1Laat ons dan verder gaan as die eerste beginsels van die boodskap aangaande •Christus, en voortgaan na volwassenheid, sonder om weer die fondament te lê van die bekering van dooie werke, van geloof in God, 2van onderrig oor reinigingsrituele, oplegging van hande, opstanding uit die dood, en van ewige oordeel. 3En juis dit sal ons doen, as God dit toelaat.
4Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, 6en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring; aangesien hulle wat hulleself betref, die •Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak. 7Want grond wat die reën indrink wat telkens daarop val, en 'n bruikbare oes voortbring vir hulle om wie se ontwil dit bewerk word, ontvang God se seën. 8Maar wanneer dit dorings en dissels voortbring, is dit nutteloos en naby vervloeking. Die einde daarvan is verbranding.
9Maar selfs wanneer ons só praat, geliefdes, is ons, wat julle betref, oortuig van beter dinge wat betrekking het op verlossing. 10God is immers nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet van julle arbeid, en van die liefde wat julle vir sy Naam betoon het, deurdat julle die •heiliges bedien het – en nog steeds bedien – nie. 11Ons begeer dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer sal toon om tot volle sekerheid van die hoop te kom, 12sodat julle nie traag word nie, maar die voorbeeld volg van hulle wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.
God se vaste belofte
13Toe God aan Abraham 'n belofte gemaak het, het Hy, aangesien Hy niemand belangriker gehad het om by te sweer nie, by Homself gesweer. 14Hy het gesê:
“Ek sal jou ryklik seën,
en jou veelvuldig laat vermeerder.”
15En so, terwyl hy geduldig gewag het, het hy die belofte verkry. 16Mense sweer immers by iemand belangriker as hulle, en die eed tot bevestiging beteken vir hulle die einde van alle teenspraak. 17Omdat God vir die erfgename van die belofte nog soveel sekerder wou aantoon hoe onveranderlik sy besluit was, het Hy dit met 'n eed gewaarborg. 18Die doel daarvan was dat, deur hierdie twee onveranderlike dinge, waarvolgens dit vir God onmoontlik sou wees om te lieg, ons wat vrygekom het, 'n kragtige bemoediging sou hê om stewig vas te hou aan die hoop wat voorlê. 19Ons het hierdie hoop as 'n veilige en stewige anker van die •siel, wat tot aan die binnekant van die voorhangsel ingaan. 20Dit is waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het, en Hoëpriester vir ewig geword het volgens die orde van Melgisedek.