Rol van Wysheid in Israel se geskiedenis
1Wysheid het die eerste
geskape mens,
vader van die mensdom,
hom, wat alleen geskep is, bewaar,
hom van sy oortreding gered,
2en hom krag gegee
om oor alles te heers.
3Maar 'n onregverdige man
het in sy toorn
van haar afvallig geword
en ten gronde gegaan
toe hy in 'n woedeaanval
sy broer vermoor het.
4Wysheid het weer die aarde,
wat as gevolg van hom
met 'n watervloed bedek is, gered
toe sy die regverdige
in 'n eenvoudige houtstruktuur
veilig geloods het.
5En sy het, toe die nasies
in hulle gesamentlike boosheid
in verwarring gebring is,
die regverdige een herken
en hom onberispelik
voor God se oë bewaar
en hom te midde van sy intense
smart oor sy kind
sterk laat staan.
6Terwyl die goddeloses vernietig is,
het sy 'n regverdige gered,
en het hy ontkom aan die vuur
wat neergesak het op die Pentapolis.
7As getuienis van hulle boosheid
lê die onvrugbare land
nog steeds en smeul
met bome wat vrugte dra
wat nooit ryp word nie,
en staan daar 'n soutpilaar
as gedenkteken
van 'n ongelowige siel.
8Want omdat hulle Wysheid
geïgnoreer het,
is hulle nie alleen verhinder
om die goeie dinge te ken nie,
maar het hulle ook vir die mensdom
'n herinnering van hulle
dwaasheid nagelaat,
sodat hulle dwalinge
nie verborge sou kon bly nie.
9Maar Wysheid het dié
wat haar gedien het
uit hulle beproewings gered.
10Sy het 'n regverdige wat gevlug het
voor die woede van sy broer
op reguit paaie gelei;
sy het hom die koninkryk van God gewys
en hom kennis van heilige dinge gegee;
sy het hom voorspoedig gemaak
in sy moeitevolle arbeid
en sy harde werk suksesvol gemaak.
11Toe mense in hulle hebsug
hom probeer uitbuit het,
het sy hom bygestaan
en hom ryk gemaak.
12Sy het hom beskerm
teen sy vyande
en hom veilig bewaar
teen diegene wat strikke
vir hom gestel het.
Na sy hewige stryd het sy hom
die oorwinning geskenk,
sodat hy kon weet dat godsvrug
magtiger is as enigiets anders.
13Toe 'n regverdige man
as slaaf verkoop is,
het sy hom nie in die steek gelaat nie,
maar hom uit die sonde gered.
14Sy het saam met hom
afgegaan in die put
en hom nie in sy boeie verlaat nie,
totdat sy hom die koninklike
septer besorg het
en mag gegee het oor dié
wat hom onderdruk het.
Sy het dié wat hom beskimp het,
ontmasker as leuenaars
en hom ewige roem geskenk.
15Sy het 'n heilige volk
en 'n blaamlose nageslag
bevry uit 'n nasie
wat hulle onderdruk het.
16Sy het 'n ampsdraer
van die Here besiel
en hy het vreesaanjaende konings
met wonders en tekens weerstaan.
17Sy het heiliges beloon
vir hulle moeite
en hulle gelei
op 'n wonderbaarlike weg;
bedags was sy vir hulle 'n beskutting
en snags 'n vlam van sterre.
18Sy het hulle deur die Rooisee
laat trek
en hulle deur baie waters gelei.
19Sy het egter hulle vyande
laat verdrink
en hulle weer uit die onpeilbare
diepte uitgebraak.
20Daarom het die regverdiges
die goddeloses geplunder
en u heilige Naam, Here, besing,
en u beskermende hand
uit een mond geprys.
21Want die Wysheid
het die mond van stommes geopen
en die tonge van suigelinge
welsprekend gemaak.