1Die volgende oggend het Holofernes sy hele leër en sy hele volk, wat by sy geallieerde magte aangesluit het, beveel om die kamp te ontruim en teen Betulua op te trek, vooraf beheer te verkry van die bergpasse en oorlog te voer teen die Israeliete. 2Op daardie selfde dag is elke weerbare man gemobiliseer; hulle aanvalsmag het, benewens die toerusting en die manne onder hulle wat te voet was, bestaan uit honderd-en-sewentigduisend voetsoldate en twaalfduisend berede soldate – 'n baie groot menigte. 3Hulle het in die vallei naby Betulua kamp opgeslaan, by die fontein, en het hulleself versprei, in die breedte vanaf Dotan tot by Belbaim, en in die lengte vanaf Betulua tot by Kuamon, wat teenoor die Esdrelonvlakte lê. 4Die Israeliete het, toe hulle die menigte sien, gesidder van vrees en die een het vir die ander gesê: “Nou gaan hulle die hele land kaalstroop; nie die hoogste berge of die dale of die heuwels sal hulle druk kan weerstaan nie.” 5Tog het almal hulle wapens gegryp en vure aangesteek op hulle torings en daardie hele nag lank wag gehou. 6Op die tweede dag het Holofernes sy volle ruitery uitgelei ten aanskoue van die Israeliete in Betulua. 7Hy het die toegange na hulle stad besigtig; hy het die waterbronne nagery en dit dadelik geannekseer en afdelings soldate daaroor aangestel, terwyl hy self na sy volk teruggekeer het. 8Toe het al die aanvoerders van die seuns van Esau en al die leiers van die volk van Moab en die generaals van die kusstreek na hom gekom en gesê: 9“Laat ons heerser tog luister na ons plan, sodat u aanvalsmag nie verliese ly nie. 10Want hierdie volk, die Israeliete, vertrou immers nie op hulle spiese nie, maar op die hoogte van die berge waarop hulle woon, want dit is nie maklik om die kruin van hulle berge te bereik nie. 11Daarom, o heerser, moet u nie teen hulle oorlog maak in gewone slagordes nie; daar sal nie een man van u volk sneuwel nie. 12Wag in u kamp en hou al die manskappe van u aanvalsmag terug; laat u dienaars beheer hou van die fontein wat aan die voet van die berg ontspring, 13want daarvandaan kry al die inwoners van Betulua water. Die dors sal hulle vernietig en hulle sal hulle stad oorgee, terwyl ons en ons volk sal opgaan na die kruine van die nabygeleë berge en kamp opslaan daar bo, waghou en toesien dat nie een man uit die stad ontsnap nie. 14Hulle en hulle vroue en kinders sal wegkwyn van honger; ja, nog voordat die swaard hulle tref, sal hulle versprei lê in die strate van hulle woonplek. 15So sal u hulle swaar laat boet omdat hulle gerebelleer het en u nie in vrede opgesoek het nie.” 16Hulle woorde het Holofernes en al die ampsdraers by hom geval, en hy het beveel dat daar gemaak word soos hulle sê. 17Die Ammoniete, en saam met hulle vyfduisend Assiriërs, het toe die kamp ontruim en gaan kamp opslaan in die vallei, en die waterleidings en fonteine wat aan die Israeliete behoort, geannekseer. 18Die seuns van Esau en die Ammoniete het opgetrek en kamp opgeslaan tussen die berge teenoor Dotaim. Hulle het van hulle manne na die suide en na die ooste gestuur, in die rigting van Engrebel, wat naby Goes aan die Mogmoerspruit is. Die res van die Assiriese leër het op die vlakte gekampeer en die hele oppervlak van die land bedek. En hulle tente en toerusting het 'n groot kamp gevorm; hulle was 'n baie groot menigte. 19Die Israeliete het hardop tot die Here hulle God geroep, want hulle was mismoedig, aangesien al hulle vyande hulle omring het en daar geen manier was om hulle te ontvlug nie. 20Die ganse Assiriese leër – voetsoldate, strydwaens en ruitery – het hulle vier-en-dertig dae lank omsingel. Toe was al die waterkruike van al die inwoners van Betulua leeg. 21Selfs die waterputte was besig om op te droog, en hulle het nie eers genoeg water gehad om hulle dors vir 'n enkele dag te les nie, want daar is afgemete hoeveelhede aan hulle gegee om te drink. 22Hulle kindertjies was kragteloos; die vroue en jong manne was flou van die dors en het in die strate van die stad en die deurgange van die poorte omgeval; daar was geen krag in hulle oor nie. 23Toe het die hele volk – jong manne, vroue en kinders – by Ussia en die leiers van die stad saamgedrom, en met 'n harde stem uitgeroep en voor al die oudstes gesê: 24“Laat God oor julle en ons oordeel, want julle het ons 'n groot onreg aangedoen deur nie vrede met die Assiriërs te sluit nie. 25Nou het ons niemand om ons te help nie. Maar God het ons verkoop in hulle hande om voor hulle uitgesprei te lê, te midde van groot dors en verwoesting. 26Roep hulle dan nou en gee die hele stad oor as buit aan die volk van Holofernes en aan sy hele leërmag, 27want dit sal vir ons beter wees om deur hulle weggevoer te word. Ons sal wel slawe word, maar ons sal leef en ons sal nie met ons eie oë die dood van ons suigelinge aanskou en sien hoe ons vroue en kinders omkom nie. 28Ons roep die hemel en die aarde en ons God en die Here van ons vaders, as getuie teen julle in. Dit is Hy wat ons vir ons sondes en vir die oortredings van ons vaders straf. Mag Hy nie handel volgens hierdie woorde wat ons vandag, op hierdie dag, gespreek het nie!” 29Daar was dwarsdeur die vergadering 'n groot geweeklaag onder almal, en hulle het met 'n harde stem tot die Here God geroep. 30Maar toe sê Ussia vir hulle: “Hou moed, broers; laat ons nog vyf dae uithou. Die Here, ons God, sal in hierdie tyd sy medelye met ons betoon, want Hy sal ons nie vir altyd in die steek laat nie. 31Maar as die tyd verby is en ons het nie hulp ontvang nie, sal ek handel ooreenkomstig julle woorde.” 32Toe het hy die volk uitmekaar laat gaan, elkeen na sy eie plek. Hulle het weggegaan na die mure en die torings van hulle stad, en die vroue en kinders na hulle huise gestuur. Groot verslaentheid het in die stad geheers.