1Dit is beter om kinderloos
en deugsaam te wees,
want onsterflikheid bestaan
in die herinnering aan deug,
omdat dit deur God asook
die mense erken word.
2Wanneer deug aanwesig is,
boots hulle haar na,
en wanneer sy weg is,
smag hulle na haar.
Met 'n oorwinnaarskrans
beweeg sy feestelik deur die tyd,
omdat sy die wedstryd
vir onbesoedelde pryse gewen het.
3Die talryke nakomelinge
van die goddeloses
sal tot niks kom nie;
nie een van die wilde lote
sal diep wortelskiet
of 'n vaste houvas kry nie.
4Want selfs al stoot hulle
vir 'n tyd lank lote uit,
sal hulle deur die wind geskud word
omdat hulle onstandvastig is,
en sal hulle deur die geweld
van winde ontwortel word.
5Die takke sal groen afgebreek word;
hulle vrugte is nutteloos,
nie ryp genoeg om te eet nie
en vir niks bruikbaar nie.
6Want kinders wat uit onwettige
gemeenskap gebore word,
is getuies van hulle ouers se boosheid
wanneer die ouers verhoor word.
7Maar as 'n regverdige
voor sy tyd sterf, sal hy rus vind.
8Want 'n gerespekteerde ouderdom
word nie aan 'n lang lewe
en die aantal jare gemeet nie.
9Insig en 'n vlekkelose lewe
bring vir mense die rypheid
van gryse ouderdom.
10Omdat hy vir God
aanvaarbaar was,
was hy geliefd,
en terwyl hy tussen sondaars
geleef het, is hy weggeneem.
11Hy is weggeruk,
sodat die kwaad nie sy begrip
kon verander
of bedrog sy siel
kon mislei nie.
12Want die betowering van die slegte
verduister die goeie
en die verwarring van begeerte
verdraai die onskuldige denke.
13Alhoewel hy in 'n kort tydjie
volmaak geword het,
het hy nogtans 'n vol lewe gelei.
14Sy siel was vir die Here aangenaam,
daarom is hy gou uit die midde
van die boosheid weg.
Die mense het dit gesien
en nie verstaan nie;
hulle het ook nie daarmee
rekening gehou
15dat daar genade en ontferming is
vir sy uitverkorenes
en dat God oor sy heiliges waak nie.
16Die regverdige wat gesterf het,
sal die goddeloses wat leef, veroordeel,
en die jeugdige wat in 'n kort
tydjie volmaak geword het,
sal die hoë ouderdom
van die onregverdige veroordeel.
17Want die onregverdiges
sal die einde van die wyse man sien
en nie verstaan wat die Here
vir hom beplan het
en waarvoor Hy hom
in veiligheid gebring het nie.
18Hulle sal dit sien en minag,
maar die Here sal hulle uitlag.
19Hulle sal hierna lyke
sonder eer wees,
'n minagting onder die dooies
vir altyd,
want Hy sal hulle verpletter
op die grond,
hulle sprakeloos laat
en hulle van hulle
fondamente skud.
Hulle sal tot die einde toe
dor en bar gelaat word;
hulle sal in pyn verkeer
en die herinnering aan hulle
sal vergaan.
20Hulle sal vol angs verskyn
wanneer hulle sondes
bereken word;
hulle wettelose dade
sal teenoor hulle staan
en hulle veroordeel.