1Die Here het vir my gesê: “Al sou Moses en Samuel voor My staan, sou Ek niks vir hierdie volk voel nie. Stuur hulle weg uit my teenwoordigheid; laat hulle gaan! 2En as hulle vir jou vra, ‘Waarheen moet ons gaan?’ moet jy vir hulle sê, ‘So sê die Here:
“Wie vir die dood bestem is,
na die dood,
wie vir die swaard bestem is,
na die swaard,
wie vir hongersnood bestem is,
na die hongersnood,
en wie vir die ballingskap bestem is,
na die ballingskap!” ’
3“Ek sal vier soorte vernietigers teen hulle opkommandeer,” is die uitspraak van die Here, “die swaard om dood te maak, honde om weg te sleep, die voëls van die hemel en die diere van die aarde om te verslind en te verdelg. 4Ek sal van hulle 'n skrikwekkende voorbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde vanweë Manasse, die seun van Hiskia, die koning van Juda – oor dit wat hy in Jerusalem gedoen het.”
5“Ja, wie sal hom
oor jou ontferm, Jerusalem?
Wie sal met jou meegevoel hê?
Wie sal afdraai om te vra
hoe dit met jou gaan?
6Jy is die een wat My versaak het,”
is die uitspraak van die Here.
“Jy het My die rug toegekeer.
Toe het Ek my hand teen jou
uitgesteek en jou vernietig.
Ek was moeg daarvoor om jammer te kry.
7Ek het hulle met 'n hooivurk uitgewan
in die poorte van die land.
Ek het my volk kinderloos gemaak,
hulle tot niet gemaak.
Maar van hulle paaie
draai hulle nie terug nie.
8My volk se weduwees is meer
as die sand van die oseane.
Ek bring oor my volk,
oor die moeder van jong manne,
'n verwoester op die middaguur.
Ek laat ontsteltenis, 'n verskriklike
lot, haar onverwags oorval.
9Sy wat sewe in die wêreld gebring het,
sal wegkwyn,
sy sal na haar asem snak.
Haar son sal ondergaan
terwyl dit nog dag is;
sy sal beskaamd staan, verleë wees.
Wat van hulle oorbly,
sal Ek aan die swaard oorgee
voor hulle vyande,”
is die uitspraak van die Here.
Jeremia se klagte oor sy lewenslot
10Wee my! Ag, my moeder,
dat u my in die wêreld gebring het –
'n man wat aankla en stryd voer
met die hele land!
Ek het nie uitgeleen nie,
en hulle het nie aan my geleen nie,
maar almal vervloek my.
11Die Here het gesê:
“Waarlik,
Ek sal jou onversetlik maak tot jou beswil;
waarlik, Ek sal vir jou by die vyand
intree in tye van onheil en nood.
12Kan iemand yster breek,
yster uit die noorde, of koper?
13“Jou rykdom en skatte
sal Ek as buit gee, nie vir geld nie,
maar as die prys vir al jou sondes,
en as die prys vir jou hele grondgebied.
14Ek sal jou 'n slaaf maak
van jou vyande
in 'n land wat jy nie ken nie;
want 'n vuur, aangesteek in my toorn,
sal telkens teen julle opvlam.”
15U weet dit self, Here.
Dink aan my, sien om na my,
wreek my op my vervolgers.
Moet my nie wegneem ter wille van
u geduld met ander nie.
Besef tog dat ek oor U bespotting
moet verduur.
16Toe u woorde gevind is,
het ek hulle verslind.
U woorde was vir my 'n vreugde,
'n genot vir my hart.
U Naam is immers oor my uitgeroep,
Here, God van alle magte!
17Ek het nie in die kring
van uitbundiges gesit nie,
en ek was nie uitgelate nie.
Vanweë u hand het ek alleen gesit,
want U het my
met u verontwaardiging gevul.
18Waarom is my pyn onophoudelik?
Waarom is my wond ongeneeslik,
wil dit nie gesond word nie?
U het inderdaad vir my geword
soos 'n bedrieglike stroom water
wat nie standhoudend is nie.
19Daarom, so sê die Here:
“As jy jou bekeer,
en Ek jou toelaat om jou te bekeer,
sal jy in my diens staan.
As jy woorde wat waardevol is, uitspreek,
en nie wat waardeloos is nie,
sal jy weer my segsman wees.
Hulle moet na jou terugkeer –
jy moet nie na hulle terugkeer nie.
20Ek sal jou vir hierdie volk
'n versterkte stadsmuur van koper maak.
Hulle sal teen jou veg,
maar nie die oorhand oor jou kry nie;
want Ek is met jou
om jou te verlos en jou te red,”
is die uitspraak van die Here.
21“Ek sal jou red uit die hand
van slegte mense,
jou bevry uit die greep
van geweldenaars.”