Onheil vir die Judeërs in Egipte
1Dit is die woord wat tot Jeremia gekom het vir al die Judeërs wat in Egipteland woon, wat in Migdol, Tagpanhes en Nof, en in die land Patros woon: 2“So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Julle het self al die onheil beleef wat Ek oor Jerusalem en oor al die dorpe van Juda gebring het. Kyk, dit is vandag 'n puinhoop, met niemand wat daarin woon nie 3vanweë die kwaad wat hulle gedoen het deur My te tart, deur offers te gaan verbrand en ander gode te dien wat hulle nie geken het nie, nie hulle nie, nie julle nie, en ook nie julle voorouers nie. 4Ek het aanhoudend al my diensknegte, die profete, na julle gestuur om te sê: “Moet tog nie hierdie afstootlike ding doen wat Ek haat nie!” 5Maar hulle het nie geluister nie en nie gehoor gegee deur hulle van hulle boosheid te bekeer om nie vir ander gode offers te verbrand nie. 6My woede en my toorn het toe uitgebars en gebrand in die dorpe van Juda en die strate van Jerusalem, en dit het puinhope en woestenye geword, soos dit vandag is.’
7“Daarom, so sê die Here, die God van alle magte, die God van Israel, ‘Waarom doen julle julleself so 'n groot skade aan deur man en vrou, kind en suigeling uit Juda uit te roei, en so vir julle nie eers 'n oorblyfsel oor te laat nie? 8Julle doen dit deur My te tart met die werk van julle hande, deur vir ander gode offers te verbrand in Egipteland, waarheen julle gekom het om as •vreemdelinge te woon, sodat julle julleself sodoende uitroei en 'n vervloeking en bespotting word onder al die nasies van die wêreld. 9Het julle die booshede van julle voorouers vergeet en die booshede van die konings van Juda en die booshede van hulle vroue, en julle eie booshede en die booshede van julle vroue wat hulle in die land Juda en in die strate van Jerusalem aangerig het? 10Tot vandag toe is hulle nie gebroke of bevrees nie, en volg hulle nie my wet en vaste voorskrifte wat Ek aan julle en julle voorouers voorgehou het nie.’
11“Daarom, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Kyk, Ek is vasbeslote om hulle kwaad aan te doen, om die hele Juda uit te roei. 12Ek sal die oorblyfsel van Juda wegraap, hulle wat vasbeslote was om na Egipteland te gaan om daar as vreemdelinge te woon; hulle sal almal omkom. In Egipteland sal hulle val deur die swaard; van honger sal hulle omkom; van die kleinste tot die grootste sal deur die swaard en van honger omkom. Hulle sal 'n voorbeeld van verdoeming, 'n skrikbeeld, 'n vervloeking en 'n bespotting word. 13Ek sal van hulle wat in Egipteland woon, rekenskap eis soos Ek dit van Jerusalem geëis het met die swaard, met hongersnood en met pessiekte, 14sodat nie een uit die oorblyfsel van Juda wat gegaan het om daar in Egipteland as vreemdelinge te woon, sal ontkom of ontvlug om te kan terugkeer na die land Juda nie, die land waarna hulle sal verlang om heen terug te gaan, om daar te gaan woon. Ja, hulle sal nie teruggaan nie, net 'n paar vlugtelinge.’ ”
15Al die manne wat geweet het dat hulle vroue vir ander gode offers verbrand, en al die vroue wat daar gestaan het, 'n groot byeenkoms, ja, die hele volk wat in Egipteland in Patros gewoon het, het Jeremia geantwoord: 16“Die woord wat jy aan ons in die Naam van die Here verkondig het – ons gaan nie na jou luister nie. 17Trouens, ons sal alles wat ons met ons eie monde onderneem het, beslis doen: om offers te verbrand vir die koningin van die hemel en vir haar drankoffers uit te giet soos ons gedoen het, ons en ons voorouers, ons konings en ons •hoë amptenare, in die dorpe van Juda en die strate van Jerusalem. Toe was ons versadig met brood en het dit met ons goed gegaan; rampe het ons toe nie beleef nie. 18Maar vandat ons opgehou het om vir die koningin van die hemel offers te verbrand en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons deur die swaard en van hongersnood omgekom.”
19Die vroue het gesê: “En toe ons vir die koningin van die hemel offers verbrand en vir haar drankoffers uitgegiet het, het ons miskien sonder die medewete van ons mans vir haar stervormige koekies gemaak om haar af te beeld, en vir haar drankoffers uitgegiet?”
20Toe het Jeremia aan die hele volk, die manne en vroue, ja, die hele volk wat besig was om hom te antwoord, gesê: 21“Die offers wat julle verbrand het in die dorpe van Juda en die strate van Jerusalem, julle en julle voorouers, julle konings en julle hoë amptenare en die volk van die land, het die Here nie daaraan gedink en het dit nie in sy gedagtes opgekom nie? 22Die Here kon dit nie meer verduur nie, vanweë julle bose dade, vanweë die afstootlike dinge wat julle gedoen het. Toe het julle land 'n puinhoop, 'n woesteny en 'n vervloeking geword, sonder inwoners, soos dit vandag is. 23Juis vanweë die feit dat julle offers verbrand het, en dat julle teen die Here gesondig en nie na die stem van die Here geluister het nie, en nie sy wet, sy vaste voorskrifte en sy bepalings gevolg het nie; ja, daarom het hierdie onheil julle getref soos dit vandag is.”
24Jeremia het toe vir die hele volk en vir al die vroue gesê: “Hoor die woord van die Here, ganse Juda wat in Egipteland is! 25So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Julle en julle vroue, julle het met julle eie monde verklaar en dit met julle hande uitgevoer: “Ons sal beslis ons geloftes wat ons afgelê het, nakom om vir die koningin van die hemel offers te verbrand en vir haar drankoffers uit te giet.” Doen dan julle geloftes beslis gestand! Voer julle geloftes beslis uit!’ 26Daarom, hoor die woord van die Here, ganse Juda wat in Egipteland woon, ‘Kyk, Ek lê 'n eed af by my groot Naam;’ sê die Here, ‘in die hele Egipteland sal my Naam nooit weer aangeroep word deur die mond van enige man van Juda wat sê, “So waar as my Heer, die Here, leef!” nie. 27Kyk, Ek waak oor hulle ten kwade en nie ten goede nie. Al die mans van Juda wat in Egipteland is, sal deur die swaard en hongersnood omkom, totdat hulle vernietig is. 28En hulle wat aan die swaard ontkom, net 'n paar, sal uit Egipteland na die land Juda terugkeer. Die hele oorblyfsel van Juda wat na Egipteland gekom het om as vreemdelinge daar te woon, sal dan weet wie se woord standhou, myne of hulle s'n. 29En dit sal vir julle die teken wees,’ is die uitspraak van die Here, ‘dat Ek van julle rekenskap eis op hierdie plek, sodat julle kan weet dat my woorde wat ten kwade teen julle gerig is, beslis sal standhou.’ 30So sê die Here: ‘Kyk, Ek gaan farao Hofra, koning van Egipte, oorgee in die hand van sy vyande en in die hand van hulle wat sy lewe soek, soos Ek Sedekia, koning van Juda, oorgegee het in die hand van Nebukadresar, die koning van Babilonië, sy vyand, wat sy lewe gesoek het.’ ”