Genesing van 'n blindgebore man
1En in die verbygaan het Jesus 'n man gesien wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?” 3Jesus het geantwoord: “Nóg hy, nóg sy ouers het gesondig; maar dit het gebeur sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word. 4Ons moet die dade doen van Hom wat My gestuur het terwyl dit nog dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. 5So lank as wat Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” 6Nadat Hy dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en modder van die speeksel gemaak, die modder aan sy oë gesmeer 7en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam” – wat, as dit vertaal word, ‘gestuurde’ beteken. Hy het toe gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien. 8Die bure en die mense wat hom voorheen gesien het toe hy 'n bedelaar was, sê toe: “Is dit tog nie hy wat gesit en bedel het nie?” 9Ander het gesê: “Dit is hy!” Nog ander het gesê: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” Maar hy het gesê: “Dit ís ek!” 10Hulle vra hom toe: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?” 11Hy antwoord: “Die man wat Jesus genoem word, het modder gemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê, ‘Gaan na Siloam en was jou.’ Ek het toe gegaan en my gewas, en ek het begin sien.” 12Hulle het hom gevra: “Waar is hy nou?” Hy sê toe: “Ek weet nie.”
Reaksie van die Fariseërs
13Hulle neem toe die man wat voorheen blind was na die •Fariseërs. 14Die dag waarop Jesus die modder gemaak en sy oë oopgemaak het, was 'n Sabbat. 15Die Fariseërs het hom toe weer gevra hoe hy begin sien het. Hy het hulle geantwoord: “Hy het modder op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.” 16Sommige van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie.” Ander het egter gesê: “Hoe kan 'n sondige mens sulke tekens doen?” En hulle was verdeeld. 17Hulle sê toe weer vir die blinde man: “Wat sê jý van hom, aangesien hy jou oë oopgemaak het?” En hy antwoord: “Hy is 'n profeet.”
18Die Jode het egter nie geglo dat hy blind was en begin sien het nie – totdat hulle die man wat begin sien het, se ouers geroep het 19en vir hulle gevra het: “Is hierdie man julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?” 20Sy ouers antwoord toe: “Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is. 21Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë oopgemaak het, weet ons nie. Vra hom – hy is oud genoeg; hy sal vir homself praat.” 22Dit het sy ouers gesê omdat hulle bang was vir die Jode. Die Jode het naamlik reeds ooreengekom dat as iemand Hom openlik as die Christus sou bely, hy uit die •sinagoge geban sou word. 23Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg – vra hom.”
24Hulle het toe die man wat blind was 'n tweede keer laat roep en vir hom gesê: “Gee aan God die eer; ons weet dat hierdie man 'n sondaar is.” 25Hy het toe geantwoord: “Of hy 'n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek, dat ek blind was, en nou sien ek.” 26Hulle het toe vir hom gesê: “Wat het hy met jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?” 27Hy antwoord hulle: “Ek het reeds vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie. Wat wil julle weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?” 28Hulle het hom toe uitgeskel en gesê: “Jy is 'n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses. 29Ons weet dat God met Moses gepraat het, maar hierdie man – ons weet nie waar hy vandaan kom nie.” 30Die man het hulle geantwoord: “Wel, dit is verbasend! Julle weet nie waarvandaan hy kom nie, en tog het hy my oë oopgemaak. 31Ons weet dat God sondaars nie verhoor nie, maar as iemand godvresend is en sy wil doen, verhoor Hy hom. 32Van die begin van die wêreld af het niemand nog ooit daarvan gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore persoon oopgemaak het nie. 33As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.” 34Hulle het hom geantwoord: “Jy is heeltemal in sonde gebore, en probeer jy ons leer?” En hulle het hom uitgeban.
Geestelike blindheid
35Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het, en toe Hy hom raakloop, het Hy gevra: “Glo jy in die •Seun van die Mens?” 36Hy het geantwoord: “Wie is Hy, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” 37Jesus het vir hom gesê: “Jy kyk na Hom. Hy wat met jou praat, dit is Hy.” 38Toe sê hy: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid. 39En Jesus het gesê: “Ter wille van 'n beslissing het Ek na hierdie wêreld gekom, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, blind kan word.”
40Van die •Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is tog nie ook blindes nie?” 41Jesus het vir hulle gesê: “As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie, maar nou sê julle, ‘Ons sien.’ Daarom bly julle in julle sonde.”