1Maar die siele van die regverdiges
is in God se hand,
en geen marteling sal hulle siele
ooit aanraak nie.
2In die oë van die dwases
lyk dit of hulle dood is;
hulle vertrek word as 'n ellende beskou
3en hulle weggaan van ons
as vernietiging,
maar hulle ervaar vrede.
4Want selfs al word hulle in die oë
van mense gestraf,
hoop hulle volkome op onsterflikheid.
5Nadat hulle kortstondig
gedissiplineer is,
sal hulle grootliks begunstig word,
want God het hulle op die proef gestel
en bevind dat hulle Hom waardig is.
6Soos goud het Hy hulle
in 'n vuuroond getoets
en soos 'n •brandoffer
het Hy hulle aanvaar.
7Wanneer die tyd aanbreek
dat Hy hulle besoek,
sal hulle opvlam en soos vonke
in droë strooi versprei.
8Hulle sal oor nasies oordeel
en oor volke heers
en die Here sal vir altyd
oor hulle regeer.
9Diegene wat op Hom vertrou,
sal die waarheid verstaan,
en die getroues sal in liefde
by Hom bly.
Want daar is genade en ontferming
vir sy uitverkorenes.
10Die goddeloses sal egter
op grond van hulle redenasies
straf ontvang –
hulle wat die regverdiges verontagsaam
en van die Here weggedraai het.
11Want wie wysheid en onderrig
minag, is ellendig;
hulle hoop is tevergeefs,
hulle harde werk sonder waarde
en hulle dade nutteloos.
12Hulle vroue is dwaas
en hulle kinders boos;
hulle nageslag is vervloek.
13Daarom, gelukkig
is die onvrugbare vrou
wat nie onteer is nie,
wat nie gemeenskap
deur 'n oortreding ervaar nie,
want sy sal vrug dra wanneer
mense geoordeel word.
14Gelukkig is die eunug
wat nie deur sy dade
'n wetsoortreding begaan
en slegte dinge teen die Here
bedink het nie,
want vir sy trou sal aan hom
'n besondere guns bewys word,
en die heerlikste lot in die •tempel
van die Here gegee word.
15Want roemryk is die vrug
van goeie inspanning
en die wortelstok van insig faal nie.
16Die kinders van egbrekers
sal egter nie volwasse word nie,
en die nageslag van onwettige
gemeenskap sal vernietig word.
17Want al het hulle ook 'n lang lewe,
hulle sal as nietig gereken word,
en hulle ouderdom
sal uiteindelik eerloos wees.
18En as hulle vroeg doodgaan,
sal hulle geen hoop hê nie
en op die oordeelsdag
geen troos nie.
19Die uiteinde van die
onregverdige geslag
is immers ellendig.