Saul se ongehoorsaamheid
1Saul was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar lank oor Israel regeer.
2Saul het vir hom drieduisend man uit Israel gekies. Tweeduisend was by Saul in Migmas en in die bergland by Bet-El, en eenduisend was by Jonatan in Gibea in Benjamin. Die res van die manskappe het hy weggestuur, elkeen na sy woonplek toe.
3Jonatan het die Filistynse wagpos wat in Gibea was, aangeval, en die Filistyne het daarvan te hore gekom. Saul het in die hele land op die •ramshoring laat blaas om te laat weet: “Die Hebreërs moet dit hoor!”
4In die hele Israel is die nuus versprei: “Saul het die Filistynse wagpos aangeval; maar wat erger is, Israel is veragtelik gemaak by die Filistyne.”
Die manskappe is toe opgeroep na Saul in Gilgal. 5Die Filistyne het saamgetrek om teen Israel te veg met dertig afdelings strydwaens, ses afdelings perderuiters en manskappe so talryk soos die sand wat langs die seestrand is. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan in Migmas, oos van Bet-Awen.
6Die manne van Israel sien toe dat daar vir hulle moeilikheid wag, want die manskappe was vasgekeer. Die manskappe het toe in grotte, klipskeure, rotswande, grafte en opgaarputte gaan wegkruip. 7Van die Hebreërs het die Jordaan oorgesteek na die landstreke van Gad en Gilead.
Saul was egter nog in Gilgal. Al die manskappe het hom bewend gevolg. 8Hy het sewe dae lank gewag vir die vasgestelde tyd waarvan Samuel gepraat het, maar toe Samuel nie in Gilgal opdaag nie, het die manskappe van Saul af gedros. 9Saul sê toe: “Bring vir my die •brandoffer en •maaltydoffers!” En hy het die brandoffer geoffer.
10En toe, net toe hy die brandoffer gebring het – daar kom Samuel aan! Saul het uitgegaan om hom te ontmoet en om hom te groet. 11Maar Samuel het gesê: “Wat het jy gedoen?” Waarop Saul toe antwoord: “Omdat ek gesien het dat die manskappe van my af gedros het, dat u self nie op die vasgestelde tyd opgedaag het nie, en dat die Filistyne by Migmas saamgetrek het, 12het ek gedink: Nou gaan die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, terwyl ek nog nie die Here se guns gesoek het nie. Ek het toe moed bymekaargeskraap en die brandoffer geoffer.”
13Toe sê Samuel vir Saul: “Jy het dwaas opgetree. Jy het nie die opdrag van die Here jou God, dit wat Hy jou beveel het, nagekom nie. Het jy dit maar gedoen! Want dan sou die Here jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. 14Maar nou sal jou koningskap nie standhou nie. Die Here het vir Hom 'n man na sy hart uitgesoek, en die Here het hom as leier volmag oor sy volk gegee, omdat jy dit wat die Here jou beveel het, nie nagekom het nie.” 15Toe het Samuel opgestaan en van Gilgal af opgegaan na Gibea in Benjamin.
Jonatan se heldedaad
Saul het die manskappe wat nog by hom was, gemonster, ongeveer seshonderd man. 16Terwyl Saul en sy seun Jonatan en die manskappe wat nog by hom was, in Geba in Benjamin gebly het, het die Filistyne kamp opgeslaan in Migmas. 17Stroperbendes het in drie eenhede uit die Filistyne se kamp uitgetrek. Een eenheid het weggedraai in die rigting van Ofra, in die Sualstreek, 18'n ander eenheid het weggedraai in die rigting van Bet-Goron, en nog 'n eenheid in die rigting van die grensgebied wat uitkyk oor die vallei van Seboïm, na die woestyn se kant.
19Daar was nie 'n enkele grofsmid te vinde in die hele land Israel nie, want die Filistyne het gesê: “Anders maak die Hebreërs swaarde of vegspiese.” 20Die hele Israel moes na die Filistyne afgaan, elkeen om sy ploegskaar, sy bylpik, sy dissel of sy sekel te laat slyp. 21Die fooi daarvoor was 'n pim vir 'n ploegskaar, 'n bylpik en 'n drietandvurk, asook vir byle en die herstel van 'n osdrywerstok. 22So kom dit dat, in 'n tyd van oorlog, daar nie 'n swaard of vegspies te vinde was in die hande van enige van die manskappe wat by Saul en Jonatan was nie. Saul en sy seun Jonatan het wel wapens gehad.
23'n Garnisoen van die Filistyne het uitgegaan na die bergpas by Migmas.