Offergawe van die arm weduwee
1Jesus het opgekyk en gesien hoe die rykes hulle bydraes in die offergawekis gooi. 2Hy sien toe ook hoe 'n arm weduwee twee lepton ingooi, 3en sê: “Waarlik, Ek sê vir julle: Hierdie weduwee, wat brandarm is, het meer ingegooi as hulle almal. 4Want hulle het almal uit hulle oorvloed by die bydraes ingegooi, maar sy het, ten spyte van haar behoeftigheid, alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.”
Profetiese rede: Afbreek van die tempel
5Terwyl sommige praat oor die tempelterrein, oor die mooi stene en die gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê: 6“Dit wat julle hier sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op 'n ander gelaat word nie; alles sal afgebreek word.”
Profetiese rede: Misleiding en oorloë
7Hulle het Hom toe gevra: “Meester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur, en wat is die teken wat sal aandui wanneer dit gaan gebeur?” 8Hy het geantwoord: “Pasop dat julle nie mislei word nie, want daar sal baie mense in my Naam na vore tree en sê, ‘Dit is ek!’ of ‘Die tyd is op hande!’ Moenie agter hulle aanloop nie. 9Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie vreesbevange raak nie, want hierdie dinge moet eers gebeur; maar dit sal nie onmiddellik die einde wees nie.”
10Verder het Hy ook vir hulle gesê: “Een nasie sal teen 'n ander nasie optrek, en een koninkryk teen 'n ander koninkryk. 11Daar sal hewige aardbewings wees, en op een plek ná die ander sal daar hongersnood en epidemies uitbreek. Daar sal groot en skrikwekkende tekens uit die hemel kom. 12Maar voor al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle gevange neem en julle vervolg. Hulle sal julle aan die •sinagoges oorlewer en in die tronke opsluit; hulle sal julle voor konings en prokurators sleep ter wille van my Naam. 13Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om te getuig. 14Neem julle dan voor om nie vooraf na te dink oor julle verdediging nie, 15want Ek sal julle die woorde en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan of weerlê nie. 16Julle sal selfs deur julle ouers, broers, familie en vriende uitgelewer word, en hulle sal sommige van julle doodmaak. 17Julle sal ook deur almal gehaat word ter wille van my Naam. 18Daar sal beslis geen haar van julle koppe val nie. 19Red julle lewens deur te volhard.”
Profetiese rede: Die groot verdrukking
20“Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel is, moet julle weet dat haar verwoesting naby is. 21Dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug, en hulle wat binne die stad self is, moet uitgaan, en hulle wat op die platteland is, moet die stad nie binnegaan nie; 22want daardie dae is dae van vergelding, sodat alles wat geskryf is, vervul sal word. 23Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed, want daar sal groot nood in die land wees en straf vir hierdie volk. 24Hulle sal val deur die skerpte van die swaard en as gevangenes na al die nasies weggevoer word, en Jerusalem sal deur die nasies vertrap word, totdat die bestemde tyd van die nasies vervul is.”
Profetiese rede: Koms van die Seun van die Mens
25“Dan sal daar tekens wees in die son en die maan en die sterre, en op die aarde sal die nasies beangs en verward wees oor die gedreun en hoë golwe van die see. 26Mense sal flou val van vrees en vermoedens oor wat die wêreld gaan tref, want die kragte van die hemele sal geskud word. 27En dan sal hulle ‘die •Seun van die Mens op 'n wolk sien kom’ met krag en groot heerlikheid. 28Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan op en lig julle koppe, want julle bevryding is naby.”
Profetiese rede: Les van die vyeboom
29Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel: “Kyk na die vyeboom en al die ander bome. 30Wanneer hulle reeds bot, merk julle dit self op en weet dat die somer naby is. 31So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die •koninkryk van God naby is. 32•Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. 33Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie.
34“Wees op julle hoede dat julle harte nie belas word deur oormatige gefuif en dronkenskap en die bekommernisse van die lewe, en daardie dag julle onverwags betrap 35soos 'n valstrik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die hele aarde woon. 36Wees te alle tye waaksaam, en bid dat julle in staat sal wees om al hierdie dinge wat gaan gebeur, te ontvlug, en voor die •Seun van die Mens te kan staan.”
37Jesus het bedags op die tempelterrein onderrig gegee, maar snags het Hy uitgegaan om op die Olyfberg te oornag. 38En die hele volk het vroeg opgestaan om op die tempelterrein na Hom te gaan luister.