Sewe bakke
1Ek het toe 'n harde stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: “Gaan en gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!”
2Die eerste engel het uitgegaan, en sy bak op die aarde uitgegooi. Daar het toe kwaadaardige en bose swere uitgeslaan op die mense wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid.
3Die tweede engel het sy bak oor die see uitgegooi. Dit het verander in bloed, soos van 'n dooie, en elke lewende wese in die see het doodgegaan.
4Die derde engel het sy bak oor die riviere en die fonteine uitgegooi, en dit het in bloed verander. 5Toe het ek die engel van die water hoor sê:
“U is regverdig,
U wat is en wat was, die Heilige,
omdat U oor hierdie dinge geoordeel het;
6want hulle het die bloed
van •heiliges en profete vergiet,
en U het hulle bloed gegee om te drink.
Hulle verdien dit.”
7Toe het ek die engel van die altaar hoor sê:
“Ja, Here God, Almagtige,
u oordele is betroubaar en regverdig.”
8Die vierde engel het sy bak oor die son uitgegooi, en die son is toegelaat om die mense met vuur te skroei. 9Die mense is deur 'n versengende hitte geskroei, en hulle het gelaster teen die Naam van God, wat mag oor hierdie plae het. Nogtans het hulle hulle nie bekeer, en aan Hom heerlikheid bewys nie.
10Die vyfde engel het sy bak oor die troon van die dier uitgegooi. Sy koninkryk is in duisternis gehul, en die mense het op hulle tonge gebyt van die pyn. 11Hulle het ook die God van die hemel gelaster, as gevolg van hulle pyne en hulle swere. Nogtans het hulle nie tot bekering van hulle dade gekom nie.
12Die sesde engel het sy bak oor die groot Eufraatrivier uitgegooi, en die rivier se water het opgedroog om 'n pad vir die konings uit die ooste gereed te maak. 13Toe het ek uit die bek van die draak, en uit die bek van die dier, en uit die mond van die vals profeet, drie onrein geeste sien kom wat soos paddas lyk. 14Hulle is demoniese geeste wat tekens doen, en wat na die konings van die hele bewoonde wêreld gaan, om hulle byeen te bring vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige.
15“Kyk, Ek kom soos 'n dief! Gelukkig is die een wat wakker bly en sy klere byderhand hou, sodat hy nie naak loop, en die mense sy skaamte sien nie.”
16Die geeste het die konings byeengebring by die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.
17Toe het die sewende engel sy bak in die lug uitgegooi. Uit die tempel, van die troon se kant af, het 'n harde stem uitgeroep: “Dit is afgehandel!” 18En weerligstrale, 'n gerammel en donderslae het gevolg, en ook 'n vernietigende aardbewing, soos wat nog nie plaasgevind het sedert daar mense op aarde was nie – so geweldig was die aardbewing. 19Die groot stad het in drie dele uitmekaar geval, en die stede van die nasies het ineengetuimel. God het aan Babilon, die magtige, gedink deur aan haar die beker wyn van die gramskap van sy toorn te gee. 20En elke eiland het in die niet verdwyn, en berge was nie meer te vind nie. 21Groot haelstene, ongeveer 'n talent swaar, het uit die hemel op die mense neergereën. En die mense het God gelaster oor die haelplaag, omdat dit 'n uitermate groot plaag was.