Tobit se lofrede
1Tobit het gesê:
2“Lofwaardig is die God
wat tot in ewigheid leef
en lofwaardig is ook
sy koningsheerskappy.
Want Hy kasty én betoon ontferming.
Hy laat afdaal tot diep
onder in Hades
én Hy laat opkom
uit die groot verderf.
Daar is niks wat aan sy hand
sal ontkom nie.
3Israeliete, bely Hom
voor die nasies
omdat dit Hy is wat julle
onder hulle verstrooi het.
4Daar het Hy sy majesteit
aan julle getoon.
Verhef Hom voor alles wat lewe
omdat Hy ons Here is.
Hy is ons God;
Hy is ons Vader;
Hy is God tot in alle ewigheid.
5Hy sal julle kasty
oor julle ongeregtighede,
maar Hy sal Hom ontferm oor julle,
onder al die nasies onder wie julle
ook al verstrooi is.
6As julle na Hom terugkeer
met julle hele hart en siel
om in waarheid voor Hom te leef,
dan sal Hy na julle terugkeer
en beslis nie langer sy aangesig
vir julle verberg nie.
7Let nou op wat Hy vir julle gedoen het
en bely Hom met julle hele mond.
Loof die Here van geregtigheid;
verhef die Koning van die eeue!
8“In die land van my gevangenskap bely ek Hom;
ek maak sy krag en majesteit bekend aan 'n nasie van sondaars.
Keer terug, sondaars,
en beoefen geregtigheid voor Hom.
Wie weet of Hy nie welwillend
teenoor julle sal wees
en ontferming aan julle sal betoon nie?
9Ek verhef my God;
my siel verhef die Koning van die hemel
en my siel sal jubel oor sy majesteit.
10Laat almal oor Hom praat;
bely Hom in Jerusalem.
Jerusalem, heilige stad,
jou sal Hy kasty oor die dade van jou kinders,
maar oor die kinders van die regverdiges
sal Hy Hom weer ontferm.
11“Jerusalem, jou tabernakel
sal weer met vreugde vir jou
opgerig word.
12Mag Hy deur jou
al die gevangenes opbeur;
mag Hy deur jou liefde betoon
aan almal wat swaarkry,
aan alle geslagte tot in ewigheid.
13'n Helder lig sal skyn
tot aan al die eindes van die aarde;
baie volke sal van ver af na jou kom,
bewoners van al die eindes
van die aarde na jou heilige naam,
met geskenke in hulle hande
vir die Koning van die hemel.
Geslag op geslag sal deur jou
'n vreugdeoffer bring
en die naam van die uitverkore stad
sal vir alle geslagte
tot in ewigheid bestaan.
14Vervloek is almal
wat 'n harde woord teen jou sal sê!
Vervloek is almal wat jou vernietig
en jou mure afbreek,
almal wat jou torings verwoes
en jou wonings aan die brand steek,
maar geseënd tot in ewigheid
sal almal wees
wat vir jou eerbied het.
15Gaan dan en wees bly
oor die kinders van die regverdiges,
omdat hulle almal versamel sal word
en die Here van die ewigheid sal loof.
Salig is dié wat jou liefhet.
Salig is dié wat hulle
oor jou vrede sal verheug.
16Salig is al die mense
wat oor jou sal treur,
oor al jou folteringe,
want hulle sal hulle oor jou verheug,
hulle sal al jou vreugde aanskou,
tot in ewigheid.
Laat my siel God,
die grote Koning, loof.
17Want Jerusalem sal herbou word;
die stad sal sy huis wees
vir alle ewigheid.
Hoe salig sal ek wees
as 'n oorblyfsel van my saad
jou heerlikheid sal kan sien,
en hulle die Koning van die hemel
sal bely.
Die poorte van Jerusalem
sal gebou word van •lasuursteen
en •smarag,
al jou mure van kosbare stene.
Al die torings van Jerusalem
sal gebou word met goud,
en hulle skanse
met die suiwerste goud.
Die strate van Jerusalem
sal uitgelê wees
met •karbonkelsteen en klip uit Ofir.
18Die poorte van Jerusalem
sal vreugdeliedere sing;
al haar wonings sal uitroep,
‘Halleluja, lofwaardig
is die God van Israel,’
en lofwaardig is hulle
wat sy heilige Naam sal loof
vir alle ewigheid en daarna.”