1En Elia, 'n profeet soos vuur,
het opgestaan,
en sy profetiese woord
het gebrand soos 'n lamp.
2Dit is hy wat hongersnood
oor hulle gebring het,
en deur sy ywer hulle getalle
uitgedun het.
3Deur 'n woord van die Here
het hy die hemel gesluit,
en so het hy ook drie keer
vuur afgebring.
4Hoe is jy, Elia, nie verheerlik
deur jou wonderdade nie!
En wie kan roem soos jy?
5Jy is die een wat 'n lyk
uit die dood opgewek het,
ja, uit Hades, op bevel
van die Allerhoogste.
6Jy is die een wat konings
neergewerp het tot hulle vernietiging
en beroemdes van hulle beddens af –
7jy wat 'n teregwysing gehoor
het by Sinai,
en by Horeb oordele van straf;
8jy wat konings gesalf het
met die oog op vergelding,
en profete om jou op te volg;
9jy wat opgeneem is
in 'n stormwind van vuur,
in 'n strydwa met vurige perde.
10Daar is van jou geskryf dat jy
van tyd tot tyd dwalinge weerlê het
om toorn te laat bedaar
voor dit uitbreek in woede,
om die hart van 'n vader
na sy seun te draai,
en om die stamme van Jakob
te herstel.
11Gelukkig is hulle
wat jou gesien het,
en hulle wat in liefde vir jou
ontslaap het,
want ook ons sal sekerlik leef.
12Elia was van 'n stormwind omgewe,
en Elisa is met sy gees gevul;
en in sy tyd is hy nie deur enige
heerser van stryk gebring nie,
en niemand kon hom onderdruk nie.
13Geen saak was bo sy vermoë nie,
en in sy doodslaap
het sy liggaam geprofeteer.
14Gedurende sy lewe
het hy wonders gedoen,
en in sy dood was sy dade
wonderbaarlik.
15Deur al hierdie gebeure heen
het die volk nie berou getoon nie,
en het hulle nie afstand gedoen
van hulle sondes nie,
totdat hulle van hulle land
as oorlogsbuit weggevoer,
en oor die hele aarde verstrooi is.
16En die volk het in klein getalle
oorgebly,
met 'n heerser in die huis van Dawid;
en sommige van hulle
het gedoen wat die Here
behaag het,
maar ander het sondes vermenigvuldig.
17Hiskia het sy stad verskans
en water in die stad gebring;
hy het 'n tonnel met
ystergereedskap gegrawe,
en opgaarputte gebou vir water.
18In sy dae het Sanherib opgetrek,
en hy het rabsakees gestuur
en self vertrek,
sy hand gelig teen Sion,
en in hoogmoed gespog.
19Toe is hulle harte en hande geskud,
en hulle was in barensnood
soos vroue wat geboorte skenk.
20En hulle het die Here,
die Barmhartige, aangeroep,
terwyl hulle hulle hande
smekend na Hom uitgestrek het;
en die Heilige het hulle gou
vanuit die hemel aangehoor
en hulle bevry
deur die hand van Jesaja.
21Hy het die kamp van die
Assiriërs vernietig
en sy engel het hulle uitgewis.
22Want Hiskia het gedoen
wat die Here behaag het,
en hy het volgehou in die weë
van Dawid, sy voorvader,
soos Jesaja beveel het –
die profeet wat groots
en betroubaar in sy visioen was.
23In sy tyd het die son teruggegaan,
en hy het die lewe
van die koning verleng.
24Deur sy groot gees het hy
die laaste dinge gesien,
en hy het dié wat in Sion
getreur het, vertroos.
25Hy het aangetoon wat tot
in ewigheid sal gebeur,
en die verborge dinge,
nog voordat hulle plaasgevind het.