn gesterf! 3Waarom bring die Here ons na hierdie land, net om deur die swaard te val? Ons vroue en ons jong kinders gaan buit word! Is dit nie vir ons beter om na Egipte terug te keer nie?” 4Hulle sê toe vir mekaar: “Kom ons wys 'n leier aan en gaan terug na Egipte.”
5Moses en Aäron het op hulle gesigte neergeval voor die hele byeenkoms van die volksvergadering van die Israeliete. 6Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, twee van dié wat die land verken het, het hulle klere geskeur 7en vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Die land wat ons deurkruis het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. 8As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons in hierdie land inneem en dit vir ons gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. 9Teen die Here moet julle net nie in opstand kom nie. Julle moenie bang wees vir die volk van die land nie, want hulle is 'n maklike prooi vir ons. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die Here is met ons. Moenie vir hulle bang wees nie.”
10Toe die hele volksvergadering dreig om hulle met klippe dood te gooi, het die heerlikheid van die Here in die Tent van Ontmoeting aan al die Israeliete verskyn.
11Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk My nog minag? Hoe lank gaan hulle My nie vertrou nie, ten spyte van al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? 12Ek gaan hulle met pessiekte tref en hulle onterf. Dan sal Ek jou 'n nasie maak, groter en sterker as hulle.”
13Daarop het Moses vir die Here gesê: “Die Egiptenare sal dit hoor – U het immers hierdie volk met u krag uit hulle midde laat wegtrek – 14en dan sal hulle dit vir hierdie land se inwoners vertel. Hulle het gehoor dat U, Here, onder hierdie volk teenwoordig is en dat U, Here, van aangesig tot aangesig aan hulle verskyn het en dat u wolk bo hulle bly – ja, dat U in 'n wolkkolom bedags voor hulle uitgaan en in 'n vuurkolom snags. 15As U dan hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van u roem gehoor het, sê, 16‘Dit is omdat die Here nie in staat was om hierdie volk in die land in te bring wat Hy met 'n eed aan hulle beloof het nie, dat Hy hulle in die woestyn omgebring het.’ 17Daarom dan, laat die krag van my Heer tog groot wees, soos U gesê het,
18“ ‘Die Here is geduldig
en oorvloedig in troue liefde.
Hy skeld sondeskuld en oortreding kwyt,
maar laat beslis niks ongestraf nie;
Hy laat kinders tot die derde
en vierde geslag
boet vir die skuld van voorouers.’
19“Vergewe asseblief die sondeskuld van hierdie volk volgens die grootheid van u troue liefde, soos U hierdie volk van Egipte af tot hier kwytgeskeld het.”
20Die Here het gesê: “Ek vergewe, soos jy versoek. 21Maar aan die ander kant, so seker as wat Ek leef, en so seker as wat die heerlikheid van die Here die hele aarde vul, 22niemand van al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien keer uitgedaag het, en na my stem nie geluister het nie, 23sal die land sien wat Ek aan hulle voorouers met 'n eed beloof het nie. Ja, almal wat My minag, sal dit nie sien nie. 24Maar wat my dienskneg Kaleb betref, omdat hy 'n ander gees openbaar het, en My met volharding gevolg het, sal Ek hom inbring in die land waarheen hy gekom het. Sy nageslag sal dit in besit neem.
25“Die Amalekiete en die Kanaäniete bewoon die oop vlaktes. Draai môre weg, dan trek julle weg die woestyn in, op pad na die Rietsee.”
26Die Here het verder met Moses en Aäron gepraat en gesê: 27“Hoe lank nog moet Ek hierdie bose volksvergadering verduur wat aanhoudend by My mor? Die gemor waarmee die Israeliete aanhoudend by My aankom, het Ek gehoor. 28Sê vir hulle, ‘So seker as wat Ek leef,’ is die uitspraak van die Here, ‘waarlik, wat Ek julle hoor sê het, net so sal Ek met julle maak. 29In hierdie woestyn sal julle dooie liggame val, julle almal wat ingeskryf is – die volle getal van twintig jaar en ouer, julle wat teen My gemor het. 30Ja, julle sal nie in die land ingaan waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, seun van Jefunne, en Josua, seun van Nun. 31En julle jong kinders, van wie julle gesê het, “Hulle gaan buit word” – Ek sal hulle inbring sodat hulle die land leer ken wat deur julle verwerp is. 32Maar wat julle betref, julle dooie liggame sal in hierdie woestyn val. 33En julle kinders sal veertig jaar lank herders in die woestyn wees. Hulle sal die gevolge van julle ontrouheid moet dra totdat julle lyke in die woestyn vergaan het. 34Volgens die getal dae wat julle die land verken het, naamlik veertig dae, sal julle sondeskuld moet dra, 'n jaar vir elke dag – dus veertig jaar lank. Dan sal julle weet wat dit beteken om My te dwarsboom.’ 35Ek, die Here, lê 'n eed af. Dit is wat Ek gaan doen aan hierdie bose volksvergadering wat teen My saamgekom het: In hierdie woestyn sal hulle vergaan, hier sal hulle sterf.”
36Die manne wat Moses gestuur het om die land te verken en wat teruggekeer het en die hele volksvergadering teen die Here laat mor het deur 'n gerug oor die land te versprei, 37ja, daardie manne wat 'n slegte gerug oor die land versprei het, het deur 'n plaag in die Here se teenwoordigheid omgekom. 38Net Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, onder daardie manne wat gegaan het om die land te verken, het bly leef.
39Nadat Moses hierdie woorde vir al die Israeliete gesê het, het die volk diep getreur. 40Hulle het die oggend vroeg opgestaan, na die kruin van die berg opgegaan en gesê: “Hier is ons! Ons sal optrek na die plek waarvan die Here gepraat het, want ons het gesondig.”
41Maar Moses het geantwoord: “Waarom nou skielik? Julle oortree die bevel van die Here. Dit sal nie slaag nie. 42Moenie optrek nie, want die Here is nie in julle midde nie; daarom moet julle nie optrek nie. Julle mag nie deur julle vyande verslaan word nie; 43want dit is die Amalekiete en die Kanaäniete teen wie julle daar te staan sal kom. Julle gaan deur die swaard val, juis omdat julle van die Here weggedraai het. Die Here sal nie by julle wees nie.”
44Hulle was egter vermetel genoeg om na die kruin van die berg op te trek, terwyl die verbondsark van die Here, en Moses, nie die kamp verlaat het nie. 45Die Amalekiete en Kanaäniete wat op daardie bergland woon, het afgekom. Hulle het die volk verslaan en hulle uitmekaar laat spat tot by Gorma.