Dawid in Adullam en Mispe
1Dawid is toe daar weg en het ontvlug na die grot van Adullam. Toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom toe. 2Elkeen wat in die moeilikheid was, wat geld geskuld het, of verbitterd was, het by hom aangesluit, en hy het hulle •aanvoerder geword. Daar was ongeveer vierhonderd man by hom.
3Van daar af is Dawid na Mispe in Moab. Hy het vir die koning van Moab gesê: “Laat my vader en moeder asseblief na julle uitwyk, totdat ek weet wat God met my wil doen.” 4Hy het hulle toe by die koning van Moab besorg, en hulle het by hom gebly so lank as wat Dawid in die bergskuiling was.
5Die profeet Gad het egter vir Dawid gesê: “Jy mag nie in die bergskuiling bly nie. Gaan weg! Sorg dat jy in die gebied van Juda kom.” Dawid het toe vertrek en die bos van Geret binnegegaan.
Saul se wraak op die priesters van Nob
6Saul het gehoor dat Dawid, en ook die manne wat by hom was, opgemerk is. Saul het in Gibea op die hoogte onder 'n tamarisk gesit met sy vegspies in sy hand, met al sy amptenare wat daar by hom staan. 7Saul sê toe vir sy amptenare wat by hom staan: “Luister, Benjaminiete! Gaan die seun van Isai ook vir julle almal landerye en wingerde gee, julle almal aanstel as aanvoerders van duisend en aanvoerders van honderd? 8Want julle smee almal 'n komplot teen my, en niemand lig my in wanneer my eie seun met die seun van Isai 'n ooreenkoms sluit nie; ja, niemand van julle het simpatie met my en maak dit aan my bekend dat my eie seun my dienaar teen my laat opstaan nie, om my voor te lê soos dit op die oomblik is.” 9Doëg, die Edomiet, wat daar by Saul se amptenare staan, reageer toe daarop en sê: “Ek het gesien die seun van Isai kom in Nob aan, by Agimeleg, seun van Agitub. 10Hy het die Here vir hom geraadpleeg en padkos vir hom gegee; ook die swaard van Goliat, die Filistyn, het hy vir hom gegee.”
11Die koning ontbied toe Agimeleg, die priester, seun van Agitub, en sy hele familie, die priesters wat in Nob was. Hulle het almal na die koning gekom. 12“Luister mooi, seun van Agitub!” het Saul gesê. “Tot u diens, my heer!” het hy geantwoord. 13Saul sê toe vir hom: “Waarom het jy 'n komplot teen my gesmee, jy en die seun van Isai, deur vir hom brood en 'n swaard te gee en God vir hom te raadpleeg, sodat hy teen my in opstand gekom het om my voor te lê, soos dit op die oomblik is?” 14Agimeleg het die koning geantwoord en gesê: “Maar wie onder al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning, aanvoerder van u lyfwag, en geëer in u huis? 15Het ek nou eers God vir hom begin raadpleeg? Hoegenaamd nie! Die koning moet nie sy dienaar en sy hele familie by die saak betrek nie, want u dienaar het van hierdie hele saak, groot of klein, niks geweet nie.”
16Maar die koning sê: “Jy moet beslis sterf, Agimeleg; jy en jou hele familie.” 17Toe sê die koning vir die hardlopers wat by hom staan: “Draai om! Maak die priesters van die Here dood, want ook hulle ondersteun Dawid. Hulle het immers geweet dat hy aan die vlug is, maar hulle het my nie daaroor ingelig nie.”
Die dienaars van die koning wou egter nie hulle hand uitsteek om die priesters van die Here aan te val nie. 18Toe sê die koning vir Doëg: “Draai jy om en val die priesters aan!” Toe draai Doëg, die Edomiet, om en val self die priesters aan. Hy het daardie dag vyf-en-tagtig manne wat die linne-efod dra, doodgemaak. 19Hy het Nob, die dorp van die priesters, met die skerpte van die swaard verslaan: van man tot vrou, kinders tot suigelinge; beeste, donkies en skape – alles met die skerpte van die swaard.
20'n Seun van Agimeleg, seun van Agitub, het egter ontkom. Sy naam was Abjatar. Hy het agter Dawid aan gevlug; 21en toe Abjatar vir Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here uitgemoor het, 22het Dawid vir Abjatar gesê: “Ek het daardie dag toe Doëg, die Edomiet, daar was, geweet dat hy dit beslis vir Saul gaan vertel. Eintlik het ek teen elke persoon in jou familie gedraai. 23Bly by my, moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek, soek ook jou lewe. Ja, jy is veilig by my.”