3Ester het weer met 'n versoek na die koning gegaan. Sy het voor sy voete neergeval en gehuil en hom gesmeek om die onheil af te weer wat Haman, die Agagiet, teen die Jode beplan het. 4Die koning het die goue septer na Ester uitgesteek. Sy het opgestaan en voor die koning gaan staan 5en gesê: “As die koning dit goedkeur, en as ek sy guns geniet, as die saak vir die koning aanvaarbaar is, en as die koning my goedgesind is, gee skriftelik opdrag dat die dokumente met die plan van Haman, seun van Hammedata, die Agagiet, om die Jode uit te delg wat in al die provinsies van die koning is, herroep word. 6Want hoe sal ek dit kan verduur om toe te kyk hoe my volk deur so 'n ramp getref word? En hoe sal ek dit kan verduur om toe te kyk hoe my familie uitgewis word?” 7Koning Ahasveros het vir koningin Ester en vir Mordegai, die Jood, gesê: “Kyk, Haman se besittings het ek vir Ester gegee en vir hom het hulle gehang aan die paal, omdat hy die Jode wou uitmoor. 8Skryf julle nou na goeddunke in die naam van die koning aan die Jode en verseël dit met die seëlring van die koning, want 'n dokument wat geskryf is in die naam van die koning en verseël is met die seëlring van die koning kan nie herroep word nie.” 9Die skrywers van die koning is dadelik ontbied, in die derde maand, die maand Siwan, op die drie-en-twintigste dag. Net soos Mordegai beveel het, het hulle alles neergeskryf vir die Jode, die satrape, die •streekgoewerneurs en die •hoë amptenare van die provinsies, vanaf Indië tot by Kus, 127 provinsies. Dit is geskryf in die skrif van elke provinsie en in die taal van elke volk, ook aan die Jode in hulle skrif en hulle taal. 10Mordegai het in die naam van koning Ahasveros geskryf en die dokumente verseël met die koning se seëlring. Dit is uitgestuur met boodskappers te perd, ruiters op vinnige perde uit die koninklike stal. 11Die koninklike bevel het aan die Jode in elke stad en dorp die reg gegee om bymekaar te kom en hulleself te verdedig. Enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle aanval, kon hulle verdelg, doodmaak en uitroei – vrou en kind – en hulle vyande se eiendom plunder. 12Dit alles kon op een bepaalde dag in al die provinsies van koning Ahasveros gedoen word, op die dertiende dag van die twaalfde maand, die •maand Adar. 13'n Afskrif van die dokument moes as wet in elke provinsie in die openbaar afgekondig word aan alle volke, sodat die Judeërs op hierdie dag gereed kon wees om wraak te neem op hulle vyande. 14Die boodskappers, ruiters op vinnige perde uit die koninklike stal, het haastig vertrek volgens die koninklike bevel. Die wet is ook afgekondig in die vestingstad Susan. 15Mordegai het van die koning weggegaan, geklee in 'n koninklike kleed van pers wolstof en linne, 'n groot kroon van goud en 'n mantel van fyn, wit materiaal en purperrooi wol. En die stad Susan het gejubel en gejuig. 16Vir die Judeërs was dit 'n tyd van lig en vreugde, vrolikheid en eer. 17In elke provinsie en in elke stad, elke plek waar die woord en wet van die koning bekend geword het, was daar vreugde en vrolikheid onder die Jode, maaltye en feesdae. Baie mense uit die volke van die land het hulle as Jode voorgedoen omdat die vrees vir die Jode hulle oorval het.