Levitikus 2
Graanoffers
1“ ‘Wanneer iemand vir die Here 'n •graanoffer bring, moet sy offer gesifte meel wees. Hy moet olyfolie daaroor gooi en wierook langsaan neersit. 2Hy moet dit dan na die seuns van Aäron, die priesters, bring, en 'n hand vol van die gesifte meel en olie met al die wierook neem en die priester moet hierdie simboliese offer op die altaar verbrand as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. 3Wat oorbly van die graanoffer kom Aäron en sy seuns toe. Dit is 'n besonder heilige deel van die offergawes aan die Here.
4“ ‘Wanneer jy 'n graanoffer bring wat in die oond gebak is, moet dit van gesifte meel wees; ongesuurde ringbrode wat met olyfolie gemeng is, of ongesuurde platbrode wat met olyfolie gesmeer is. 5As jou offer 'n graanoffer is wat van 'n bakplaat af kom, moet dit van gesifte meel wees, ongesuurd en met olyfolie gemeng. 6Breek dit in stukkies en gooi olyfolie daaroor, dan is dit 'n graanoffer.
7“ ‘As jou offer 'n graanoffer is wat uit 'n pan kom, moet dit met gesifte meel en olyfolie voorberei word. 8Jy moet die graanoffer wat op dié manier vir die Here voorberei is, bring. Dit moet na die priester geneem word en hy moet dit naderbring na die altaar. 9Die priester moet die simboliese offer van die graanoffer verwyder en dit op die altaar verbrand as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. 10Wat oorbly van die graanoffer, kom Aäron en sy seuns toe. Dit is 'n besonder heilige deel van die offergawes aan die Here.
11“ ‘Geen graanoffer wat julle vir die Here bring, mag met suurdeeg voorberei word nie. Ja, geen suurdeeg of heuning mag as offergawe aan die Here verbrand word nie. 12Julle mag dit as 'n offer van die eerstelinge vir die Here bring, maar op die altaar mag dit nie as 'n aangename geur geoffer word nie. 13Jy moet sout by al jou graanoffers byvoeg. Jy mag nie die sout van die verbond van jou God uit jou graanoffer weglaat nie. Daar moet sout wees by al jou offers wat jy bring.
14“ ‘As jy vir die Here 'n graanoffer van die eerste opbrengs van die oes bring, moet dit ryp are wees, gebreekte graankorrels van die nuwe oes wat oor die vuur gerooster is. Jy moet dit bring as jou graanoffer van die eerste opbrengs. 15Jy moet olyfolie daaroor gooi en wierook daarop neersit, dan is dit 'n graanoffer. 16Die priester moet die simboliese offer van die gebreekte graankorrels en olie, en ook al die wierook verbrand. Dit is 'n offergawe aan die Here.’ ”
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met hoofletters © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.