Onreg in Jerusalem
1Daar het 'n groot noodkreet onder die volk opgeklink, ook onder hulle vroue, gerig teen hulle Judese volksgenote. 2Daar was dié wat gesê het: “Saam met ons seuns en ons dogters is ons baie; ons moet koring kry, sodat ons kan eet en aan die lewe bly.” 3Dan was daar dié wat gesê het: “Ons landerye, ons wingerde en ons huise moes ons verpand, sodat ons koring kon koop in die hongersnood.” 4Ander weer het gesê: “Ons het geld geleen teen ons landerye en wingerde vir die belasting aan die koning. 5Daarom dan, ons is dieselfde vlees en bloed as ons volksgenote, en ons kinders is soos hulle kinders; maar kyk, ons moes ons seuns en dogters aan slawerny onderwerp. Daar is van ons dogters wat verneder is, maar ons hande was afgekap. Ons landerye en wingerde behoort aan ander.”
6Ek was baie kwaad toe ek hulle noodkreet en hierdie woorde hoor. 7Ek het in my hart daaroor nagedink, en toe die hoëlui en gesagsdraers verwyt en vir hulle gesê: “Elkeen van julle leen sowaar teen woekerrente aan sy volksgenoot.” Ek het toe 'n groot byeenkoms teen hulle saamgeroep 8en vir hulle gesê: “Ons het self ons volksgenote, die Judeërs, wat aan die nasies verkoop was, na ons vermoë teruggekoop, maar julle verkoop ook julle volksgenote, sodat hulle aan ons verkoop moet word.” Hulle was doodstil en kon nie 'n antwoord vind nie.
9Verder het ek gesê: “Wat julle doen, is nie goed nie. Moet julle nie met ontsag vir ons God optree om die gespot van die nasies, ons vyande, te vermy nie? 10Ook ek, my broers en my werkers het aan volksgenote geld en koring geleen. Laat ons maar hierdie woekerrente kwytskeld. 11Gee tog vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise aan hulle terug, en ook die rente op die geld, koring, •nuwe wyn en olie wat julle aan hulle geleen het.” 12Daarop het hulle gesê: “Ons sal dit teruggee en van hulle niks eis nie. Ons sal presies maak soos jy gesê het.” Ek het toe die priesters ontbied en daardie mense 'n eed laat aflê om ooreenkomstig hierdie onderneming op te tree. 13Ek het ook die vou van my kleed uitgeskud en gesê: “Net so sal God elke man uitskud wat nie hierdie woord gestand doen nie – uit sy huis en uit sy besittings. Mag hy so uitgeskud en leeg wees.” Die hele byeenkoms het gesê “Amen!” en hulle het die Here geloof. Die volk het woord gehou.
Toewyding van Nehemia
14Boonop het ek en my broers, vanaf die dag dat ek aangestel is om as hulle •streekgoewerneur in die land Juda op te tree, van die twintigste regeringsjaar van Artasasta, die koning, tot die twee-en-dertigste jaar – twaalf jaar lank – nie die voedsel wat streekgoewerneurs toekom, geëet nie. 15Maar die eerste streekgoewerneurs wat voor my daar was, het swaar laste op die volk gelê. Hulle het brood en wyn van hulle geneem, en daarna ook nog veertig sikkel silwer. Selfs hulle werkers het oor die volk geheers. Maar ek, ek het uit ontsag vir God nie so opgetree nie. 16Ook met die werk aan hierdie stadsmuur het ek volhard. Grond het ek nie gekoop nie, en al my werkers was altyd daar by die werk saamgetrek. 17Die Judeërs en die gesagsdraers, 'n honderd-en-vyftig man, en hulle wat uit die nasies rondom ons na ons gekom het, was by my aan tafel. 18En dit wat vir elke dag voorberei is, een bees, ses stuks uitgesoekte kleinvee en voëls, is voorberei op my koste; en elke tiende dag was daar van alle soorte wyn in oorvloed. Ondanks dit alles het ek die voedsel wat 'n streekgoewerneur toekom, nie geëis nie, omdat die werklas op hierdie volk swaar was.
19Onthou, tot my voordeel, my God, alles wat ek vir hierdie volk gedoen het.