Klaaglied oor Babilon
1Hierna het ek 'n ander engel uit die hemel sien afkom. Hy het oor groot mag beskik, en die aarde deur sy heerlikheid verlig. 2Hy het met 'n kragtige stem uitgeroep:
“Geval, geval het Babilon die Grote!
Sy het 'n woonplek vir demone geword,
'n skuilplek vir elke onrein gees,
'n skuilplek vir elke onrein voël,
en 'n skuilplek vir elke onrein en veragtelike dier,
3omdat al die nasies gedrink het van die wyn
van die wellus van haar hoerery.
Die konings van die aarde
het onsedelik met haar verkeer,
en die handelaars van die aarde
het ryk geword
uit die aantrekkingskrag
van haar weelde.”
4Toe het ek 'n ander stem uit die hemel hoor sê:
“Gaan weg van haar, my volk,
sodat julle nie ook deelneem
aan haar sonde nie,
en julle haar plae
nie oor julle bring nie.
5Haar sonde het opgehoop
tot aan die hemel,
en God het haar onregverdige dade onthou.
6Vergeld haar soos sy julle
dit laat ontgeld het,
vergeld haar dubbeld,
ooreenkomstig haar dade.
In die beker waarin sy vir julle
gemeng het,
moet julle vir haar
twee keer soveel meng.
7In dieselfde mate
as wat sy haarself verheerlik
en in weelde geleef het,
moet julle haar
ook pyn en smart aandoen.
Want in haar hart sê sy,
‘Ek sit steeds as 'n koningin;
ek is nie 'n weduwee nie,
en smart sal ek beslis nie ervaar nie.’
8Daarom sal die plae
wat vir haar bedoel is,
haar op een dag tref,
dood en smart en hongersnood,
en sy sal met vuur verbrand word;
want magtig is die Here God,
wat die oordeel oor haar gevel het.”
9Die konings van die aarde wat onsedelik met haar verkeer het en uitspattig geleef het, sal oor haar huil en rou wanneer hulle die rook van haar verbranding sien. 10Hulle sal uit vrees vir haar foltering op 'n afstand staan en sê:
“Wee, wee jou, groot stad,
Babilon, magtige stad,
binne 'n oomblik
het jou oordeel aangebreek!”
11Ook die handelaars van die aarde huil en rou oor haar, omdat niemand hulle handelsware meer koop nie: 12skeepsvragte goud en silwer, edelstene en pêrels, fyn linne, purper materiaal, sy en helderrooi materiaal, elke geurige houtsoort, elke voorwerp van ivoor, elke voorwerp van kosbare hout, van koper, van yster en van marmer, 13kaneel en speserye, reukwerk, reukolie en wierook, wyn en olyfolie, meel en koring, beeste en skape, perde, rytuie, slawe, en ook menselewens.
14“En die vrug van jou hartsbegeerte
is jou nou ontneem.
Al die weelde en luukshede
is nou vir jou verlore;
dit is beslis nie meer te vinde nie.”
15Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op 'n afstand staan, uit vrees vir haar foltering. Hulle huil en rou onophoudelik, 16terwyl hulle sê:
“Wee, wee jou, groot stad,
uitgedos in fyn linneklere,
purperrooi en helderrooi,
en opgesmuk met goud
en edelstene en pêrels!
17Want binne 'n oomblik
is soveel rykdom uitgewis!”
Elke stuurman, en elkeen wat iewers heen vaar, die matrose en hulle wat 'n lewe maak uit die see, het op 'n afstand gestaan. 18Hulle het geskree toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: “Watter stad is net soos dié groot stad?” 19En hulle het stof op hulle koppe gestrooi en geskree, terwyl hulle huil en rou en sê:
“Wee, wee jou, groot stad,
deur wie se skatte
almal wat skepe op see besit,
ryk geword het.
Want binne 'n oomblik is sy uitgewis.
20Juig oor haar, hemel,
•heiliges, •apostels en profete!
God het julle oordeel oor haar voltrek.”
21Toe het een sterk engel 'n klip, soos 'n groot maalklip van 'n donkie, opgetel en dit in die see gegooi en gesê:
“Net so, met geweld,
sal die groot stad Babilon
neergegooi word,
en sy sal nooit weer gevind word nie.
22En die klank van siterspelers en sangers,
van fluitspelers en trompetblasers,
sal nooit weer in jou gehoor word nie.
En geen ambagsman van enige ambag
sal ooit weer in jou gevind word nie.
Ook die geluid van 'n meule
sal nooit weer in jou gehoor word,
23en die lig van 'n lamp
sal nooit weer in jou skyn nie.
Die stem van 'n bruidegom en bruid
sal nooit weer in jou gehoor word nie.
Jou sakelui was die magtiges van die aarde,
want deur jou betowering
is al die nasies mislei.
24Maar in haar is ook die bloed
van profete en heiliges gevind,
en ook van almal
wat op die aarde doodgemaak is.”