1Josua, seun van Nun,
was magtig in oorlogvoering,
en 'n opvolger van Moses in profesieë,
en hy was, soos sy naam aandui,
beroemd vir die redding
van sy uitverkorenes,
deur wraak te neem
op aanvallende vyande
sodat hy vir Israel 'n erfenis kon gee.
2Hoe is hy vereer toe hy
sy hande opgehef het,
en toe hy 'n swaard
uitgestrek het teen die stede!
3Wie voor hom het so vas gestaan?
Want dit was hý wat die oorloë
van die Here gelei het.
4Was dit nie deur sy hand
dat die son teruggehou is,
en een dag so lank soos twee
geword het nie?
5Hy het die Allerhoogste,
die Magtige, aangeroep,
toe vyande van alle kante af
hom in die noute gedruk,
en die grootse Here hom
verhoor het met haelstene
van geweldige krag.
6Hy het oorlog laat uitbreek
teen 'n nasie,
en vanaf 'n hoogte het hy dié
wat teenstand gebied het, verwoes,
sodat nasies sy wapentuig mag ken –
naamlik, dat sy oorlog
in die teenwoordigheid van die Here was.
7Want hy het inderdaad
'n Magtige Een gevolg,
en in die dae van Moses
het hy genade betoon,
hy en Kaleb, seun van Jefunne,
deur 'n volksvergadering teen te staan,
deur die volk van sonde te weerhou,
en deur hulle bose gemor
die swye op te lê.
8En hulle, alhoewel net twee,
het ongedeerd ontkom
uit seshonderdduisend voetsoldate,
om hulle na 'n erfdeel te lei,
na 'n land wat vloei
van melk en heuning.
9En die Here het aan Kaleb
krag verleen,
en tot sy oudag het dit by hom gebly,
sodat hy na die heuwelland opgegaan,
en sy nageslag 'n erfdeel ontvang het,
10en al die Israeliete kon sien
dat dit goed is om die Here te volg.
11Ook die rigters, elkeen
met sy eie naam,
wie se harte nie hoerery gepleeg het,
en wat nie van die Here af
weggedraai het nie –
mag hulle nagedagtenis tot seën wees,
12mag hulle beendere herleef
uit die plek waar hulle is,
en hulle naam oorgedra word
na die kinders van die beroemdes.
13Samuel, vir wie die Here liefhet,
'n profeet van die Here,
het 'n koningskap laat vestig,
en heersers oor sy volk gesalf.
14Deur die wet van die Here
het hy die volksvergadering gerig,
en die Here het wag gehou oor Jakob.
15Deur sy trou is hy bevind
as 'n ware profeet
en die betroubaarheid van sy
visioen het geblyk uit sy woorde.
16En hy het die Here,
die Magtige, aangeroep
– wanneer sy vyande rondom hom
hom in die noute gebring het –
met die offerande van
'n lammetjie wat nog aan sy ma drink.
17En die Here het uit die hemel
donder laat klink,
en met 'n harde geluid
het Hy sy stem laat hoor.
18En hy het die leiers van Tirus
uitgewis,
en al die heersers van die Filistyne.
19En voor die tyd van ewige slaap
het hy voor die Here
en sy gesalfde getuig:
“Geen besittings,
selfs nie 'n paar skoene,
het ek ontvang van enige mens nie!”
En nie 'n enkele persoon
het hom beskuldig nie.
20Selfs nadat hy die doodslaap
ingegaan het,
het hy geprofeteer,
en aan die koning sy einde
bekend gemaak,
en sy stem uit die aarde verhef
in 'n profesie ten einde
die wetteloosheid
van die volk uit te wis.