1In daardie tyd het Judit hiervan gehoor. Sy was die dogter van Merari, seun van Os, seun van Josef, seun van Osiël, seun van Elkia, seun van Ananias, seun van Gideon, seun van Rafaïn, seun van Agitob, seun van Elia, seun van Hilkija, seun van Eliab, seun van Natanael, seun van Selumiël, seun van Suri-Saddai, seun van Israel. 2Haar man, Manasse, wat uit dieselfde stam en familie afkomstig was, is tydens die garsoes oorlede. 3Hy het naamlik toesig gehou oor die gerfbinders op die vlakte, toe die siedende hitte hom oorval. Hy het op sy bed neergeval en in sy dorp Betulua gesterf. Hulle het hom by sy voorvaders in die veld tussen Dotan en Balamon begrawe. 4Judit het drie jaar en vier maande lank as weduwee in haar huis bly woon. 5Sy het vir haar 'n tent opgeslaan op die dak van haar huis, 'n roukleed om haar middel gedraai en haar weduweeklere bo-oor gedra. 6Sy het vir die volle duur van haar weduweeskap gevas, behalwe op die dag voor die Sabbat en op die Sabbat self, op die dag voor nuwemaan en op nuwemaan self, en ook nie gedurende die feeste en vreugdevieringe van die huis van Israel nie. 7Judit het 'n mooi figuur gehad en 'n beeldskone gesig. Haar man, Manasse, het vir haar goud en silwer, slawe en slavinne, vee en grond, waar sy bly woon het, nagelaat. 8Niemand kon 'n slegte woord oor haar sê nie, want sy het groot ontsag vir God gehad. 9Judit het gehoor van die slegte dinge wat die volk teen die leier gesê het toe hulle al moedeloos was weens die tekort aan water, en sy het ook alles gehoor wat Ussia gesê het toe hy hulle met 'n eed beloof het dat hy die stad ná vyf dae aan die Assiriërs sou oorgee. 10Sy het haar getroue slavin, wat in beheer was van al haar besittings, gestuur en vir Ussia, Gabris en Garmis, die Oudstes van haar stad, laat roep. 11Hulle het na haar gekom en sy het vir hulle gesê: “Luister tog na my, leiers van die inwoners van Betulua. Dit wat julle vandag vir die volk gesê en selfs bevestig het met 'n eed wat volgens julle tussen God en julle bestaan, is nie reg nie; julle het naamlik onderneem om die stad aan ons vyande oor te gee as die Here ons nie binne die volgende dae tot hulp kom nie. 12Wie is julle tog nou wat vandag, op hierdie dag, vir God beproef het en julle in God se plek gestel het oor mense se sake? 13Julle stel nou die Here, die Almagtige, op die proef, maar julle sal tot in ewigheid niks wys word nie. 14Want julle kan nie die diepte van 'n mens se hart peil of die gedagtes van sy verstand begryp nie. Hoe wil julle dan God, wat al hierdie dinge gemaak het, peil en sy verstand begryp en sy redenering verstaan? Beslis nie, broers; moenie die Here ons God kwaad maak nie! 15Want selfs as God ons nie binne vyf dae wil help nie, het Hy die mag om ons te beskerm, of om ons te vernietig voor die oë van ons vyande. 16Moenie die bedoelings van die Here ons God probeer bind nie, want God kan nie soos 'n mens gedreig word of soos 'n mensekind met smeking oorgehaal word nie. 17Laat ons daarom tot Hom roep om hulp terwyl ons wag vir die redding wat van Hom af kom; Hy sal ons geroep verhoor indien dit Hom behaag. 18Want nog nooit in ons geslag, en ook nie vandag, op hierdie dag, was daar by ons enige stam of familie of distrik of stad wat gode aanbid wat, soos in vroeër tye, met die hand gemaak is nie. 19Dit is die rede waarom ons vaders uitgelewer is aan die swaard en plundering, en 'n groot nederlaag gely het voor ons vyande. 20Maar ons, ons ken geen ander god as Hy nie, en daarom hoop ons dat Hy nie ons, of enigeen van ons geslag, sal verwerp nie. 21Want as ons so ingeneem word, sal die hele Judea ingeneem word en ons heiligdom sal geplunder word. Hy sal ons bloed eis vir die ontheiliging daarvan. 22En die slagting onder ons broers, die inbesitname van die land en die verwoesting van ons erfdeel sal Hy op ons koppe laat neerkom onder die nasies waar – as ons daar as slawe dien – ons 'n aanstoot en 'n skande sal wees vir hulle wat ons besit. 23Want ons slawerny sal nie in ons guns tel nie, inteendeel, die Here ons God sal dit tot skande maak. 24Daarom, broers, laat ons dan nou vir ons mense 'n voorbeeld stel, want hulle lewe hang van ons af. Die heiligdom en die huis en die altaar is afhanklik van ons. 25Laat ons, ten spyte van al hierdie dinge, die Here ons God dank wat vir ons, net soos vir ons voorvaders, op die proef stel. 26Onthou wat Hy met Abraham gedoen het, hoe Hy vir Isak getoets het en wat met Jakob in Mesopotamië in Sirië gebeur het toe hy skape opgepas het vir Laban, sy moeder se broer. 27Want Hy het ons nie met vuur getoets soos vir hulle toe Hy hulle hart ondersoek het nie, en Hy het hom nie op ons gewreek nie, maar die Here louter diegene wat tot Hom nader om hulle te vermaan.” 28Toe antwoord Ussia haar: “Alles wat jy gesê het, het jy met 'n goeie hart gesê, en niemand kan jou woorde teenstaan nie. 29Want dit is ook nie vandag die eerste keer dat jou wysheid duidelik spreek nie. Van die begin van jou lewe af het die hele volk jou insig besef, want die gesindheid van jou hart is goed. 30Maar die volk versmag van die dors en hulle het ons verplig om te doen wat ons hulle beloof het, en 'n eed te sweer wat ons nie sal kan verbreek nie. 31Nou moet jy, wat 'n vroom vrou is, vir ons bid en die Here sal die reën stuur om ons waterputte vol te maak en ons sal nie langer flou val van die dors nie.” 32Toe sê Judit vir hulle: “Luister na my! Ek gaan iets doen wat van geslag tot geslag aan al ons nakomelinge oorgedra sal word. 33Julle moet vannag by die stadspoort staan en ek en my slavin sal uitgaan, en voor die tyd aanbreek waarop julle beloof het om die stad aan ons vyande oor te gee, sal die Here Israel deur my hand verlos. 34Maar julle moenie probeer agterkom wat ek gaan doen nie, want ek sal nie vir julle sê voordat dit wat ek gaan doen, afgehandel is nie.” 35Ussia en die leiers sê toe vir haar: “Gaan in vrede, en mag die Here God voor jou uitgaan om wraak te neem op ons vyande!” 36Hulle het toe van haar tent af weggegaan en na hulle krygsposte teruggekeer.