Stefanus se toespraak
1Die hoëpriester het toe gevra: “Is dit regtig so?” 2En Stefanus het geantwoord: “Broers en vaders, luister! Die God van heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotamië was, nog voordat hy hom in Haran gevestig het, 3en vir hom gesê, ‘Verlaat jou land en jou familie, en gaan na die land wat Ek jou sal wys.’ 4Toe het hy die land van die Galdeërs verlaat en hom in Haran gaan vestig, en daarvandaan het Hy hom, ná sy vader se dood, na hierdie land laat verhuis waarin julle nou woon. 5Hy het nie vir hom 'n erfdeel daarin gegee nie, nie eers 'n voetbreedte nie; maar Hy het beloof ‘om dit as besitting te gee aan hom en sy nageslag ná hom’, al het hy toe nog nie 'n kind gehad nie. 6God het dit so gestel, ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort, en die inwoners sal hulle slawe maak en vierhonderd jaar lank laat swaarkry. 7Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou,’ het God gesê, ‘en daarna sal hulle uitgaan en My op hierdie plek dien’. 8En Hy het met hom die verbond van besnydenis gesluit; en so het hy Isak verwek en hom op die agtste dag besny, en so ook Isak vir Jakob, en Jakob die twaalf stamvaders.
9“En omdat die stamvaders op Josef afgunstig was, het hulle hom verkoop om na Egipte geneem te word. Maar God was met hom, 10en het hom uit al sy beproewings gered, en aan hom guns en wysheid in die oë van die farao, die koning van Egipte, geskenk, en hy het hom as bestuurder oor Egipte en oor sy hele huishouding aangestel. 11Toe het daar hongersnood en groot ellende oor die hele Egipte en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen kos kry nie. 12Maar toe Jakob hoor dat daar graan in Egipte is, het hy ons vaders die eerste keer daarheen gestuur. 13Met die tweede besoek het Josef hom aan sy broers bekend gemaak, en sy herkoms het ook aan die farao bekend geraak. 14Josef het toe mense gestuur en sy vader Jakob laat haal, en ook die hele familie van vyf-en-sewentig mense. 15Jakob het na Egipte afgegaan en daar gesterf, hy en ons vaders, 16en hulle is na Sigem gebring en neergelê in die graf wat Abraham met 'n bedrag silwer by die seuns van Hemor in Sigem gekoop het.
17“Maar namate die tyd van die belofte nader gekom het wat God aan Abraham gemaak het, het die volk in Egipte in getal toegeneem en vermeerder, 18totdat daar 'n ander koning oor Egipte aan bewind gekom het wat nie van Josef geweet het nie. 19Hy het ons volk uitgebuit, en ons vaders wreed gedwing om hulle babas buite neer te sit, sodat hulle nie sou oorleef nie. 20In dié tyd is Moses gebore, en hy was uitsonderlik mooi in God se oë. Hy is drie maande lank in sy vader se huis versorg. 21Toe hy daarna buite neergesit is, het die farao se dogter hom aangeneem en hom as haar eie seun laat versorg. 22Moses is ook in al die wysheid van die Egiptenare opgelei, en was vaardig in woord en daad.
23“Maar toe hy veertig jaar oud was, het die begeerte in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, op te soek. 24En toe hy sien hoe iemand aangerand word, het hy hom te hulp gesnel, en oor die man wat mishandel is, wraak geneem deur die Egiptenaar dood te slaan. 25Hy het gedink sy broers sou begryp dat God vir hulle deur sy hand redding sou bring, maar hulle het dit nie begryp nie. 26Die volgende dag het hy op twee afgekom juis terwyl hulle baklei, en hy het vrede tussen hulle probeer maak deur te sê, ‘Manne, julle is broers. Waarom doen julle mekaar kwaad aan?’ 27Maar die een wat sy volksgenoot kwaad aangedoen het, het hom weggestamp en gesê, ‘Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? 28Wil jy my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het?’ 29Toe Moses hierdie woorde hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in die land Midian geword, waar hy twee seuns verwek het.
30“Ná veertig jaar het 'n engel aan hom in die woestyn van die Sinaigebergte verskyn, in die vlam van 'n brandende doringbos. 31Toe Moses dit sien, het hy hom oor die visioen verwonder; en toe hy nader gaan om dit te bekyk, het die stem van die Here gesê, 32‘Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en Isak en Jakob.’ En Moses het begin bewe en nie gewaag om daarna te kyk nie. 33Toe sê die Here vir hom, ‘Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. 34Ek het duidelik die mishandeling van my volk in Egipte gesien en hulle jammerklag gehoor; daarom het ek neergedaal om hulle te red. En nou, kom nader, Ek wil jou na Egipte stuur.’ 35Hierdie Moses, vir wie hulle verwerp het toe hulle gesê het, ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ – hom het God as leier en bevryder gestuur deur die hand van 'n engel wat aan hom in die doringbos verskyn het. 36Dit was hy wat hulle uitgelei het en wonders en tekens in Egipte en by die Rooisee en in die woestyn gedoen het, veertig jaar lank. 37Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het, ‘God sal vir julle 'n profeet net soos ek uit julle broers laat opstaan.’ 38Dit is hy wat in die volksvergadering in die woestyn saam met die Engel, wat met hom op die berg Sinai gepraat het, en saam met ons vaders was – hý het lewende woorde ontvang om aan ons te gee. 39Dit is aan hom wat ons vaders nie gehoorsaam wou wees nie. Hulle het hom verwerp en in hulle harte na Egipte teruggedraai 40toe hulle vir Aäron gesê het, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit die land Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’ 41Toe het hulle in daardie dae 'n beeld van 'n kalf gemaak, en aan dié afgodsbeeld 'n offer gebring en hulle oor hulle handewerk verheug. 42Maar God het Hom van hulle weggekeer en hulle daaraan uitgelewer om die leërskare hemelliggame te aanbid, soos daar geskryf staan in die profete:
“ ‘Het julle ooit vir My slagoffers
en ander offers gebring
gedurende die veertig jaar
in die woestyn, huis van Israel?
43Nee, julle het die tent van Moleg saamgedra,
en die ster van julle god Refan,
beelde wat julle gemaak het om te aanbid.
Daarom sal Ek julle tot anderkant Babilon laat wegvoer.’
44“Die Tent met die Getuienis het by ons voorvaders in die woestyn gestaan, presies soos Hy wat met Moses gepraat het, hom beveel het om dit volgens die model te maak wat hy gesien het. 45En op hulle beurt het ons vaders dit ontvang, en saam met Josua het hulle dit in die land ingebring wat hulle verower het van die nasies wat God tot in die tyd van Dawid voor ons vaders uitgedryf het. 46Dawid het guns by God gevind, en gevra dat hy 'n tabernakel vir die huis van Jakob kon oprig. 47Maar dit was Salomo wat 'n huis vir Hom gebou het. 48Die Allerhoogste woon egter nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê:
49“ ‘Die hemel is my troon,
en die aarde die voetbank
vir my voete.
Watter soort huis sal julle vir My bou,
sê die Here,
of waar is my rusplek?
50Het my hand nie al hierdie dinge
gemaak nie?’
51“Julle hardnekkiges met onbesnede harte en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; soos julle vaders gemaak het, so maak julle ook. 52Wie van die profete is nie deur julle vaders vervolg nie? Ja, hulle het diegene doodgemaak wat die koms van die Regverdige vooraf aangekondig het. Julle het nou sy verraaiers en moordenaars geword. 53Julle het die wet deur die beskikking van engele ontvang en tog nie onderhou nie!”
Steniging van Stefanus
54Toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hulle harte en het hulle op hulle tande begin kners oor hom. 55Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. 56En hy het gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopen en die •Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.” 57Maar hulle het luidkeels geskreeu, hulle ore toegedruk en soos een man op hom afgestorm. 58Nadat hulle hom uit die stad uitgesleep het, wou hulle hom stenig. Die getuies het hulle boklere neergesit by die voete van 'n jong man bekend as Saulus. 59En hulle het Stefanus gestenig, terwyl hy uitroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” 60Hy het op sy knieë geval en met 'n harde stem uitgeroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” En met dié woorde het hy ontslaap.