1Dit is aan Holofernes, die opperbevelvoerder van die Assiriese leërmag, gerapporteer dat die Israeliete hulle voorberei het vir oorlog, die bergpasse gesluit het, elke hoë bergspits ommuur het en versperrings op die vlaktes aangebring het. 2Hy was briesend en het al die hoë amptenare van Moab en die bevelvoerders van Ammon en al die satrape van die kusstreek ontbied 3en vir hulle gesê: “Kanaäniete, sê my wie die volk daar in die bergstreek is – watter stede bewoon hulle, hoe groot is hulle weermag en waarop berus hulle krag en vermoëns? Wie is koning oor hulle, die aanvoerder van hulle leër? 4En waarom het hulle, van al die nasies van die weste, geweier om my te kom ontmoet?” 5Toe sê Agior, die leier van al die Ammoniete, vir hom: “Laat my heer tog luister na die verslag uit die mond van u dienaar. Ek sal vir u die waarheid bekend maak oor daardie volk wat in die bergstreek naby u woon. Geen leuen sal uit die mond van u dienaar kom nie. 6Hierdie volk is afstammelinge van die Galdeërs. 7Hulle het vroeër as vreemdelinge in Mesopotamië gewoon, want hulle wou nie in die land van die Galdeërs luister na die gode van hulle voorouers nie. 8Hulle het afgewyk van die paaie van hulle voorouers en die God van die hemel begin aanbid, dié God wat hulle leer ken het. En toe die Galdeërs hulle verdryf het uit die teenwoordigheid van hulle gode, het hulle na Mesopotamië gevlug en daar baie lank as vreemdelinge gewoon. 9Toe sê hulle God hulle aan om die plek te verlaat waar hulle as vreemdelinge gewoon het en na die land Kanaän te trek. Hulle het daar gaan woon en baie ryk geword – deur goud en silwer en uitermate baie vee. 10Omdat daar hongersnood oor die hele Kanaän gekom het, het hulle na Egipte afgetrek. Daar het hulle as vreemdelinge bly woon so lank as wat daar voedsel te kry was. Hulle volk het daar tot so 'n groot menigte aangegroei dat hulle nie getel kon word nie. 11Toe het die koning van Egipte teen hulle gedraai, hulle om die bos gelei en hulle hard laat werk om stene te maak; hy het hulle verneder deur van hulle slawe te maak. 12Maar hulle het tot hulle God geroep, en Hy het die hele Egipteland getref met plae waarvoor daar geen genesing was nie. Toe het die Egiptenare hulle van hulle af weggedryf. 13Maar God het die Rooisee voor hulle drooggelê 14en hulle op die pad na Sinai en Kades-Barnea gelei. Hulle het al die woestynbewoners uitgedryf, 15in die land van die Amoriete gaan woon, en deur hulle mag al die Gesboniete verdelg. Toe het hulle die Jordaan oorgesteek, die hele berggebied in besit geneem 16en die Kanaäniete, Feresiete, Jebusiete, Sigemiete en al die Gergesiete voor hulle uit verdryf en lank daar gebly. 17Solank hulle nie gesondig het in die oë van hulle God nie, het dit met hulle goed gegaan, want die God wat onreg haat, was met hulle. 18Maar toe hulle afgewyk het van die pad wat Hy vir hulle aangewys het, is hulle in talle gevegte geheel en al verslaan en as gevangenes na 'n vreemde land weggevoer. Die •tempel van hulle God is met die grond gelyk gemaak en hulle stede is deur die vyand ingeneem. 19Maar noudat hulle hulle bekeer het tot hulle God, het hulle teruggekeer van die plek waarheen hulle verstrooi was. Hulle het besit geneem van Jerusalem, waar hulle heiligdom was, en hulle in die bergland gevestig, aangesien dit onbewoon was. 20En nou, my heer en meester, as daar 'n dwaling by hierdie volk voorkom en hulle teen hulle God sondig, en ons dit as 'n misstap aan hulle kant beskou, dan kan ons optrek en hulle aanval; 21maar as daar geen wetsoortreding onder hulle as volk is nie, moet my heer hulle met rus laat, want dan sal hulle Here en God hulle beskerm en sal ons 'n bespotting op die hele aarde wees.” 22Nadat Agior hierdie dinge gesê het, het die hele volk, wat om die tent saamgedrom en daar rondgestaan het, gemor. Holofernes se offisiere en al die inwoners van die kusstreek en Moab het geëis dat Agior in stukke gekap word: 23“Ons is tog nie bang vir die Israeliete nie, want kyk, hulle is 'n volk wat nie werklik mag of krag vir 'n groot veldslag het nie. 24Laat ons dus nou optrek, o heerser Holofernes – hulle sal prooi vir u hele leër word.”