Korag, Datan en Abiram se opstand
1Korag, seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het Datan en Abiram, seuns van Eliab, en On, seun van Pelet, uit die nageslag van Ruben, geneem. 2Hulle en tweehonderd-en-vyftig mans van die Israeliete, leiers van die volksvergadering wat vir die geleentheid opgeroep is, manne van aansien, het voor Moses gaan staan. 3Hulle het hulle teen Moses en Aäron opgestel en vir hulle gesê: “Julle gaan nou te ver! Want die hele volksvergadering, hulle almal, is heilig, en die Here is in hulle midde. Waarom verhef julle julleself bo die geloofsgemeenskap van die Here?”
4Toe Moses dit hoor, het hy op sy gesig neergeval. 5Hy het met Korag en sy hele bende gepraat en gesê: “Môreoggend sal die Here bekend maak wie aan Hom behoort en wie heilig is; Hy sal daardie persoon na Hom laat nader kom. Die een wat Hy kies, sal Hy na Hom laat naderk om. 6Julle moet die volgende doen: Korag, jy en jou hele bende, vat vir julle vuurpanne. 7Sit môre kole vuur daarin; gooi reukwerk daarop in die teenwoordigheid van die Here. Die man wat deur die Here gekies word, hy is die heilige. Julle het nou te ver gegaan, Leviete!”
8Moses het ook vir Korag gesê: “Luister nou, nageslag van Levi! 9Is dit nie vir julle genoeg nie dat die God van Israel julle afgesonder het van die volksvergadering van Israel om julle na Hom te laat nader kom om tabernakeldiens vir die Here te doen, en om diensbaar te wees aan die volksvergadering deur hulle by te staan? 10Hy het jou en al jou broers, die Leviete, saam met jou tot Hom laat nader; maar nou eis julle ook die priesterskap. 11Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die Here saamspan. Maar Aäron, wie is hy dat julle oor hom mor?”
12Moses het iemand gestuur om Datan en Abiram, seuns van Eliab, te roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie gaan nie. 13Is dit nie genoeg nie dat jy ons uit die land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn te laat sterf, dat jy ook nog voortdurend oor ons wil baasspeel? 14Daarby het jy ons nie na 'n land gebring wat oorloop van melk en heuning nie, en jy het nie vir ons 'n erfdeel van lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie manne se oë verblind? Ons sal nie gaan nie!”
15Moses het baie kwaad geword en vir die Here gesê: “U moet nie ag slaan op hulle offergawe nie. Ek het nie 'n enkele donkie van hulle geneem nie, en ek het nie een van hulle kwaad aangedoen nie.”
16Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die Here is, jy en hulle en Aäron. 17Elkeen van julle moet sy vuurpan neem en reukwerk daarop sit. Dan moet julle nader kom voor die Here, elkeen met sy vuurpan, tweehonderd-en-vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron, elkeen met sy vuurpan.”
18Elkeen van hulle het toe sy vuurpan geneem, kole vuur daarin gesit en reukwerk daarop gegooi. Hulle het by die ingang van die •Tent van Ontmoeting gaan staan, ook Moses en Aäron. 19Korag het die hele volksvergadering teenoor hulle laat stelling inneem by die ingang van die Tent van Ontmoeting; en toe verskyn die heerlikheid van die Here aan die hele volksvergadering.
20Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê: 21“Onttrek julle aan hierdie volksvergadering, sodat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.” 22Hulle het op hulle gesigte neergeval en gesê: “O God, die God wat lewensasem gee aan alle vlees, gaan U vir die hele volksvergadering vertoornd wees wanneer een man sondig?” 23Daarop het die Here vir Moses gesê: 24“Sê vir die volksvergadering, ‘Gee pad rondom die blyplekke van Korag, Datan en Abiram!’ ” 25Moses het opgestaan en na Datan en Abiram gegaan, en die oudstes van Israel het hom gevolg. 26Toe praat hy met die volksvergadering en sê: “Kom tog weg van die tente van hierdie bose manne! Moenie aan enigiets raak wat aan hulle behoort nie, anders word julle meegesleur oor al hulle sonde.”
27Hulle het toe padgegee rondom die woonplek van Korag, Datan en Abiram. Datan en Abiram het uitgegaan en by die ingang van hulle tente gaan staan, saam met hulle vroue, kinders en kleuters. 28Moses het gesê: “Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat dit nie uit my eie is nie. 29As hierdie mense soos elke ander mens sterf, die lot van elke mens hulle ook tref, het die Here my nie gestuur nie. 30Maar as die Here iets nuuts skep, as die aarde sy mond oopsper en hulle verswelg met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend na die •doderyk afdaal, sal julle weet dat hierdie mense die Here geminag het.”
31Net toe hy al hierdie woorde klaar gesê het, het die grond onder hulle oopgeskeur. 32Die aarde het sy mond oopgemaak en hulle en hulle huisgesinne verswelg – ja, al die mense wat aan Korag behoort, en al hulle besittings. 33Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend afgedaal na die doderyk. Die aarde het oor hulle toegegaan en hulle het verdwyn uit die midde van die geloofsgemeenskap. 34Die hele Israel wat om hulle was, het gevlug oor hulle geskreeu, omdat hulle gedink het, anders verswelg die aarde hulle ook!
35'n Vuur het van die Here af uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk nadergebring het.
36Die Here het met Moses gepraat en gesê: 37“Sê vir Eleasar, seun van die priester Aäron, hy moet die vuurpanne uit die brand haal en die kole vuur ver weg uitstrooi, want hierdie dinge is heilig. 38En die vuurpanne van daardie sondaars wat met hulle lewens betaal het – maak uitgeklopte plate daarvan, plaatwerk vir die altaar. Omdat hulle dit in die teenwoordigheid van die Here gebring het, is dit heilig. Dit sal dien as 'n teken vir die Israeliete.”
39Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat die mense wat verbrand is, nadergebring het, en hulle het dit uitgeklop as plaatwerk vir die altaar. 40Dit dien as 'n herinnering aan die Israeliete, sodat geen onbevoegde persoon wat nie uit die nageslag van Aäron is, sal nader kom om reukwerk in die teenwoordigheid van die Here te brand nie, en hy nie word soos Korag en sy bende nie, soos wat die Here by monde van Moses vir hom gesê het.
41Die hele volksvergadering van die Israeliete het die volgende oggend teenoor Moses en Aäron gemor: “Dit is julle wat die volk van die Here doodgemaak het.” 42Toe die volksvergadering teenoor Moses en Aäron stelling inneem, het hulle in die rigting van die Tent van Ontmoeting gedraai. Skielik het die wolk dit bedek, en het die heerlikheid van die Here verskyn. 43Moses en Aäron het toe tot voor die Tent van Ontmoeting gegaan.
44Toe het die Here met Moses gepraat en gesê: 45“Gaan weg van hierdie volksvergadering, sodat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.” Hulle het op hulle gesigte neergeval, 46en Moses het vir Aäron gesê: “Vat die vuurpan, sit gloeiende kole van die altaar daarop en gooi reukwerk daaroor. Gaan dadelik na die volksvergadering en doen vir hulle versoening, want 'n oordeel uit toorn het van die Here uitgegaan; die plaag het begin.”
47Aäron het dit geneem, soos Moses gesê het, en tot in die middel van die byeenkoms gehardloop; en inderdaad, die plaag het reeds onder die volk begin! Maar hy het die reukwerk op die kole gegooi en vir die volk versoening gedoen. 48Hy het tussen die dooies en die lewendes gaan staan en die plaag het opgehou. 49Dié wat deur die plaag omgekom het, was veertienduisend sewehonderd, naas dié wat oor die saak van Korag dood is. 50Aäron het na Moses toe teruggegaan by die ingang van die Tent van Ontmoeting, en so is die plaag gestuit.