Tobit se genesing
1En toe hulle naby Kaserin kom wat regoor Nineve was, sê Rafael: 2“Jy weet hoe ons jou pa agtergelaat het. 3Kom ons haas ons voor jou vrou uit en maak die huis reg solank hulle kom.” 4Die twee het saam vooruit gereis en Rafael het vir Tobias gesê: “Hou die gal byderhand.” Die hond het saam met hulle gegaan, al agter Rafael en Tobias aan.
5Anna het die pad sit en dophou vir haar seun. 6Sy het hom sien aankom en vir sy pa gesê: “Kyk, daar kom jou seun en die man wat saam met hom gereis het!”
7Voor hulle naby Tobias se pa gekom het, het Rafael vir Tobias gesê: “Ek weet sy oë sal geopen word. 8Smeer van die vis se gal aan sy oë. Die medisyne sal die vliese laat krimp en van sy oë laat afskil. Jou pa sal weer kan sien en die lig aanskou.”
9Anna het na haar seun gehardloop en hom om die nek geval en vir hom gesê: “Ek het jou weer gesien, kind. Nou kan ek sterf.” Sy het gehuil. 10Tobit het opgestaan en al strompelend by die hek van sy binnehof uitgekom. 11Tobias het na hom gekom met die vis se gal in sy hand. Hy het in sy pa se oë geblaas, hom vasgehou en vir hom gesê: “Hou moed, Vader.” Hy het die gal aangewend en dit ingevryf. 12Hy het al twee sy hande gebruik en die wit vliese van die hoeke van sy pa se oë begin aftrek. 13Tobit het hom omhels en gehuil. Hy het vir hom gesê: “Ek kan jou sien, kind, lig van my oë.” 14Tobit het ook gesê:
“Lofwaardig is God,
en lofwaardig is sy grote Naam.
Al sy heilige engele is lofwaardig.
Mag sy grote Naam oor ons wees.
Al sy engele is lofwaardig
vir altyd en ewig,
omdat Hy my gekasty het,
en kyk, nou sien ek my seun Tobias.”
15En Tobias het ingegaan, en het God vreugdevol met sy hele mond geloof. Tobias het vir sy pa vertel dat sy reis suksesvol was, dat hy die geld teruggebring het en hoe hy Sara, die dogter van Raguel, as vrou geneem het, en dat sy juis op pad was, naby die poort van Nineve.
16Tobit het uitgegaan om Tobias se bruid by die poort van Nineve te ontmoet. Hy was bly en het God geloof. Toe die mense van Nineve hom sien loop, hoe hy heeltemal op eie krag loop sonder dat iemand hom lei, was hulle verbaas. Tobit het voor almal getuig dat God Hom oor hom ontferm en sy oë geopen het. 17Toe Tobit by Sara, die vrou van sy seun Tobias kom, het hy haar geseën en vir haar gesê: “Kom, dogter. Welkom! Lofwaardig is God wat jou na ons gebring het, dogter. Ek prys jou pa. Ek prys my seun Tobias. Ek prys jou, dogter. Kom na jou huis toe, in goeie gesondheid, geseënd en met blydskap. Kom, dogter!” 18Daardie dag was daar vreugde onder al die Judeërs in Nineve. 19Agikar en Nabad, Tobit se broerskinders, het ook daar aangekom en was saam met hom bly. En sewe dae lank het hulle die •bruilofsfees gevier, en baie geskenke is aan hulle gegee.