1“Bring die •ramshoring na jou mond!
Daar sirkel 'n arend
bo die huis van die Here,
omdat hulle my verbond oortree het,
en teen my wet in opstand is.
2Na My roep hulle om hulp,
‘My God, ons, Israel, ken U!’
3Israel het die goeie verwerp,
'n vyand sal hom agtervolg.
4Daardie manne het konings aangestel,
maar sonder my goedkeuring.
Hulle het leiers aangewys,
maar Ek ken hulle nie.
Met hulle silwer en hulle goud
het hulle vir hulle afgode gemaak –
net sodat dit vernietig kan word.”
5Hy het jou kalf verwerp, Samaria!
“My toorn het teen hulle ontbrand.
Hoe lank nog sal hulle
nie rein kan wees nie –
6as hulle dan deel is van Israel.
En daardie ding,
'n ambagsman het dit gemaak;
dit is nie 'n god nie.
Ja, die kalf van Samaria
sal houtspaanders word.
7“As mense wind saai,
sal hulle 'n storm oes.
As daar geen are
aan 'n koringhalm is nie,
lewer dit geen koringkorrels nie.
As dit dalk iets lewer,
sal vreemdes dit insluk.
8Israel is ingesluk;
nou het hulle onder die nasies
geword soos 'n stuk gereedskap
wat geen waarde meer het nie;
9want hulle het opgetrek na Assirië.
Efraim is 'n eensame wildedonkie:
Hulle het ywerig vriende gewerf.
10Selfs al werf hulle vriende
onder die nasies –
Ek gaan hulle nou bymekaar jaag,
en hulle sal begin wegkwyn
onder die las van die koning
van vorste.
11“Toe Efraim meer altare
gebou het, was dit om te sondig;
dit het vir hom altare geword
om mee te sondig!
12Al skryf Ek vir hom my wet
tienduisend maal neer,
dit word as iets vreemds gereken.”
13Hulle slag offers vir die genot –
vleis, sodat hulle kan eet.
Die Here, Hy aanvaar hulle nie.
Nou gaan Hy hulle sondeskuld
in herinnering roep,
en Hy gaan rekenskap eis
oor hulle sondes.
Wat hulle betref,
na Egipte sal hulle terugkeer.
14“Toe Israel sy Maker vergeet het,
het hy paleise gebou;
en Juda het die versterkte stede
meer gemaak.
Maar Ek gaan vuur slinger
teen sy stede,
en dit sal sy vestings verteer.”