1Hy wat vir ewig lewe,
het alles op gelyke basis geskep.
2Die Here alleen sal geregverdig word.
4Hy het niemand toegelaat
om sy werke aan te kondig nie,
en wie kan sy grootse dade naspeur?
5Wie sal die krag
van sy grootheid kan meet?
En wie sal daarby nog
van sy genade kan vertel?
6Niemand kan weglaat of toevoeg nie,
en dit is nie moontlik
om die wonders van die Here
na te speur nie;
7wanneer 'n mens eindig,
dan begin hy eintlik eers
en wanneer hy dit staak,
sal hy radeloos wees.
8Wat is die mens,
en wat is sy waarde?
Wat is sy goeie kenmerke
en wat sy slegtes?
9Die aantal dae van die mens
is wel baie jare – honderd jaar!
10Soos 'n druppel water
van die see en 'n korrel sand,
so is 'n paar jaar gemeet
teen 'n dag van die ewigheid.
11Daarom was die Here
geduldig met hulle,
en het Hy sy ontferming
oor hulle uitgegiet.
12Hy het hulle ondergang gesien
en begryp dat dit verskriklik is;
daarom het Hy sy vergifnis vermeerder.
13Die ontferming van die mens
is op sy naaste gerig,
maar die ontferming
van die Here op alle vlees.
Hy bestraf en dissiplineer
en onderrig en begelei sy kudde
soos 'n herder.
14Hy ontferm Hom oor diegene
wat dissipline aanvaar,
asook oor diegene wat erns
maak met sy oordele.
15Kind, moenie skande tot jou
goeie dade toevoeg nie,
ook nie pynlike woorde
by elke geskenk nie.
16Verbreek dou nie
'n versengende hitte nie?
So is 'n woord beter as 'n geskenk.
17Kyk, is 'n woord nie selfs beter
as 'n goeie gawe nie?
Beide is te vinde by 'n persoon
wat begenadig is.
18'n Dwaas verwyt genadeloos
en die geskenk van die afgunstige
verdof die oë.
19Wees ingelig voordat jy praat;
voor jy siek word,
sorg vir jou gesondheid.
20Ondersoek jouself
vóór die oordeel,
en jy sal vergifnis vind
in 'n tyd van toetsing.
21Voordat jy siek word, verneder jou,
en toon in 'n tyd van sonde
dat jy bekeer is.
22Moenie verhinder word
om 'n gelofte betyds na te kom nie,
en moenie tot die dood toe wag
om geregverdig te word nie.
23Voordat jy 'n gelofte maak,
berei jou voor,
en moenie soos 'n mens wees
wat die Here versoek nie.
24Dink in die dae van jou dood
aan sy toorn,
so ook in 'n tyd van oordeel
wanneer Hy sy gesig wegdraai.
25Dink aan 'n tyd van honger
in 'n tyd van oorvloed,
aan armoede en gebrek
in tye van welvaart.
26Van die oggend tot die aand
verander geleenthede,
en alles gebeur vinnig voor die Here.
27'n Wyse man sal op sy hoede
wees in alle opsigte,
en in tye van sonde
sal hy aandag skenk aan oortredings.
28Elke verstandige persoon
herken Wysheid,
en aan diegene wat haar vind,
sal sy erkenning verleen.
29Mense wat vindingryk is
met woorde tree wys op,
en hulle bring gepaste spreuke voort.
30Moenie langer agter
jou begeertes aanloop nie
en weerhou jou van jou luste.
31As jy jou siel se begeertes goedkeur,
sal dit jou 'n voorwerp van
bespotting maak vir jou vyande.
32Moenie verheug wees
oor baie luukses nie;
moenie verarm word deur
te veel daaraan te spandeer nie.
33Moenie arm word deur
op skuld feestelik te lewe
terwyl jy niks in jou beursie het nie.