1Luister dus, konings,
en verstaan;
leer, regters oor die eindes
van die aarde;
2gee gehoor, julle wat oor
die menigte heers
en julle beroem op baie nasies.
3Want die mag is aan julle
deur die Here gegee
en die heerskappy
deur die Allerhoogste,
Hy wat julle dade sal ondersoek
en julle besluite sal nagaan.
4Want alhoewel julle
dienaars is van sy koninkryk
het julle julle oordele
nie opreg gevel nie,
nie die wet gehandhaaf
en nie volgens die wil
van God geleef nie.
5Hy sal skrikwekkend
en vinnig op julle afkom,
want 'n meedoënlose oordeel
word gevel oor diegene
wat gesagsposisies beklee.
6'n Uiters geringe persoon
word immers uit meegevoel verskoon,
maar magtiges sal op 'n kragtige
manier getoets word.
7Want Hy, die Here oor alles,
sal nie terugdeins vir 'n mens
of ontsag hê vir grootheid nie;
Hy het immers self
klein en groot gemaak
en Hy sorg op dieselfde manier
vir almal.
8Maar vir die sterkes
lê 'n streng ondersoek voor.
9Tot julle dan, o vorste,
is my woorde gerig,
sodat julle wysheid kan leer
en nie afdwaal nie.
10Want diegene wat heilige dinge
op 'n heilige manier bewaar,
sal geheilig word,
en diegene wat dit geleer is,
sal 'n verweer vind.
11Hunker dus na my woorde,
smag daarna en julle
sal onderrig word.
12Wysheid straal en verdof nie;
sy word maklik gesien
deur hulle wat haar liefhet
en gevind deur hulle
wat haar soek.
13Reeds vooraf maak sy haarself
bekend aan dié wat haar begeer.
14Wie vroeg opstaan
om na haar te soek,
hoef nie hard te werk nie,
want hy sal haar vind
waar sy reeds by sy poorte sit.
15Inderdaad, om oor haar na te dink,
bring volkome insig,
en wie wakker bly om haar ontwil,
sal gou sonder sorge wees.
16Aangesien sy rondsoek
na mense wat haar waardig is,
vertoon sy haar welwillend
aan hulle op hulle paaie
en ontmoet sy hulle in elke gedagte.
17Want die ware begin van Wysheid
is 'n begeerte na onderrig,
en besorgdheid oor onderrig
is liefde,
18en liefde behels die handhawing
van haar wette,
en aandag aan die wette
gee die versekering van onsterflikheid,
19en onsterflikheid laat 'n mens
naby aan God wees.
20'n Begeerte na wysheid
lei dus tot koningskap.
21As julle julle dan verlustig
in trone en septers,
vorste oor die volke,
betoon eer aan Wysheid,
sodat julle vir altyd kan heers.
Oorsprong, aard en mag van Wysheid
22Wat Wysheid is
en hoe sy ontstaan het,
sal ek julle meedeel,
en ek sal nie geheimenisse
van julle weerhou nie,
maar haar spoor van die begin
van die skepping af volg
en die kennis oor haar aan die lig bring
en nooit van die waarheid afwyk nie.
23Ek sal ook nie 'n reisgenoot word
van verterende afguns nie,
want dit het geen deel aan Wysheid nie.
24Wyses in groot getalle
hou redding vir die wêreld in
en 'n verstandige koning
bestendigheid vir die volk.
25Daarom, laat julle
deur my woorde onderrig
en julle sal daarby baat.