1Het hulle jou as banketleier aangestel?
Moet jouself nie verhef nie,
wees onder hulle soos een van hulle,
bedien hulle en gaan sit dan.
2En wanneer jy al jou
tafelpligte nagekom het,
leun dan aan tafel aan,
sodat jy oor hulle vrolik kan wees,
en op grond van jou
suksesvolle optrede 'n krans kan ontvang.
3Spreek, oudste
– want dit is vir jou gepas –
met noukeurige kennis,
en moenie die musiek stil maak nie.
4Waar daar 'n uitvoering is,
moet jy nie baie praat nie,
en moenie ontydig probeer
gevat wees nie.
5'n Seël van •karbonkelsteen
op 'n goue ornament,
is 'n musiekuitvoering
by 'n wynbanket.
6'n Seël van smarag
in 'n goue omhulsel,
is 'n melodie van instrumente
saam met soet wyn.
7Spreek, jeugdige,
as jy dit nodig vind,
en hoogstens 'n tweede keer
as jy gevra word.
8Vat jou rede in hoofsake saam;
sê baie met min woorde.
Wees soos een wat kennis het
maar terselfdertyd tog swyg.
9Moenie te midde van
die maghebbers soos hulle gelyke optree nie,
en as 'n ander praat, moet jy nie
allerhande aanmerkings maak nie.
10Voor die donderweer
flits die weerlig skielik neer,
en innemendheid sal 'n beskeie
mens vooruitloop.
11Staan betyds op en moenie
laaste in die ry wees nie;
keer huiswaarts en moenie talm nie.
12Tuis kan jy ontspan en doen
wat jou hart begeer,
maar moenie sondig
deur grootpratery nie.
13En prys boonop die Een
wat jou gemaak het,
en wat jou oorlaai met sy seëninge.
Ontsag vir die Here
14Wie ontsag het vir die Here,
sal dissipline aanvaar,
en hulle wat vroeg opstaan,
sal goedkeuring vind.
15Wie die wet nastreef,
sal daardeur gevul word,
maar wie skynheilig is,
sal daardeur struikel.
16Hulle wat ontsag het vir die Here,
sal sy beslissing vind,
en hulle sal regverdige dade
aansteek soos 'n lig.
17'n Sondige mens
sal teregwysing vermy,
en volgens sy wil
sal hy 'n beslissing vind.
18'n Man met oorleg sal beslis nie 'n ingewing laat verbygaan nie;
'n vreemde en verwaande man
sal nie afgeskrik word
deur vrees nie.
19Moet niks doen sonder oorleg nie,
en moet dan nie berou hê
as jy dit gedoen het nie.
20Moenie op 'n weg van konflik
gaan nie,
en moenie op klipperige grond
struikel nie.
21Moenie 'n onbekende weg
vertrou nie,
22en wees versigtig vir jou kinders.
23Vertrou jouself in elke onderneming,
want dit is ook 'n manier
om die gebooie te bewaar.
24Wie op die wet vertrou,
slaan ag op die gebooie,
en wie op die Here vertrou,
sal nie verlies ly nie.