Rafael as Tobias se reisgenoot
1Toe het Tobias sy vader Tobit geantwoord: “Alles wat pa my beveel het, sal ek doen, 2maar hoe sal ek die geld van Gabael kan kry? Hy ken my nie en ek ken hom nie. Watter bewys gee ek vir hom sodat hy my kan herken, my glo en die geld vir my gee? Ek ken ook nie die paaie na Medië sodat ek daarheen kan reis nie.”
3Toe antwoord Tobit sy seun Tobias: “Hy het vir my 'n bewys gegee en ek het vir hom 'n bewys gegee; ek het dit in twee gedeel. Ons het elkeen 'n deel geneem en ek het een by die geld gesit. Nou het daar al twintig jaar verloop sedert ek die geld by hom gelaat het. En nou, kind, soek vir jou 'n betroubare persoon wat saam met jou kan reis. Ons sal hom betaal tot jy weer terug is, maar gaan haal dié geld by Gabael.”
4Tobias het uitgegaan om iemand te soek wat saam met hom na Medië sou reis, iemand wat die pad ken. Hy het uitgegaan en kry toe vir Rafael, die engel; dié het reg voor Tobias gestaan, maar Tobias het nie geweet dat Rafael 'n engel van God is nie. 5Hy vra hom toe: “Waarvandaan kom jy, jong man?” Hy antwoord hom: “Van die Israeliete, u broers. Ek het hier kom werk.” Tobias vra hom toe: “Ken jy die pad na Medië?” 6Hy antwoord Tobias: “Ja, ek was al dikwels daar. Ek is vertroud met al die paaie en ken hulle goed. Ek het al dikwels na Medië gereis en by Gabael, ons broer, oorgebly. Hy woon in Rages in Medië. Dit is gewoonlik twee dagreise van Ekbatana tot by Rages, want Rages lê in die berge.” 7Tobias sê vir hom: “Wag vir my, jong man, solank ek ingaan en my vader inlig, want ek het jou nodig om saam met my te gaan. Ek sal jou betaal.” 8Hy antwoord hom: “Goed, ek wag; moet net nie talm nie.”
9Tobias het ingegaan en sy pa, Tobit, ingelig: “Kyk, ek het 'n man gekry van ons broers, die Israeliete.” Tobit antwoord hom: “Roep die man vir my sodat ek kan uitvind wie sy familie is en uit watter stam hy is, en of hy betroubaar is om saam met jou te reis, my kind.”
10Tobias gaan toe uit en roep die jong man en sê vir hom: “Jong man, my vader roep jou.” Hy het ingegaan na Tobit en Tobit het hom eerste gegroet. En Rafael het vir hom gesê: “Mag u baie geluk ondervind!” Maar Tobit het hom geantwoord: “Watter geluk is daar nog vir my? Ek is 'n blinde mens; ek kan nie die lig van die hemel sien nie. Ek lê in die donker soos die dooies wat die lig nie meer sien nie. Al leef ek, is ek onder die dooies. Ek hoor mense se stemme, maar ek sien hulle nie.” Die jong man sê vir Tobit: “Hou moed. Die tyd dat God u gaan genees, is naby. Hou moed.” Tobit antwoord hom: “My seun Tobias wil na Medië reis. As jy saam met hom gaan en hom soontoe neem, sal ek jou vergoed, broer.” Hy sê vir Tobit: “Ek sal saam met hom kan reis. Ek ken al die paaie goed en was al dikwels in Medië. Ek het deur al die vlaktes van Medië gereis, en die berge en al die paaie daar ken ek goed.”
11Tobit sê vir hom: “Broer, uit watter geslagslyn en uit watter stam is jy? Lig my tog in, broer.” 12Maar die jong man antwoord: “Hoekom vra u my oor my stamverband?” Tobit het geantwoord: “Ek wil presies weet wie se seun jy is, broer, en wat jou naam is.” 13Die jong man sê vir hom: “Ek is Asarja, seun van Hananja die Grote, een van u broers.” 14Tobit het vir hom gesê: “Mag jy gesond wees en dit met jou voorspoedig gaan, broer. Moenie vir my kwaad wees omdat ek presies wou weet wat jou geslagslyn is nie, broer. Jy is toevallig 'n broer; jy kom uit 'n goeie en edel familie. Ek het Hananja en Jatan geken, die twee seuns van Semaja die Grote. Hulle het altyd saam met my na Jerusalem gereis en daar saam met my aanbid. Hulle het nie van die Here afgedwaal nie. Jou broers is goeie mense en jy het 'n goeie herkoms. Wees welkom!”
15Tobit het ook gesê: “Ek sal jou 'n dragme per dag betaal en ook jou uitgawes, net soos vir my seun. 16Gaan saam met my seun. Ek sal nog iets by jou vergoeding voeg.” 17Die jong man het gesê: “Ek sal saam met hom gaan. Moenie bang wees nie! Ons sal in goeie gesondheid vertrek en ons sal in goeie gesondheid na jou terugkom omdat die pad veilig is.” Tobit het gesê: “Wees geseënd, broer.”
Toe het hy sy seun geroep en vir hom gesê: “Kind, maak alles reg vir die pad en vertrek saam met jou broer. Mag God wat in die hemel is, julle veilig daar bring en julle in goeie gesondheid na my laat terugkeer. Mag sy engel saam met julle op die pad gaan en julle beskerm, kind.”
Tobias het uitgegaan om met sy reis te begin en hy het sy vader en moeder gesoen. Tobit het vir hom gesê: “Mag jy in goeie gesondheid reis.”
18Sy moeder het gehuil en vir Tobit gesê: “Hoekom het jy my kind weggestuur? Is hy nie 'n staf waarop ons hand rus nie, en is hy nie die een wat voor ons oë kom en gaan nie? 19Moenie geld ter wille van geld bestee nie. Laat dit 'n losprys wees vir ons kind. 20Dit is vir ons genoeg om te leef soos die Here vir ons bestem het.” 21Tobit het haar geantwoord: “Moenie bekommerd wees nie. Ons kind sal gesond vertrek en gesond na ons terugkeer. Jou oë sal hom sien op die dag wanneer hy gesond na jou terugkom. 22Moenie bekommerd of bang wees oor hulle nie, suster. 'n Goeie engel sal saam met hom gaan. Sy reis sal suksesvol wees en hy sal gesond terugkom.” 23En sy het opgehou huil.