Bevryding van 'n besetene
1Hulle het aan die oorkant van die see aangekom, in die gebied van die Geraseners. 2Net toe Hy uit die boot klim, het 'n man met 'n •onrein gees Hom skielik uit die rotsgrafte tegemoet gegaan. 3Hierdie man se blyplek was tussen die rotsgrafte. Niemand kon hom meer vasbind nie, selfs nie met 'n ketting nie. 4Hy was trouens al dikwels met voetboeie en kettings vasgebind, maar hy het die kettings losgeruk en die voetboeie stukkend gebreek. Niemand kon hom beheer nie. 5Heeltyd, bedags en snags, het hy tussen die rotsgrafte en op die berge homself al skreeuende met klippe geslaan.
6Toe hy Jesus van ver af sien, het hy gehardloop en voor Hom neergeval. 7Hy skreeu toe met 'n harde stem: “Los my uit, Jesus, •Seun van die Allerhoogste God! Ek besweer U by God, moet my nie pynig nie!” 8Want Hy het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”
9Hy vra hom toe: “Wat is jou naam?” Hy antwoord Hom: “My naam is Legioen, want ons is baie!” 10Hy het Jesus ernstig gesmeek om hulle nie uit die gebied uit weg te stuur nie.
11Daar het 'n groot trop varke teen die berghang gewei. 12Hulle het Hom gesmeek en gesê: “Stuur ons na die varke, dat ons in hulle kan invaar.” 13Hy het hulle toegelaat. En die onrein geeste het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop van ongeveer tweeduisend het toe op loop gesit teen die helling af, die see in, en in die see versuip.
14Hulle wagters het op die vlug geslaan en dit in die dorp en op die platteland gaan vertel. En die mense het gaan kyk wat gebeur het. 15Hulle kom toe by Jesus en sien die besetene daar sit, die een wat die legioen in hom gehad het, met klere aan en by sy volle verstand; en hulle het bang geword. 16Diegene wat dit gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene en ook met die varke gebeur het. 17Hulle het Hom toe begin smeek om uit hulle gebied weg te gaan.
18Toe Hy in die boot klim, het die een wat deur demone besete was, Hom gesmeek om by Hom te kon bly. 19Hy het hom nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense, en vertel hulle alles wat die Here vir jou gedoen het en dat Hy medelye aan jou betoon het.” 20Die man het weggegaan en begin om alles wat Jesus vir hom gedoen het, in Dekapolis bekend te maak, en almal was verbaas daaroor.
Genesing van 'n vrou en opwekking van 'n dogter
21Nadat Jesus weer met die boot na die oorkant gevaar het, het 'n groot skare om Hom saamgedrom waar Hy langs die see was. 22Een van die leiers van die •sinagoge, met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. En toe hy Hom sien, val hy voor sy voete neer 23en smeek Hom ernstig: “My dogtertjie lê op sterwe. Kom lê u hande op haar, sodat sy gesond kan word en leef.” 24Jesus het saam met hom vertrek.
'n Groot skare het Hom gevolg en teen Hom gedruk. 25Daar was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het erg gely onder baie dokters, en sy het al haar besittings daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie – dit het eerder slegter met haar gegaan. 27En toe sy van Jesus hoor, het sy in die skare van agter af gekom en aan sy bokleed geraak, 28want sy het gesê: “As ek maar net aan sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” 29Die oorsaak van haar bloeding het toe dadelik opgehou, en sy het aan haar liggaam gevoel dat sy van haar kwaal genees is. 30Jesus het onmiddellik agtergekom dat krag uit Hom uitgegaan het. Hy het in die skare omgedraai en gevra: “Wie het aan my bokleed geraak?” 31Maar sy dissipels het vir Hom gesê: “U sien dat die skare van alle kante af teen U druk, en tog vra U, ‘Wie het aan My geraak?’ ” 32Hy het om Hom bly rondkyk om die een te sien wat dit gedoen het. 33Toe die vrou besef wat met haar gebeur het, het sy bewend van vrees voor Hom kom neerval en Hom die volle waarheid vertel. 34Hy sê toe vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees genees van jou kwaal.”
35Terwyl Hy nog praat, kom daar mense van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter het gesterf. Waarom val u die leermeester nog lastig?” 36Jesus het egter in die verbygaan gehoor toe die berig oorgedra word, en sê toe vir die leier van die sinagoge: “Moenie ontsteld wees nie – glo net!” 37En Hy het niemand toegelaat om met Hom saam te gaan nie, behalwe •Petrus, Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus. 38Toe hulle by die leier van die sinagoge se huis kom, sien Hy 'n geroesemoes, en mense wat huil en erg weeklaag. 39Hy gaan toe in en vra vir hulle: “Waarom gaan julle so tekere en huil julle? Die kindjie het nie gesterf nie, maar slaap net.” 40Hulle het Hom egter uitgelag. Maar nadat Hy almal uitgejaag het, het Hy die vader van die kindjie, haar moeder en dié wat by Hom was, saamgeneem en ingegaan na waar die kindjie was. 41Hy neem toe die kindjie se hand en sê vir haar, “Talita koem!” wat, as dit vertaal word, beteken ‘Dogtertjie, Ek sê vir jou: Staan op!’ 42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop. Sy was twaalf jaar oud. Hulle was stom van verbasing. 43Hy het hulle streng opdrag gegee dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat hulle vir haar iets te ete moes gee.