1Die •Engel van die Here het van Gilgal af opgegaan na Bogim en gesê: “Toe Ek julle uit Egipte laat optrek het en julle gebring het na die land wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders beloof het, het Ek gesê, ‘Ek sal nooit my verbond met julle verbreek nie, 2maar julle mag nie 'n verdrag sluit met die inwoners van hierdie land nie. Hulle altare moet julle afbreek.’ Maar julle het nie na my stem geluister nie. Waarom het julle so opgetree? 3En Ek sê ook vir julle, ‘Ek sal hulle nie voor julle uitdryf nie. Hulle gaan vir julle strikke word en hulle gode sal vir julle 'n valstrik word.’ ”
4Nadat die Engel van die Here hierdie woorde vir al die Israeliete gesê het, het die volk hardop gehuil. 5Hulle het daardie plek toe Bogim genoem, en daar vir die Here offers geslag.
Dood van Josua
6Josua het die volk weggestuur, en die Israeliete het elkeen na sy erfdeel gegaan om die land in besit te neem. 7Die volk het die Here gedien gedurende Josua se leeftyd, en ook gedurende die leeftyd van die oudstes wat lank ná Josua nog geleef het, hulle wat al die groot dade van die Here gesien het wat Hy vir Israel gedoen het. 8Josua, seun van Nun, die dienskneg van die Here het op die ouderdom van honderd-en-tien jaar gesterf. 9Hulle het hom begrawe in die gebied van sy erfdeel in Timnat-Geres, wat in die heuwelland van Efraim geleë is, noord van die berg Gaäs.
Ontrou van Israel
10Nadat ook daardie hele geslag met hulle voorouers verenig is, het daar 'n ander geslag ná hulle opgestaan wat nie die Here geken het, en ook nie die dade wat Hy vir Israel gedoen het nie. 11Die Israeliete het toe gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here; hulle het die Baäls gedien. 12Hulle het die Here, die God van hulle voorouers, wat hulle uit Egipteland laat wegtrek het, verlaat, en agter ander gode aangeloop, van die gode van die volke wat rondom hulle was. Hulle het voor hulle in aanbidding neergebuig en die Here uitgetart. 13Hulle het die Here verlaat en Baäl en die Astartes gedien. 14Die toorn van die Here het teen Israel ontbrand. Hy het hulle oorgelewer in die hand van plunderaars, en dié het hulle geplunder. Hy het hulle oorgelewer in die hand van hulle vyande rondom hulle. Hulle kon nie meer standhou voor hulle vyande nie. 15In al die veldtogte wat hulle onderneem het, was die hand van die Here teen hulle, ten kwade, net soos die Here gesê het, ja, net soos die Here vir hulle gesweer het.
Maar wanneer die nood vir hulle op sy hoogste was, 16het die Here rigters laat opstaan. Hulle het die volk dan verlos uit die hand van dié wat hulle geplunder het. 17Ook na hulle rigters het hulle nie geluister nie, want hulle het agter ander gode aan gehoereer en voor hulle in aanbidding gebuig. Hulle het gou afgewyk van die pad wat hulle voorouers gevolg het in gehoorsaamheid aan die Here se gebooie. Hulle het nie so opgetree nie.
18Wanneer die Here vir hulle rigters laat opstaan het, was die Here met die rigter, en het Hy hulle verlos uit die hand van hulle vyande solank die rigter geleef het. Die Here het hulle immers jammer gekry vanweë hulle gekreun oor dié wat hulle verdruk en onderdruk het. 19Maar wanneer die rigter sterf, het hulle nog meer ontaard as hulle ouers deur agter ander gode aan te loop, hulle te dien en voor hulle in aanbidding te buig. Hulle het nie enige van hulle dade en hardnekkige optrede laat vaar nie.
20Dan het die toorn van die Here teen Israel ontbrand, en Hy het gesê: “Omdat hierdie nasie my verbond wat Ek hulle voorvaders opgelê het, oortree het, en nie na my stem geluister het nie, 21sal Ek ook nie voortgaan om enigiemand voor hulle te verdryf nie – nie enige van die nasies wat Josua laat oorbly het toe hy dood is nie – 22om Israel sodoende deur hulle te toets: Gaan hulle by die Here se paaie hou deur daarop te loop soos hulle voorouers daarby gehou het, of nie?”
23Daarom het die Here daardie nasies met rus gelaat deur hulle nie dadelik te verdryf nie. Hy het hulle ook nie in Josua se hand oorgegee nie.