1Wie wraak neem, sal die wraak
van die Here ondervind,
en Hy sal beslis sy sondes
in ag neem.
2Vergewe jou buurman 'n oortreding,
en dan, wanneer jy bid,
sal jou sondes vergewe word.
3'n Mens koester woede
teenoor 'n ander mens,
maar bly hy tog op soek
na genesing van die Here?
4Hy betoon nie genade
vir 'n mens soos hyself nie,
maar bid hy tog vir sy eie sondes?
5As hy, wat self vlees is,
vashou aan die woede,
wie sal versoening doen
vir sy sondes?
6Dink aan die eindtye,
en staak jou vyandskap;
dink aan verganklikheid en dood,
en bly binne die gebooie.
7Dink aan die gebooie
en moenie 'n grief koester
teenoor jou naaste nie,
en dink aan die verbond
van die Allerhoogste
en sien onkunde oor.
8Hou op rusie maak
en jy sal sondes verminder,
want 'n mens wat kort van draad is, sal rusie aanvuur,
9en 'n sondige mens
sal sy vriende ontstel,
en onder mense wat vreedsaam
verkeer, sal hy tweedrag saai.
10Soveel hout as wat daar
in 'n vuur is,
so sal dit brand,
en soveel hardkoppigheid
as wat daar in 'n twis is,
so sal dit erger word;
en soveel krag as wat daar
in 'n mens is,
so sal sy woede wees;
en so groot as wat sy rykdom is,
so sal sy gramskap vermeerder.
11'n Twis wat aangehits word,
stook 'n vuur
en 'n stryd wat aangehits word,
vergiet bloed.
12As jy 'n vonk aanblaas,
sal dit opvlam
en as jy daarop spoeg,
sal dit geblus word –
tog kom beide voort uit jou mond.
13Vervloek 'n naamskender
en een wat met twee tonge praat,
want hy het baie mense
wat in vrede leef, vernietig.
14'n Derde tong het baie mense
al ontstel,
en hulle van nasie tot nasie verstrooi,
en sterk stede verwoes,
en die huise van maghebbers omgekeer.
15'n Derde tong het moedige
vroue uitgewerp,
en hulle take van hulle weggeneem.
16Wie hom daaraan skuldig maak,
sal beslis nie rus vind nie;
ook sal hy nie rustig tent opslaan nie.
17'n Sweepslag veroorsaak 'n wond,
maar die slag van die tong
sal bene breek.
18Baie mense het al geval
deur die snykant van 'n dolk,
maar nie so baie soos dié
wat deur 'n tong tot 'n val
gekom het nie.
19Gelukkig is die een
wat van die tong bewaar is,
wat nie sy woede ervaar het nie,
wat nie in sy juk getrek het,
en in sy kettings nie vasgemaak is nie.
20Want die tong se juk
is 'n juk van yster,
en sy kettings is kettings van brons.
21'n Erge dood is die dood
wat hy bring,
en Hades is verkieslik bo hom.
22Hy sal nooit oor godvresende
mense heers nie,
en in sy vlam sal hulle
nie verbrand nie.
23Hulle wat die Here verlaat,
sal daarin val,
en die vlam sal in hulle binneste brand,
en nooit geblus word nie.
Die tong sal agter hulle aan
gestuur word soos 'n leeu,
en soos 'n luiperd hulle vermink.
24Kyk! Omhein jou eiendom
met doringtakke,
sluit toe jou silwer en goud,
25en maak vir jou woorde
'n weegskaal en 'n gewig,
en vir jou mond 'n hek en 'n grendel.
26Pasop dat jy nie
met die tong fouteer nie;
moenie voor iemand val wat lê en wag nie.