Hernuwing van die verbond
1“In daardie tyd het die Here vir my gesê, ‘Kap vir jou twee kliptafels uit, soos die eerstes, en klim teen die berg op na My toe. Maak ook vir jou 'n houtkis. 2Ek sal op die tafels die woorde skryf wat op die eerste tafels was, dié wat jy aan stukke gebreek het. Jy moet dit dan in die kis sit.’
3“Ek het toe 'n kis van doringhout gemaak en twee kliptafels soos die eerstes uitgekap. Daarna het ek teen die berg opgegaan met die twee tafels by my. 4Die Here het toe op die tafels, met dieselfde skrif as die vorige, die Tien Gebooie geskryf wat Hy op die berg uit die vuur vir julle aangekondig het, die dag van die byeenkoms. Die Here het dit vir my gegee 5en ek het omgedraai en van die berg afgegaan. Ek het die tafels in die ark wat ek gemaak het, gesit; en daar het dit gebly soos die Here my beveel het.”
6Die Israeliete het weggetrek van die putte by Bene-Jaäkan en was op pad na Moserot. Daar is Aäron oorlede. Hy is ook daar begrawe en sy seun Eleasar het in sy plek priester geword. 7Van daar het hulle na Gudgod getrek en van Gudgod na Jotbat, 'n gebied met waterryke dale. 8In daardie tyd het die Here die stam van Levi afgesonder om die verbondsark van die Here te dra, om in diens te staan van die Here, om aan Hom diens te lewer en in sy Naam seën uit te spreek; dit is vandag nog so. 9Daarom het die Leviete nie 'n aandeel of erfenis saam met hulle volksgenote nie. Die Here, Hy is hulle erfdeel, soos wat die Here jou God vir hulle gesê het.
10“Ek self het soos die eerste keer veertig dae en nagte lank op die berg gereed gestaan. Die Here het ook hierdie keer na my geluister. Die Here wou julle nie vernietig nie. 11Die Here het vir my gesê, ‘Maak jou gereed om voor die volk uit verder te trek, sodat hulle die land kan ingaan en dit in besit neem, die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee.’ ”
Voorwaardes vir 'n gelukkige lewe
12“Daarom dan, Israel, wat anders vra die Here jou God van jou as om vir die Here jou God ontsag te hê, om al sy paaie te volg, om Hom lief te hê en die Here jou God te dien met hart en siel, 13om die gebooie van die Here en sy vaste voorskrifte na te kom wat ek vandag vir jou voorskryf, sodat dit met jou goed kan gaan? 14Kyk, aan die Here jou God behoort die hemelruim, ook die hoogste hemele, die aarde en alles wat daarop is. 15Slegs aan julle voorouers het die Here Hom verbind om hulle lief te hê. En Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, gekies uit al die volke soos dit vandag is. 16Besny die voorhuid van julle harte en moenie langer hardnekkig wees nie. 17Die Here is immers julle God; Hy is die God van die gode en die Heer van die here; die groot, die magtige, die ontsagwekkende God wat onpartydig is en geen omkoopgeskenk aanvaar nie, 18wat vaderloses en weduwees se regte handhaaf en aan •vreemdelinge liefde betoon deur aan hulle kos en klere te gee. 19Julle moet vreemdelinge liefhê, want julle was self vreemdelinge in Egipteland.
20“Vir die Here jou God moet jy ontsag hê – Hom moet jy dien, aan Hom moet jy vashou en slegs in sy Naam moet jy sweer. 21Hy is die Een wat jy moet loof en Hy is jou God wat aan jou hierdie groot en ontsagwekkende dade gedoen het wat jy met jou eie oë gesien het. 22Met net sewentig persone het jou voorouers na Egipte afgegaan; maar nou het die Here jou God jou so talryk gemaak soos die sterre aan die hemelruim.”