1Slapeloosheid oor rykdom
laat die liggaam kwyn,
en bekommernis daaroor
hou die slaap weg.
2Bekommernis oor slapeloosheid
sal die vaak verdryf,
en 'n ernstige siekte
sal die slaap weghou.
3'n Ryke werk hard
om besittings te versamel,
en wanneer hy rus,
vul hy homself met lekkernye.
4'n Arme werk hard
vir 'n karige bestaan,
en wanneer hy rus,
ly hy gebrek.
5Hy wat goud liefhet,
sal nie geregverdig word nie,
en hy wat geld najaag,
sal daardeur verlei word.
6Baie mense is uitgelewer aan
ondergang as gevolg van goud,
en hulle vernietiging het reg
voor hulle oë plaasgevind.
7Dit is 'n struikelblok vir
diegene wat versot is daarop,
en elke dwaas sal daardeur
gevange geneem word.
8Gelukkig is 'n ryke
wat onberispelik is,
en wat nie goud najaag nie.
9Wie is hy? Ons sal hom
inderdaad gelukkig noem,
want hy het wonderlike dade
verrig onder sy volk.
10Wie is daardeur getoets
en volmaak bevind?
Dit sal vir hom 'n rede tot roem wees.
Wie was ooit in die posisie
om te oortree,
en het nie oortree nie,
en om kwaad aan te rig,
en het dit nie gedoen nie?
11So iemand se goeie dade
sal bevestig word,
en 'n volksvergadering
sal sy aalmoese vermeld.
12Het jy al jou plek ingeneem
by 'n ryk gevulde tafel?
Moenie daaroor grootpraat nie,
en moenie sê,
“Daar is voorwaar baie dinge op!” nie.
13Onthou dat 'n bose oog iets slegs is;
wat is boser geskep as die oog?
Daarom stroom trane teen elke gesig af.
14Wat jy ook al sien,
moenie jou hand daarna uitsteek nie,
en moet dit nie saam met
iemand in die skottel steek nie.
15Dink oor die sake van jou
naaste asof dit joune is,
en wees deurdag oor elke saak.
16Eet wat aan jou voorgesit
word soos 'n mens,
en moet dit nie verslind nie,
sodat jy nie verafsku word nie.
17Wees die eerste om op te hou eet
op grond van jou opvoeding,
en moet jou nie ooreet nie,
sodat jy nie aanstoot gee nie.
18As jy tussen baie mense sit,
moenie jou hand uitsteek
voordat hulle dit doen nie.
19Vir die opgevoede mens
is min ook genoeg,
en op sy bed snak hy
nie na sy asem nie.
20Gesonde slaap kom deur
'n maag wat matig gevul is.
So iemand staan vroeg op
en sy siel voel verfris.
Die ongerief van slapeloosheid
en naarheid en koliek vergesel die mens wat hom ooreet.
21Indien jy wel deur die kos
oorweldig word, staan op,
gaan 'n ent weg en gooi op,
en jy sal verligting ervaar.
22Luister na my, kind,
en moet my nie minag nie;
aan die einde sal jy wel
my woorde verstaan.
Wees vaardig in al jou werk,
dan sal geen siekte jou ooit oorval nie.
23Lippe sal dié mens prys
wat vrygewig is met kos,
en betroubaar is die getuienis
oor sy voortreflikheid.
24Die stad sal murmureer
oor hom wat suinig is met kos,
en betroubaar is die getuienis
oor sy gemeenheid.
25Moenie met wyn manhaftig wees nie,
want wyn het al baie mense vernietig.
26'n Oond toets staal
as dit daarin gesteek word;
so toets wyn harte
wanneer oormoediges baklei.
27Wyn is soos lewe vir 'n mens,
as jy dit matig gebruik.
Wat is die lewe vir diegene
wat 'n tekort aan wyn het?
Dit is geskep om vir mense
vreugde te bring.
28Daar is hartsverblyding
en sielevreugde wanneer
genoeg wyn op die gepaste
tyd gedrink word.
29Daar is sielsbitterheid
wanneer baie wyn gedrink word,
te midde van getwis en konflik.
30Dronkenskap vergroot 'n dwaas se woede, tot sy eie skade,
aangesien dit 'n mens verswak en beserings meebring.
31Moenie jou naaste berispe
by 'n wynbanket nie,
en moet hom nie verag
in sy vreugde nie.
Moenie 'n smalende woord
tot hom rig nie,
en moet hom nie onder druk
plaas met eise nie.