Nadab en Abihu
1Nadab en Abihu, die seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat, gloeiende kole daarin gesit en reukwerk daarop gegooi. Toe het hulle hierdie ongeoorloofde vuur voor die Here nadergebring – wat nie volgens sy bevel was nie. 2Vuur het van voor die Here uitgegaan en hulle verteer, sodat hulle daar voor die Here gesterf het. 3Toe sê Moses vir Aäron: “Dit is wat die Here bedoel het toe Hy gesê het,
“ ‘Deur diegene wat naby My is,
moet Ek as heilig erken word;
ten aanskoue van die hele volk
moet Ek geëer word.’ ”
Aäron het net geswyg. 4Moses het Misael en Elisafan, die seuns van Ussiël, die broer van Aäron se vader, geroep en vir hulle gesê: “Kom nader, dra julle medepriesters weg hier voor die heiligdom na buite die kamp.” 5Hulle het nader gekom en hulle in hulle priesterrokke na buitekant die kamp gedra soos Moses gesê het.
6Moses het vir Aäron en sy seuns Eleasar en Itamar gesê: “Moenie julle hare laat loshang nie en moenie julle klere skeur nie, anders sterf julle en word die Here vertoornd vir die hele volksvergadering. Maar julle broers, die hele huis van Israel, mag treur oor die brand wat die Here laat ontvlam het. 7By die ingang van die •Tent van Ontmoeting mag julle nie uitgaan nie, sodat julle nie sterf nie; want die salfolie van die Here is aan julle.” Hulle het toe gemaak soos Moses gesê het.
8Die Here het met Aäron gepraat en gesê: 9“Wyn en sterk drank moet jy nie drink nie, nie jy of jou seuns by jou wanneer julle in die Tent van Ontmoeting ingaan nie, sodat julle nie sterf nie. Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslag geld, 10met die oog daarop om te kan onderskei tussen wat heilig is en nie heilig nie, en tussen wat •onrein en rein is. 11So moet julle die Israeliete al die vaste voorskrifte leer wat die Here deur die diens van Moses aan hulle bekend gemaak het.”
12Moses het vir Aäron en sy oorblywende seuns, Eleasar en Itamar, gesê: “Neem die •graanoffer wat oor is van die offergawes aan die Here en eet dit so ongesuurd langs die altaar, want dit is besonder heilig. 13Julle moet dit op 'n heilige plek eet, want dit is jou en jou seuns se deel uit die offergawes aan die Here; ja, so is ek beveel. 14Die borsstuk wat 'n gewyde gawe is, en die boud wat 'n •wydingsgeskenk is, moet julle op 'n rein plek eet – jy en jou seuns en jou dogters saam met jou; want dit is gegee as jou en jou kinders se deel uit die •maaltydoffers van die Israeliete. 15Die boud as 'n wydingsgeskenk en die borsstuk as 'n gewyde gawe bo-op die offergawes van die stukke vet moet hulle in die heiligdom inneem om dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer te beweeg. Dit is die deel wat jy en jou kinders saam met jou altyd moet kry, soos die Here beveel het.”
16Moses het oral na die reinigingsbok gesoek, maar kyk, dit was verbrand! Hy het hom bloedig vererg vir Eleasar en Itamar, Aäron se oorblywende seuns en het gesê: 17“Waarom het julle nie die •reinigingsoffer op 'n heilige plek geëet nie? Dit is tog besonder heilig! Dit is aan julle gegee om die skuld van die volksvergadering weg te neem deur vir hulle voor die Here versoening te doen. 18Kyk, die bloed daarvan is nie in die heiligdom ingeneem nie! Julle moes dit beslis in die heiligdom geëet het, soos ek beveel het.” 19Aäron het hom teen Moses verweer: “Kyk, vandag het hulle hulle reinigingsoffer en hulle •brandoffer voor die Here nadergebring, en nogtans het so iets my oorgekom. As ek vandag die reinigingsoffer geëet het, sou die Here dit goedgevind het?” 20Toe Moses dit hoor, was hy tevrede.