1Eer 'n geneesheer vir sy dienste
aan jou met die eer wat hom toekom,
want die Here het hom
inderdaad geskape.
2Want genesing kom
van die Allerhoogste,
maar sy vergoeding sal hy
van die koning ontvang.
3'n Geneesheer se kundigheid
maak hom beroemd,
en in die teenwoordigheid
van maghebbers
sal hy bewonder word.
4Die Here het geneesmiddele
uit die aarde geskep,
en 'n verstandige man
sal dit nie geringskat nie.
5Is water nie soet gemaak deur hout,
sodat die krag daarvan
bekend kon word nie?
6En dit was Hy wat kennis
aan die mens gegee het,
sodat Hy deur sy wonderdade verheerlik kan word.
7Daardeur genees Hy
en neem Hy die pyn weg,
maar met die middele sal
die apteker sy mengsel saamstel.
8Die Here se werk sal nooit
voltooi word nie,
en sy vrede rus op die aarde.
9Kind, moenie in jou
ongesteldheid rondkyk nie,
maar bid tot die Here
en Hy sal jou genees.
10Vermy oortredings
en rig jou hande op wat reg is,
en reinig jou hart van alle sonde.
11Brand wierook,
bring 'n herinneringsoffer
van gesifte meel,
en bring 'n oordadige vetoffer.
12Gee aan 'n geneesheer 'n plek,
want die Here het hom
inderdaad geskep,
en laat hy hom nie aan jou onttrek nie,
want hy is beslis nodig.
13Daar is 'n tyd wanneer sukses
ook in hulle hande is.
14Want hulle sal ook tot die Here bid,
dat Hy goedgunstiglik
aan hulle verligting,
en genesing vir die
instandhouding van lewe sal gee.
15Mag hy wat sondig voor sy Skepper
in die hande van 'n geneesheer val.
16Kind, stort jou trane oor 'n dooie,
en begin 'n klaaglied soos een
wat verskriklik ly,
maar lê sy liggaam uit
volgens sy besluit,
en moenie sy begrafnis afskeep nie.
17Sorg dat die geween bitter is,
en die klaaglied gevoelvol,
en sorg dat die rouproses hom waardig is,
een of twee dae lank,
sodat die mense nie kan skinder nie,
en wees dan getroos ná die verdriet.
18Want uit verdriet kom dood voort,
en verdriet van die hart ondermyn krag.
19In ellende duur verdriet ook voort,
en die lewe van 'n arme
lê swaar op die hart.
20Moet jou hart nie oorgee
aan verdriet nie;
onttrek jou daaraan wanneer jy
aan die einddinge dink.
21Moet dit nie vergeet nie,
want daar is geen terugkeer nie,
en jy sal hom nie bevoordeel nie,
maar jy sal jouself benadeel.
22Onthou my oordeel,
want so sal joune ook wees –
vir my gister en vir jou vandag.
23Wanneer die dooie ter ruste gelê is,
lê dan sy nagedagtenis ter ruste,
en word daardeur getroos,
oor die vertrek van sy gees.
24'n Sekretaris se wysheid
lê in die geleentheid tot vrye tyd,
en hy wat hom minder
met sy besigheid vermoei,
sal wys word.
25Hoe sal iemand wys word
wat 'n ploeg vashou,
en spog oor 'n prikstok,
terwyl hy vee aandryf
en betrokke is by hulle versorging,
terwyl sy gesprekke handel oor kalwers?
26Hy sal sy lewe wy
aan die ploeg van vore,
en sy slapeloosheid het te make
met voer vir die kalwers.
27So ook elke ambagsman
en meesterbouer wat snags
voortgaan asof dit dag is,
hulle wat figure op seëls uitkerf,
en die een wat die geduld het
om verskillende beelde te maak –
hy sal sy lewe daaraan wy
om 'n skildery lewensgetrou
te maak,
en hy slaap nie,
om sy werk te kan voltooi.
28So ook 'n smid wat naby
'n aambeeld sit,
terwyl hy voorwerpe
van yster aandagtig bekyk;
die gloed van die vuur
sal sy liggaam skroei,
tog sal hy teen die hitte
van die oond stry;
die geraas van die hamer
weerklink in sy ore,
en sy oë is vasgenael op die
patroon van die voorwerp.
Hy sal sy lewe daaraan wy
om die voorwerpe te voltooi,
en slaap inboet om die
versiering daarvan te voltooi.
29So ook 'n pottebakker
wat by sy werk sit,
terwyl hy sy pottebakkerswiel
met sy voete draai –
hy wat gedurig vol bekommernis
lê oor sy werk,
en al sy werke word bymekaar getel.
30Met sy arm sal hy die klei vorm,
en met sy voete sal hy dit sag maak;
hy sal sy lewe daaraan wy
om die verfwerk te voltooi,
en hy boet slaap in om die oond
skoon te maak.
31Hulle vertrou almal op hulle hande
en is almal kundig in hulle werk.
32Sonder hulle sal 'n stad
nie gevestig word nie,
en sal hulle nie daarin woon
of rondbeweeg nie.
33Maar hulle sal nie gesoek word om raad vir die volk te gee nie,
ook sal hulle nie hoë posisies
in die volksvergadering beklee nie.
Hulle sal nie op die regter
se stoel sit nie,
en die ooreenkoms in 'n regsbesluit sal hulle nie verstaan nie.
34Ook sal hulle nie lig kan werp
op onderrig en besluitneming nie,
en wyse spreuke sal nie by hulle
gevind word nie.
Maar hulle sal die vestiging
van 'n nuwe orde ondersteun,
en hulle begeerte is
die beoefening van 'n ambag.