Job se eerste klag
1Daarna het Job sy mond oopgemaak en sy geboortedag vervloek. 2Job het toe begin praat en gesê:
3“Mag die dag waarop ek gebore is, vergaan,
en die nag wat gesê het,
‘'n Seun is verwek.’
4Daardie dag –
mag dit donker wees;
mag God daar bo
nie daarna vra nie,
mag 'n ligglans
nie daaroor skyn nie.
5Mag donker, ja, stikdonkerte dit opeis,
mag wolke daarop toesak;
mag 'n verduistering van die dag dit verskrik.
6Daardie nag –
mag 'n diepe duisternis
dit in besit neem;
mag dit nie verskyn
onder die dae van 'n jaar nie,
nie in die getal van die maande
voorkom nie.
7Juis daardie nag –
mag dit onvrugbaar wees,
mag uitroepe van vreugde
nie daarin opklink nie.
8Mag hulle wat dae vervloek,
dit verdoem,
hulle wat die kuns verstaan
om Leviatan wakker te maak.
9Mag die sterre van dié dag se oggendskemering verduister,
mag dit wag op lig,
en daar is niks nie;
mag dit die wimpers
van die dagbreek nie sien nie,
10omdat dit die deure van my moeder se skoot
nie gesluit het nie,
nie teenspoed vir my oë
verberg het nie.
11“Waarom is ek nie dood by geboorte nie?
Waarom het ek nie gesterf
toe ek uit die moederskoot gekom het nie?
12Hoekom het knieë my ontvang;
hoekom was daar borste,
dat ek kon drink?
13Ja, anders sou ek nou kon lê en in vrede rus,
ek sou kon slaap.
Daar sou vir my rus wees
14by konings en die raadsmanne van die wêreld,
dié wat vir hulleself puinhope herbou het,
15of by •hoë amptenare wat goud besit het,
wat hulle huise met silwer gevul het.
16Of soos 'n weggesteekte misgeboorte,
sou ek nie bestaan het nie,
soos kinders wat nie die lig gesien het nie.
17Daar hou goddeloses op met die gewerskaf;
daar vind dié wie se kragte uitgeput is, rus.
18Gevangenes is saam kommervry,
hulle hoor nie meer die stem
van die slawedrywer nie.
19Klein en groot is daar,
die slaaf is vry van sy baas.
20“Waarom gee God die lig
aan iemand wat hom moet afsloof?
Waarom gee Hy die lewe
aan mense met verbitterde siele,
21wat wag vir die dood,
maar dit kom nie;
hulle wat dieper daarna delf
as na verborge skatte;
22hulle wat van vreugde juig,
wat hulle verheug
wanneer hulle die graf vind.
23Waarom gee Hy die lewe
aan 'n man wie se pad verborge is,
vir wie God aan alle kante afgesper het?
24Ja, nog voor my brood,
daag my gesug op;
my geskreeu stroom soos water.
25As ek vrees vir 'n verskrikking,
dan kom dit my oor;
dit waarvoor ek bang is, oorval my.
26Ek kan nie rus vind nie,
nie tot rus kom nie;
ek kry geen verposing nie.
Die onrus daag telkens op.”