Amnon en Tamar
1Daarna het die volgende gebeur: Absalom, seun van Dawid, het 'n mooi suster gehad. Haar naam was Tamar, en Amnon, seun van Dawid, het op haar verlief geraak. 2Amnon was so terneergedruk, hy was skoon siek oor Tamar, sy suster. Sy was immers 'n maagd, en dit het vir hom onmoontlik gelyk om enigiets aan haar te doen.
3Maar Amnon het 'n vriend gehad met die naam Jonadab, 'n seun van Samma, die broer van Dawid. Dié Jonadab was 'n baie uitgeslape man. 4Hy het vir Amnon gevra: “Waarom lyk jy, seun van die koning, oggend ná oggend so ellendig? Wil jy my nie maar vertel nie?” Amnon sê toe vir hom: “Ag, dit is Tamar, die suster van my broer Absalom – ek is verlief!” 5“Gaan lê op jou bed, en maak of jy siek is,” het Jonadab vir hom gesê. “Wanneer jou pa dan inkom om jou te sien, moet jy vir hom sê, ‘Laat Tamar, my suster, asseblief kom en my met kos versorg. Sy moet die voedsel voor my voorberei, sodat ek dit kan sien en uit haar hand kan eet.’ ”
6Amnon het toe gaan lê en gemaak of hy siek is. Toe die koning kom om hom te sien, sê Amnon vir die koning: “Laat Tamar, my suster, asseblief kom en twee hartvormige koekies voor my voorberei, sodat ek dit uit haar hand kan eet.”
7Dawid stuur toe 'n boodskap vir Tamar in die paleis: “Gaan asseblief na die huis van Amnon, jou broer, en berei vir hom voedsel voor.” 8Tamar het toe na die huis van haar broer gegaan terwyl hy in die bed lê. Sy het die deeg geneem, dit geknie en hartvormige koekies voor hom voorberei, en die koekies gaargemaak. 9Sy het die bakpan geneem en dit voor hom leeggemaak, maar hy het geweier om te eet. Amnon sê toe: “Kry almal uit hier by my!” Almal by hom het toe uitgegaan. 10Toe sê Amnon vir Tamar: “Bring die voedsel na die slaapkamer, sodat ek dit uit jou hand kan eet.” Tamar het die hartvormige koekies wat sy voorberei het, geneem en dit vir Amnon, haar broer, in die slaapkamer gebring. 11Maar toe sy dit vir hom naderbring om te eet, gryp hy haar en sê: “Kom lê by my, my suster!” 12Maar sy het vir hom gesê: “Asseblief nie, my broer! Moet my nie verkrag nie, want so iets mag nie in Israel gedoen word nie. Moenie hierdie gruweldaad pleeg nie! 13En ek, waarheen sal ek gaan met die bespotting wat ek dra? En jy, jy sal soos een van die dwase in Israel wees. Daarom, praat liewer met die koning, want hy sal my nie van jou weerhou nie.” 14Maar hy wou nie na haar luister nie. Hy was sterker as sy, en het haar verkrag en met haar gemeenskap gehad. 15Maar toe kry hy 'n baie groot weersin in haar; ja, die weersin wat hy in haar gekry het, was groter as die liefde waarmee hy haar liefgehad het. Amnon sê toe vir haar: “Staan op! Gaan weg!” 16Sy het vir hom gesê: “Nee, my broer, want hierdie groot onreg om my weg te stuur, is erger as dit wat jy my reeds aangedoen het.” Maar hy wou nie na haar luister nie. 17Hy roep toe sy lyfbediende en sê: “Vat tog net hierdie vrou van my af weg buitentoe en sluit die deur agter haar.”
18Sy het 'n lang rok met moue aangehad, want die dogters van die koning wat nog maagde was, het sulke mantels gedra. Nadat sy bediende haar buitentoe geneem en die deur agter haar gesluit het, 19het Tamar as geneem en op haar kop gesit, en die lang rok met moue wat sy aangehad het, geskeur. Sy het haar hand op haar kop gesit en aangestap terwyl sy aanhou skreeu. 20Haar broer Absalom vra toe vir haar: “Was jou broer Amnon by jou? Bly nou maar stil, my suster; hy is jou broer. Moet jou nie oor hierdie gebeure kwel nie.” Tamar het in haar broer Absalom se huis gaan woon, 'n eensame vrou.
21Toe koning Dawid hoor wat alles gebeur het, het hy briesend kwaad geword. 22Absalom het met Amnon nie weer 'n woord, goed of sleg, gepraat nie. Maar Absalom het Amnon gehaat omdat hy Tamar, sy suster, verkrag het.
23Twee jaar later was daar skeerders by Absalom in Baäl-Gasor, by Efraim. Absalom het al die koning se seuns genooi. 24Absalom het by die koning aangekom en gesê: “Kyk, daar is skeerders by u dienaar. Die koning en sy amptenare moet asseblief saam met u dienaar gaan.” 25Maar die koning het Absalom geantwoord: “Nee my seun; ons kan nie almal gaan nie, sodat ons nie 'n las op jou is nie.” Alhoewel Absalom by hom aangedring het, wou hy nie gaan nie en het hom seën toegewens. 26Absalom sê toe: “As u nie kan nie, laat my broer Amnon asseblief saam met ons gaan.” “Waarom moet hy dan saam met jou gaan?” het die koning gevra. 27Absalom het egter so by hom aangedring dat hy Amnon en al die koning se seuns saam met hom gestuur het.
28Absalom het vir sy jong manne opdrag gegee: “Let goed op; sodra Amnon se hart vrolik raak van die wyn, sal ek vir julle sê, ‘Val Amnon aan!’ Dan moet julle hom doodmaak; moenie bang wees nie. Dit is immers ek wat julle die opdrag gee. Wees dapper en wys dat julle onverskrokke manne is!”
29Die jong manne van Absalom het toe met Amnon gemaak soos Absalom beveel het. Toe spring al die seuns van die koning op, klim elkeen op sy muil en vlug weg. 30Hulle was nog op pad, toe kom die berig by Dawid uit: “Absalom het al die koning se seuns neergevel! Daar het nie een van hulle oorgebly nie.” 31Die koning het opgestaan, sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy dienaars het ook met geskeurde klere daar gestaan. 32Maar Jonadab, die seun van Dawid se broer Samma, het gesê: “My heer moet nie dink dat hulle al die jong manne, die seuns van die koning, doodgemaak het nie; slegs Amnon is dood; want van die dag af dat hy Tamar, sy suster, verkrag het, is dit al waaroor Absalom gepraat het. 33Daarom moet my heer die koning die saak nie ter harte neem en dink dat al die koning se seuns dood is nie. Net Amnon alleen is dood.”
34Absalom het intussen gevlug. Toe die jong man wat moes waghou, opkyk, sien hy meteens 'n groot groep wat vanaf die pad agter hom, al langs die berg, aankom. 35Jonadab sê toe vir die koning: “Kyk, daar kom die koning se seuns – dit gebeur net soos u dienaar gesê het.” 36Net toe hy dit gesê het, kom die koning se seuns toe werklik daar aan! Hulle het hardop begin huil, en ook die koning en al sy amptenare het bitterlik gehuil.
37Absalom het gevlug en na Talmai, seun van Ammigur, die koning van Gesur, gegaan. Dawid het die hele tyd oor sy seun gerou. 38Toe Absalom gevlug en na Gesur gegaan het, het hy drie jaar daar gebly. 39Koning Dawid het daarvan afgesien om teen Absalom uit te trek, want hy het berusting gevind oor Amnon – dat hy dood was.