Stamme oos van die Jordaan
1Daarna het Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse geroep. 2Hy het vir hulle gesê: “Julle het alles wat Moses, die dienskneg van die Here, julle beveel het, nagekom, en julle het my ook gehoorsaam in alles wat ek julle beveel het. 3Alreeds vir 'n baie lang tyd, tot vandag toe, het julle nie julle broers in die steek gelaat nie. Julle het die verpligtinge van die Here julle God se opdrag nagekom. 4En nou het die Here julle God vir julle broers rus gegee, soos Hy hulle beloof het. Julle moet dan nou omdraai en na julle woonplekke gaan, na die land van julle erfgrond, wat Moses, die dienskneg van die Here, vir julle gegee het oorkant die Jordaan. 5Kom net die opdragte en die wet nougeset na wat Moses, die dienskneg van die Here, julle beveel het, naamlik om die Here julle God lief te hê, al sy paaie te volg, sy gebooie na te kom, aan Hom vas te hou, en Hom te dien met julle hele hart en julle hele wese.”
6Josua het hulle geseën en weggestuur, en hulle het na hulle woonplekke gegaan. 7Vir die halwe stam van Manasse het Moses grond in Basan gegee; en vir die ander helfte van die stam het Josua grond gegee by hulle broers, aan die ander kant, aan die westekant van die Jordaan.
Josua het ook, toe hy hulle na hulle woonplekke weggestuur en hulle geseën het, 8vir hulle gesê: “Keer terug na julle woonplekke met rykdom in oorvloed – met besonder baie vee, met silwer en goud, brons en yster en met 'n groot hoeveelheid klere. Deel die buit wat van julle vyande af kom met julle broers.”
9Die nageslag van Ruben en Gad, en die halwe stam van Manasse, het omgedraai en weggegaan van die Israeliete af, van Silo af wat in die land Kanaän is, om na die landstreek Gilead te gaan, na die streek van hulle erfgrond waar hulle hulle gevestig het op bevel van die Here by monde van Moses.
Twis oor die altaar
10Toe hulle by Gelilot kom, wat in die land Kanaän langs die Jordaan is, het die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse, daar langs die Jordaan 'n altaar gebou, 'n groot, indrukwekkende altaar. 11Die Israeliete het berig gekry: “Kyk, die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het 'n altaar gebou op die grondgebied van die land Kanaän, by Gelilot langs die Jordaan, aan die Israeliete se kant.”
12Toe die Israeliete dit hoor, het die hele volksvergadering van die Israeliete byeengekom by Silo om teen hulle op te trek vir die stryd. 13Die Israeliete stuur toe vir Pinehas, seun van die priester Eleasar, na die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in die Gileadstreek, 14en saam met hom tien leiers, een leier vir elke stamvader van al die stamme van Israel. Elkeen van hulle was 'n stamhoof van die leërafdelings van Israel. 15Hulle het by die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in die Gileadstreek aangekom, met hulle gepraat en gesê: 16“So sê die hele volksvergadering van die Here, ‘Wat is die bedoeling van hierdie troubreuk wat julle teen die God van Israel pleeg deur vandag van die Here af weg te draai? Met die bou van 'n altaar vir julleself is julle vandag in opstand teen die Here. 17Is die sonde by Peor, waarvan ons tot vandag toe onsself nog nie gereinig het nie, vir ons onbelangrik? Die plaag het dan teen die volksvergadering van die Here uitgebreek! 18Julle draai vandag weg van die Here af. As julle vandag in opstand teen die Here is, is Hy môre vertoornd vir die hele volksvergadering van Israel. 19As die land van julle erfgrond egter •onrein is, kom dan oor na die land van die Here se eiendom, waar die •tabernakel van die Here staan, en kry vir julle erfgrond tussen ons. Maar teen die Here moet julle nie in opstand kom nie, en teen ons moet julle ook nie in opstand kom deur vir julle 'n altaar te bou naas die altaar van die Here ons God nie. 20Het Agan, seun van Serag, nie troubreuk gepleeg met die bangoed, sodat die hele volksvergadering van Israel getref is deur 'n oordeel uit toorn nie? Hy was nie die enigste wat vir sy sondeskuld gesterf het nie.’ ”
21Die nageslag van Ruben en Gad, en die halwe stam van Manasse het daarop geantwoord. Hulle het vir die hoofde van die leërafdelings van Israel gesê: 22“Die God van die gode, die Here, die God van die gode, die Here, Hy weet, en Israel moet dit weet: As dit uit opstand of in troubreuk teen die Here was, moet u ons vandag nie spaar nie. 23As dit was om vir ons 'n altaar te bou om van die Here af weg te draai, en om •brandoffers en •graanoffers daarop te offer, of om •maaltydoffers daarop te bring – die Here, Hy sal rekenskap eis. 24Ons sweer dit is uit besorgdheid oor die saak dat ons dit gedoen het. Ons het gedink, in die toekoms sal julle kinders vir ons kinders sê, ‘Wat het julle met die Here, die God van Israel, te doen? 25As 'n grens het die Here tussen ons en julle, nakomelinge van Ruben en Gad, die Jordaan daargestel. Julle het geen deel aan die Here nie.’ Julle kinders sal ons kinders laat ophou om vir die Here ontsag te hê. 26Ons het toe so gedink: Laat ons iets vir onsself doen deur die altaar te bou, nie vir brandoffers en slagoffers nie, 27maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte ná ons, om nog die diens van die Here in sy teenwoordigheid te kan verrig met ons brandoffers, slagoffers en maaltydoffers. Julle kinders sal dan nie in die toekoms vir ons kinders kan sê, ‘Julle het geen deel aan die Here nie.’ 28Ons het gedink: As hulle dit in die toekoms vir ons en ons nageslag sou sê, sal ons antwoord, ‘Kyk na die weergawe van die altaar van die Here wat ons voorouers gemaak het – nie vir brandoffers nie, en nie vir slagoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’ 29Nooit sal ons teen die Here in opstand kom nie – deur vandag van die Here af weg te draai, deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en maaltydoffers, naas die altaar van die Here ons God wat voor sy tabernakel is nie.”
30Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die hoofde van die leërafdelings van Israel wat by hom was, die verduideliking hoor wat die nageslag van Ruben, Gad en Manasse gee, het hulle dit goedgevind. 31Toe sê Pinehas, seun van die priester Eleasar, vir die nageslag van Ruben, Gad en Manasse: “Vandag weet ons dat die Here in ons midde is, dat julle nie hierdie troubreuk teen die Here gepleeg het nie. Julle het dan ook die Israeliete gered uit die hand van die Here.”
32Pinehas, seun van die priester Eleasar, en die leiers het teruggekeer van die nageslag van Ruben en Gad, van die Gileadstreek af na die land Kanaän, na die Israeliete, en aan hulle verslag gelewer. 33Die verslag het byval gevind by die Israeliete, en hulle het God geprys. Daar was nie meer sprake daarvan om teen hulle op te trek vir die stryd en die land waar die nageslag van Ruben en Gad woon, te verwoes nie. 34Die nageslag van Ruben en Gad het vir die altaar 'n naam gegee: “Dit is 'n getuie tussen ons dat die Here God is.”