1En Hy het uit Jakob
'n deernisvolle man voortgebring
wat guns gevind het in die oë
van alle mense,
geliefd deur God en mense –
Moses, wie se herinnering
deur seëninge vergesel is.
2God het hom gelykgestel
aan die heerlikheid van heiliges
en Hy het hom verhef deur vrees
te stig onder die vyande.
3Deur Moses se woorde het Hy
wondertekens laat ophou.
Hy het hom voor konings verheerlik;
Hy het hom bevele gegee vir sy volk
en het hom sy heerlikheid getoon.
4Op grond van sy getrouheid en sagmoedigheid
het Hy hom afgesonder
en uit alle mense hom uitgekies.
5Hy het hom sy stem laat hoor,
hom in die duisternis gelei
en aan hom van aangesig
tot aangesig gebooie gegee –
'n wet vir die lewe en kennis,
om Jakob 'n verbond te leer
en Israel sy oordele.
6Hy het sy broer, Aäron,
uit die geslag van Levi,
verhef –
'n heilige man soos hyself.
7Hy het 'n ewige verbond met hom gesluit
en aan hom die priesterskap
van die volk besorg;
Hy het hom geseën met waardige optrede
en hom beklee met 'n mantel van eer.
8Hy het hom geklee met
volmaakte heerlikheid
en hom versterk met die
uitrustings van mag –
'n linnebroek, 'n vollengtemantel en 'n efod.
9Hy het hom ook met granate omring,
met baie goue klokkies rondom –
om 'n geluid te maak wanneer hy loop,
'n hoorbare geluid in die •tempel
– as 'n herinnering vir die kinders van sy volk;
10met die heilige lang stola,
met goud en oranje en purper,
die werk van 'n borduurder;
met die borsplaat van oordeel,
simbole van waarheid;
met gevlegte skarlaken,
die werk van 'n ambagsman;
11met kosbare stene
van 'n gegraveerde seël
in 'n goue montuur,
die werk van 'n juwelier,
ter herinnering, in gegraveerde skrif,
aan die getal stamme van Israel;
12met 'n kroon van goud op 'n tulband,
'n heilige seël in reliëf,
'n pronkstuk van eer,
'n geweldige werk –
alles ryklik versierde
voorwerpe wat die oog begeer.
13Voor sy tyd het sulke pragtige
dinge nie bestaan nie.
Tot in ewigheid sal geen
vreemde dit aangetrek het nie,
behalwe net sy seuns
en hulle nageslag vir altyd.
14Sy offers sal heeltemal verbrand word,
twee keer per dag, sonder onderbreking.
15Moses het sy hande gevul
en hom met heilige olie gesalf;
dit het vir hom 'n ewige verbond geword,
asook vir sy saad,
solank die hemel bestaan,
om Hom te dien en terselfdertyd 'n priester te wees
en om sy volk te seën in sy Naam.
16Hy het hom uit almal wat leef, uitgekies,
om 'n offer aan die Here te bring,
wierook en 'n aangename
geur, ter herinnering,
om versoening vir die volk te doen.
17Deur sy gebooie het Hy aan
hom gesag verleen om
volgens verbondsbepalings oordele te vel,
om vir Jakob die getuienisse te leer
en om deur sy Wet Israel te verlig.
18Vreemdelinge het teen hom planne beraam
en hulle was jaloers op hom in die woestyn –
die manne saam met Datan en Abiram
en dié wat in toorn en woede
by Korag versamel was.
19Die Here het gekyk
en was nie tevrede nie,
en hulle is vernietig
deur sy grimmige toorn;
Hy het wonderwerke teen hulle gedoen
deur hulle te verteer in die vlam van sy vuur.
20Hy het glorie vir Aäron bygevoeg
en aan hom 'n erfdeel gegee;
die eerste gawe van die eerste produkte
het Hy aan hom toegeken;
brood van die eerstelinge
het die Here in oorvloed voorberei.
21Want ook hulle sal die
offerandes van die Here eet,
wat Hy aan hom én sy nageslag gegee het.
22Maar in die land van die volk
sal hy geen erfenis besit nie,
en daar is vir hom geen erfdeel
onder die volk nie,
want God self is sy erfdeel en nalatenskap.
23En Pinehas, die seun van
Eleasar, is derde in glorie,
aangesien hy ywerig was
in sy ontsag vir die Here
en hy vasgestaan het tydens
die afdwaling van die volk;
deur die goedheid, die ywer van sy siel,
het hy ook versoening vir Israel gedoen.
24Daarom is daar met hom
'n verbond van vrede gesluit,
om in beheer te wees van
heilige dinge en van sy volk,
sodat hy en sy nageslag
vir ewig die grootsheid van
die priesterskap kan besit.
25Daar is ook 'n verbond gesluit
met Dawid, seun van Isai,
uit die stam van Juda,
dat die erfdeel van die koning
slegs van seun tot seun sal wees,
en die erfdeel van Aäron
ook vir sy nageslag.
26Mag Hy aan julle wysheid
in julle hart skenk
om sy volk in regverdigheid te oordeel,
sodat hulle goeie dade nie verdwyn nie
en hulle glorie oor hulle
geslagte heen sal wees.