1“God van ons vaders
en Here van ontferming –
U wat alle dinge deur u woord
gemaak het
2en deur u wysheid
die mens voorberei het
sodat hy kan heers
oor dit wat U geskep het
3en die wêreld kan bestuur
in heiligheid en geregtigheid,
en in opregtheid van gees
regspraak kan uitoefen –
4skenk my die Wysheid
wat langs u troon sit,
en weier my nie 'n plek
onder u diensknegte nie.
5Ek is immers u slaaf
en 'n seun van u slavin,
'n mens wat swak is en kort leef,
en gering is as dit kom
by die verstaan van regspleging
en die uitvoering van wette.
6Want selfs as iemand volmaak
onder mense sou wees,
sal hy as niks gereken word
as die Wysheid wat van U
afkomstig is, ontbreek nie.
7U het my tot koning
van u volk verkies
en tot regter van u seuns en dogters.
8U het my aangesê
om 'n •tempel op u heilige berg te bou
en 'n altaar in die stad
waarin u woning is,
'n weergawe van die heilige •tabernakel
wat U van die begin af voorberei het.
9By U is die Wysheid,
wat u werke ken
en teenwoordig was toe U
die wêreld gemaak het,
en verstaan wat goed is in u oë
en wat reg is ooreenkomstig u gebooie.
10Stuur Wysheid
vanuit u heilige hemele,
ja, stuur haar
vanaf u heerlike troon,
sodat sy saam met my kan arbei
en ek mag verstaan
wat vir U aanneemlik is.
11Sy weet en verstaan immers alles
en sal my op 'n verstandige manier
in my doen en late lei;
sy sal my bewaar deur haar heerlikheid.
12My dade sal daarom
aanvaarbaar wees;
ek sal die volk regverdig oordeel
en die troon van my vader
waardig wees.
13Want watter mens
kan die raadsplan van God ken?
Of wie kan begryp wat die Here wil?
14Want die redenasies van sterflinge is weifelend
en ons gedagtes is onseker.
15'n Verganklike liggaam
beswaar immers die siel
en die aardse tentwoning
rus swaar op die verstand
met sy baie sorge.
16Ons vorm beswaarlik 'n vermoede
oor die aardse dinge,
en met moeite ontdek ons
die voor die hand liggende;
wie dan het die hemelse dinge
al nagespeur?
17En wie het u plan geken,
tensy Ú die wysheid geskenk het
en u Heilige Gees
vanuit die hoogste hemele
gestuur het?
18So is die mense op aarde
langs die regte paaie gelei
en is hulle onderrig in
wat vir U aanneemlik is,
en is hulle deur die Wysheid gered.”