Job se antwoord op Bildad se tweede betoog
1Job het hierop gereageer en gesê:
2“Hoe lank gaan julle my nog teister,
my met woorde verbrysel?
3Dit is nou tien keer
dat julle my verneder het;
skaamteloos teister julle my.
4As ek inderdaad onwetend gesondig het,
is my onopsetlike sonde net my saak.
5As julle julle inderdaad bo my verhef,
my verleentheid as bewys teen my wil aanvoer,
6besef dan dat dit God is wat my te na gekom het,
en dat dit sy net is wat Hy om my gespan het.
7Kyk, ek skreeu, ‘Geweld!’
maar ek kry geen antwoord nie;
ek roep om hulp,
maar daar is geen geregtigheid nie.
8Hy het my lewenspad met klippe versper,
sodat ek nie verby kan kom nie;
oor my paaie het Hy die donker laat toesak.
9Hy het my van my waardigheid gestroop,
die kroon van my kop verwyder.
10Hy het my aan elke kant afgebreek,
en ek moes gaan.
Hy het my hoop ontwortel soos 'n boom.
11Hy het sy toorn teen my laat ontbrand,
my as een van sy teenstanders beskou.
12Sy troepe trek saam;
hulle vul hulle beleëringswal teen my op,
reg rondom my woonplek slaan hulle laer op.
13“My volksgenote het Hy van my verwyder,
mense wat my ken,
draai net eenvoudig van my af weg.
14My bloedverwante daag nie meer op nie;
my vertrouelinge het my vergeet.
15•Vreemdelinge wat by my tuis is
en my slavinne beskou my as 'n buitestander;
in hulle oë is ek 'n vreemde.
16Na my slaaf roep ek,
maar hy antwoord nie;
met my eie mond
moet ek hom smeek.
17My asem is weersinwekkend vir my vrou,
ek is walglik vir my broers en susters.
18Selfs jong seuns verwerp my;
as ek wil opstaan,
draai hulle die rug op my.
19Al my vertrouelinge vind my afstootlik;
hulle wat ek liefhet,
het teen my gedraai.
20Ek is net vel en been,
en ek gaan net my tandvleise oorhou.
21“Kry my tog jammer!
Kry my tog jammer!
Ja, julle, my vriende!
Want dit is die hand van God
wat my getref het.
22Waarom vervolg julle my soos God,
en kry nie genoeg van my vleis nie?
23Kon my woorde nou maar neergeskryf word,
in 'n boekrol vasgelê word,
24met 'n ystergriffel en lood
vir altyd in 'n rots gegraveer wees!
25Maar ek, ek weet:
My Losser leef!
Uiteindelik sal Hy op aarde opstaan.
26Nadat hulle my vel so afgeskeur het,
sal ek, 'n mens van vlees en bloed,
God sien,
27wat net ek sal sien;
my eie oë, en niemand anders nie, sal Hom sien.
My hele wese smag daarna.
28As julle dink,
‘Hoe sal ons hom vervolg?
Die wortel van die saak
is by hom te vinde,’
29moet julle self die swaard vrees
– woede is immers 'n sondeskuld
wat die swaard verdien –
sodat julle kan weet dat daar 'n oordeel is.”