Job se antwoord op Elifas se eerste betoog
1Job het hierop gereageer en gesê:
2“As my leed maar net geweeg kon word,
my rampspoed daarmee saam
op 'n weegskaal geplaas kon word,
3want dan sou dit swaarder wees
as die sand van die oseane.
Daarom is my woorde ondeurdag.
4Ja, die pyle van die Almagtige
is in my,
sodat my gees die gif daarvan drink.
Die verskrikkinge van God
neem teen my stelling in.
5Balk 'n wilde donkie by groen gras,
of bulk 'n bees by sy voer?
6Word smaaklose kos
sonder sout geëet,
of is daar smaak in die slym
van heemswortel?
7My keel wil dit nie afsluk nie.
Ek het 'n afkeer daarvan,
asof dit onrein kos vir my is.
8“Ag, as my wens tog maar vervul word!
Mag God dit gee waarvoor ek hoop –
9dat God bereid sal wees
om my te verpletter!
Mag Hy sy hand loslaat
en my van die lewe afsny!
10Dit sal vir my weer
vertroosting bring;
ondanks die pyn
sal ek opspring van vreugde.
Hy mag nie deernis betoon nie,
want ek het die woorde
van die Heilige nie verberg nie.
11Hoeveel krag het ek oor,
dat ek sou wag?
Wat is my einddoel,
dat ek my lewe sou wou verleng?
12Is my krag die krag van klippe?
Of is my liggaam van brons?
13Is dit nie so dat ek myself
nie kan help nie,
dat my vindingrykheid
van my weggedryf is nie?
14“Iemand wat in wanhoop verkeer,
kan reken op die troue liefde van sy vriend,
selfs al gee hy ontsag
vir die Almagtige prys.
15Maar my metgeselle is so bedrieglik
soos 'n nie-standhoudende spruit,
soos die beddings van spruite wat wegvloei –
16hulle is troebel van ys;
sneeu is in hulle weggesteek.
17Met die tyd droog hulle op,
hulle sypel weg.
Wanneer dit warm word,
verdwyn hulle
van waar hulle was,
18hulle tas na die roetes
wat hulle moet volg;
hulle loop hulle vas
in onherbergsaamheid
en gaan tot niet.
19Karavane van Tema is op die uitkyk,
reisigers van Skeba wag vir hulle,
20maar staan beskaamd,
want hulle het gehoop
dat hulle water sou kry;
hulle het tot daar gekom,
maar staan verleë.
21“Ja, nou het julle so geword –
julle sien 'n verskrikking
en raak vreesbevange.
22Het ek dalk gesê,
‘Gee my iets!
Gee volgens julle vermoë
vir my 'n geskenk!
23Bevry my uit die hand van teenstanders!
Uit die hand van geweldenaars
moet julle my vrykoop!’?
24“Onderrig my, ek sal stilbly;
wat ek verkeerd gedoen het,
verduidelik dit vir my!
25Hoe kan opregte woorde
krenkend wees?
En hoe kan 'n teregwysing van julle kant af
hoegenaamd teregwys?
26Beplan julle om met woorde
tereg te wys,
maar die woorde van 'n wanhopige
beskou julle bloot as wind?
27Selfs oor 'n vaderlose kind
sal julle die lot werp,
en julle vriend verhandel.
28Wees dan nou bereid om na my te kyk.
Ek sal beslis nie in julle gesigte lieg nie.
29Draai tog om!
Laat daar nie onreg wees nie!
Draai om!
Ek het steeds die reg aan my kant,
ondanks die onreg.
30Is daar op my tong enige onreg?
Of kan my verhemelte
nie rampspoed eien nie?