Verowering van die gebied oos van die Jordaan
1“Daarna het ons weggedraai en na die woestyn getrek in die rigting van die Rietsee soos wat die Here vir my gesê het. Nadat ons 'n lang tyd om die Seïrberge getrek het, 2het die Here vir my gesê, 3‘Julle het lank genoeg om hierdie berge getrek. Draai nou noord, 4maar gee eers aan die mense opdrag: “Julle gaan nou trek deur die gebied van julle broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon. Hulle sal vir julle bang wees, maar wees baie versigtig. 5Sorg dat julle nie met hulle in 'n stryd gewikkel raak nie, want Ek gee julle nie 'n voetbreedte van hulle land nie. Ek het immers die Seïrberge vir Esau gegee as sy eiendom. 6Die kos wat julle gaan eet, moet julle by hulle koop met silwer. Selfs die water wat julle gaan drink, moet julle by hulle ruil vir silwer.” ’
7“Die Here julle God het julle immers geseën in alles wat julle gedoen het. Hy het julle versorg op julle trek deur hierdie groot woestyn. Hierdie veertig jaar wat die Here julle God by julle was, het julle geen gebrek gely nie.
8“Ons het by ons broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon, verbygetrek deur nie die pad te volg wat van Elat en Es-jon-Geber af deur die Araba loop nie. Ons het weggedraai en met die pad na die Moabwoestyn getrek. 9Die Here het toe vir my gesê, ‘Moenie Moab aanval nie en sorg dat julle nie met hulle in 'n geveg betrokke raak nie, want Ek gee julle nie 'n deel van hulle land as eiendom nie. Ja, vir die nageslag van Lot het Ek Ar as eiendom gegee.’ ”
10Die Emiete het vroeër daar gewoon. Hulle was 'n magtige volk, talryk en net so lank soos die Enakiete. 11Soos die Enakiete, word hulle ook tot die Refaïete gereken. Die Moabiete noem hulle Emiete. 12Die Goriete het vroeër in Seïr gewoon, maar die nageslag van Esau het hulle daar uitgedryf en uitgedelg oral waar hulle gekom het. Hulle het in hulle gebied gaan woon, net soos die Israeliete later gemaak het met die land wat die Here vir hulle as hulle eiendom gegee het.
13“Die Here het verder gesê, ‘Maak nou gereed en trek deur die Sered-dal.’ Ons het toe deur die Sered-dal getrek. 14Die tyd wat dit geneem het vandat ons van Kades-Barnea af weggetrek het totdat ons deur die Sered-dal getrek het, was agt-en-dertig jaar. Toe was daar nie meer een van daardie hele geslag krygsmanne in die kamp oor nie. Dit het gebeur soos die Here dit vir hulle met 'n eed bevestig het. 15Die hand van die Here was inderdaad teen hulle om hulle in verwarring uit die kamp te dryf tot daar nie een oor was nie.
16“Toe al die krygsmanne dood was en daar nie meer een onder die volk oor was nie, 17het die Here vir my gesê, 18‘Julle gaan vandag by Ar, die grondgebied van Moab, verbytrek 19en in die omgewing van die Ammoniete kom. Moenie hulle aanval nie en sorg dat julle nie met hulle in 'n stryd gewikkel raak nie, want Ek gee nie vir julle enige eiendom in die Ammoniete se land nie. Ek het dit immers vir die nageslag van Lot as eiendom gegee.’ ”
20Dit word ook as die land van die Refaïete beskou. Hulle het vroeër daar gewoon. Die Ammoniete noem hulle Samsummiete. 21Hulle was 'n magtige volk, talryk en net so lank soos die Enakiete. Die Here het hulle voor die Ammoniete uitgedelg sodat die Ammoniete hulle kon verdryf en in hulle gebied kon gaan woon. 22Die Here het dieselfde gedoen vir die nageslag van Esau wat in Seïr woon: Hy het die Goriete voor hulle uitgedelg, sodat hulle die Goriete kon verdryf en in hulle plek kon gaan woon; dit is vandag nog so. 23Dit het ook met die Awwiete gebeur wat in dorpies in die omgewing van Gasa gewoon het: Die Kaftorane wat van Kaftor af gekom het, het hulle uitgedelg en in hulle gebied gaan woon.
24“Die Here het verder gesê, ‘Maak julle gereed, trek verder en gaan deur die Arnondal. Kyk, Ek gee Sihon, die Amoritiese koning van Gesbon, en sy land in julle hand. Begin dan, beset die land en maak oorlog teen hulle. 25Van vandag af sal Ek sorg dat julle vrees inboesem by elke volk onder die son, en dat hulle vir julle ontsag het. Wanneer hulle die gerug oor julle hoor, sal hulle aan die bewe gaan en ineenkrimp van angs vir julle.’
26“Ek, Moses, het toe van die weiveld by Kedemot af boodskappers gestuur na Sihon, die koning van Gesbon, met die volgende vredesboodskap, 27‘Ek wil deur u land trek. Ek sal net op die pad bly en nie na links of regs uitdraai nie. 28Kos kan jy vir silwer aan my verkoop sodat ek kan eet, en water kan jy ook vir silwer aan my lewer sodat ek kan drink. Ek wil net te voet deurtrek, 29soos die nageslag van Esau wat in Seïr woon en die Ammoniete wat in Ar woon, my toegelaat het, totdat ek deur die Jordaan kan trek na die land wat die Here ons God vir ons gaan gee.’
30“Maar Sihon, die koning van Gesbon, wou nie dat ons by hom verbytrek nie, want die Here julle God het sy gees verhard en hom koppig gemaak sodat Hy hom in julle hand kon gee, soos dit vandag is. 31Die Here het toe vir my gesê, ‘Kyk, Ek is reeds besig om Sihon en sy land aan julle te gee. Begin dan, dryf hulle uit sodat julle sy land in besit kan neem.’
32“Daarop het Sihon teen ons opgetrek, hy en al sy manskappe, om teen ons oorlog te maak by Jahas. 33Maar die Here ons God het hom aan ons oorgegee, en ons het hom en sy seuns en al sy manskappe verslaan. 34In daardie tyd het ons al sy stede ingeneem en in elke stad die mans, vroue en kinders met die banvloek getref. Ons het niemand laat vrykom nie. 35Slegs die diere het ons vir onsself uitgehou, asook die oorlogsbuit van die stede wat ons ingeneem het. 36Van Aroër af, wat op die rand van die Arnondal lê, ja, vanaf die stad wat in die dal is tot by Gilead, was daar nie 'n vesting wat vir ons te sterk was nie. Elke enkele een het die Here ons God aan ons oorgegee. 37Net na die land van die Ammoniete het julle nie gegaan nie. Dit is die hele gebied aan die kant van die Jabbokdal, asook die stede in die bergland. En dit is alles wat die Here ons God beveel het.