1Simon, seun van Onias,
was die hoëpriester,
hy wat in sy lewe die tempel
herstel het,
en in sy tyd die heiligdom
versterk het.
2En deur hom is die hoë struktuur
van die tempelringmuur daargestel.
3In sy tyd is 'n opvangplek
vir water uitgegrawe,
'n opgaarput soos die omtrek
van die See.
4Hy is die een wat gesorg het
dat sy volk nie gestruikel het nie,
en die stad versterk het tydens 'n beleg.
5Hoe is hy nie verheerlik
in die midde van sy volk
toe hy agter die voorhangsel
van die •tempel uitgekom het nie –
6soos 'n môrester tussen die wolke,
soos 'n volmaan tydens feesdae,
7soos die son skyn
op die tempel van die Allerhoogste,
en soos 'n reënboog skitter
in glansende wolke,
8soos 'n oleanderblom in lentetyd,
soos narsings by die uitloop van water,
soos 'n nuwe loot op die Libanon in die somertyd,
9soos vuur en wierook in 'n vuurpan,
soos 'n houer van geplette goud,
versier met allerlei kosbare edelstene,
10soos 'n olyfboom wat vrugte voortbring,
en soos 'n sipres wat in die wolke opklim.
11Wanneer hy 'n glansryke lang stola aantrek,
wanneer hy homself beklee met prag en praal,
en wanneer hy die heilige altaar bestyg,
het hy die binnehof van die heiligdom verheerlik;
12terwyl hy porsies uit die hande van priesters ontvang
waar hy by die vuurherd
van die altaar staan,
was daar rondom hom
'n kroon van broers
soos lote van seders in die Libanon,
en hulle het hom omring
soos die stamme van dadelpalms.
13En al Aäron se seuns was daar
in hulle prag,
en die offerande vir die Here
was in hulle hande,
voor die hele volksvergadering van Israel.
14En terwyl hy besig was
om 'n laaste offer op die altaar
te bring deur 'n offerande vir die
Allerhoogste, die Almagtige,
voor te berei,
15het hy sy hand uitgesteek
na 'n beker
en 'n •drankoffer van druiwebloed gebring,
en dit uitgegiet oor die basis
van die altaar –
'n aromatiese geur
vir die Allerhoogste,
die Koning van almal.
16Toe het die seuns van Aäron gejuig;
hulle het geblaas op trompette
van beslane metaal;
hulle het 'n harde geluid laat hoor
as 'n herinnering voor
die Allerhoogste.
17Toe het die hele volk hulle
soos een man gehaas,
en op hulle gesigte op die aarde
neergeval om hulle Here te aanbid,
die Almagtige God,
die Allerhoogste.
18Toe het die psalmsangers
hulle stemme laat opklink
met prysliedere,
'n melodie soet gemaak
en met 'n ryk toon.
19En die volk het gebid
tot die Here, die Allerhoogste,
met 'n gebed aan die
Barmhartige Een,
totdat die orde van diens
aan die Here voltooi is,
en hulle sy liturgie afgehandel het.
20Toe, nadat hy afgekom het,
het hy sy hande opgelig
oor die hele byeenkoms
van Israeliete,
om die seën van die Here
op sy lippe te neem
en te roem in sy Naam.
21Toe het hulle die aanbidding
herhaal om die seën
van die Allerhoogste te ontvang.
22En nou, loof die God van alles!
Dit is Hy wat oral groot dinge doen,
wat van die moederskoot af
glans verleen aan ons dae,
en wat met ons handel
ooreenkomstig sy ontferming.
23Mag Hy aan ons vreugdevolle
harte gee,
en mag daar vrede wees in ons dae,
gedurende die dae van ons lewe,
in Israel.
24Mag Hy sy ontferming
aan ons toevertrou
en laat Hy ons in ons tyd bevry.
25My siel is deur twee nasies vertoorn
en die derde is nie 'n nasie nie:
26hulle wat op die berg
van Samaria woon, en die Filistyne,
asook die dwase volk wat in Sigem woon.
Slotwoord
27Onderrig in insig en kennis
het ek in hierdie •boekrol geskryf –
ek, Jesus, seun van Sirag,
seun van Eleasar uit Jerusalem,
wat wysheid uit sy hart
laat voortvloei het.
28Gelukkig is hy wat hiervolgens leef,
en as hy dit in sy hart bewaar,
sal hy wys wees.
29Want as hy hierdie dinge doen,
sal hy tot alles in staat wees,
want die lig van die Here is sy pad.