Verdrywing van die demoon
1Toe hulle klaar geëet en gedrink het, wou hulle gaan slaap. Hulle het die jong man gevat en hom na die kamer geneem. 2Tobias het Rafael se woorde onthou en die lewer en hart van die vis uitgehaal uit die sak waarin hy dit gehou het. Hy het dit op die kole vir die reukwerk gesit. 3Die reuk van die vis het die demoon weggehou en hy het gevlug, ver weg tot in Bo-Egipte. Rafael het gegaan en hom dadelik daar aan sy voete en hande geboei.
4Toe die ander mense uit is en hulle die deur van die kamer toegemaak het, het Tobias opgestaan van die bed af en vir Sara gesê: “Suster, staan op en laat ons bid en ons Here vra om ons ontferming en redding te gee.” 5Sy het opgestaan en hulle het begin bid. Hulle het gevra dat daar vir hulle redding mag wees. Tobias het soos volg gebid:
“Lofwaardig is U,
o God van ons voorvaders,
en lofwaardig is u Naam
vir altyd tot in alle geslagte.
Laat die hemele
en die hele skepping
U vir altyd loof.
6U het Adam gemaak
en U het sy vrou Eva
vir hom gemaak tot hulp
en ondersteuning.
Uit hulle twee het die menslike
geslag gekom.
U het gesê, ‘Dit is nie goed
vir 'n man om alleen te wees nie.
Laat Ons vir hom 'n hulp maak,
een soos hy.’
7Nou neem ek my suster tot vrou,
nie uit wellus nie, maar in opregtheid.
Gee tog opdrag dat ek en sy
ontferming ontvang en saam oud word.”
8Hulle het saam gesê: “•Amen, amen.” 9En hulle het gaan slaap vir die nag.
10Raguel het egter opgestaan en sy huisbediendes geroep. Hulle het uitgegaan en 'n graf gegrawe, want hy het gesê: “Miskien gaan hy dood en dan word ons 'n voorwerp van gelag en gespot.” 11Toe hulle die graf klaar gegrawe het, het Raguel die huis binnegegaan en sy vrou geroep. 12Hy het vir haar gesê: “Stuur een van die diensmeisies om in te gaan en te kyk of hy nog leef. As hy dood is, kan ons hom begrawe sodat niemand daarvan sal weet nie.” 13Hulle stuur toe die diensmeisie. Hulle het 'n lamp aangesteek, die deur oopgemaak en sy het ingegaan en die twee daar gekry, saam vas aan die slaap. 14Die diensmeisie het uitgekom en vir hulle vertel dat hy leef en dat daar niks verkeerd is nie. 15Toe het hulle die God van die hemel geloof en gesê:
“U, o God, is alle opregte
lofprysinge waardig.
Laat die mense U
tot in alle ewigheid loof.
16U is lofwaardig
omdat U my bly gemaak het.
Sake het nie verloop
soos ek verwag het nie,
maar U het met ons gehandel
ooreenkomstig u groot ontferming.
17U is lofwaardig omdat U
ontferming betoon het
aan hierdie twee enigste kinders.
Here, bewys aan hulle ontferming
en verlossing,
en skenk hulle 'n vol lewe,
vol geluk en ontferming.”
18Toe het hy sy huisbediendes beveel om die graf toe te gooi voor die dag aanbreek.
19Hy het vir sy vrou gesê om baie brood te bak. Hy het na die kudde toe gegaan en twee beeste en vier ramme gaan haal en sy dienaars aangesê om hulle te slag. Hulle het begin om alles gereed te maak. 20Hy het Tobias geroep en vir hom gesê: “Vir veertien dae mag jy nie hiervandaan weggaan nie. Nee, jy sal hier bly en saam met my eet en drink. Jy sal vreugde gee aan my dogter se siel wat so vol smart was. 21Alles wat myne is, vat daarvan vir jou die helfte en keer in goeie gesondheid terug na jou pa. Die ander helfte is joune wanneer ek en my vrou te sterwe gekom het. Hou moed, kind. Ek is jou pa en Edna is jou ma. Ons is by jou, net soos ons by jou suster is, nou en vir altyd. Hou moed, kind.”