1Josef het op sy vader neergeval, by hom gehuil en hom gesoen. 2Josef het sy dienaars, die genesers, beveel om sy vader te balsem. Die genesers het Israel toe gebalsem. 3Daarvoor was 'n volle veertig dae nodig, want soveel dae neem dit om te balsem. Die Egiptenare het sewentig dae lank oor hom gerou. 4Toe die dae van rou oor hom verby was, het Josef met die huis van die farao gepraat en gesê: “As ek guns geniet in julle oë, gaan praat asseblief direk met die farao en sê, 5‘My vader het my laat sweer deur te sê: “Kyk, ek gaan sterf. In my graf wat ek vir my uitgekap het in die land Kanaän, daar moet jy my begrawe.” Laat ek dan nou asseblief optrek, sodat ek my vader kan gaan begrawe en terugkeer.’ ” 6Die farao het gesê: “Trek op en gaan begrawe jou vader, soos hy jou laat sweer het.”
7Josef het toe opgetrek om sy vader te gaan begrawe. Al die dienaars van die farao, die oudstes van sy paleis en al die oudstes van Egipteland het saam met hom opgetrek, 8ook Josef se hele huis, sy broers en sy familie. Net hulle kinders, hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die Gosenstreek agtergelaat. 9Saam met hom het sowel strydwaens as spanne perde opgetrek. Dit was 'n besonder plegtige stoet. 10Toe hulle by Goren-Haätad oorkant die Jordaan aankom, het hulle daar 'n groot en besonder plegtige roubeklag gehou. Hy het sewe dae lank 'n rouseremonie gehou vir sy vader. 11Die bewoners van die gebied, die Kanaäniete, het die gerou by Goren-Haätad gesien en gesê: “Dit is 'n plegtige rouseremonie vir die Egiptenare.” Daarom het hulle die plek wat oorkant die Jordaan is, Abel-Misrajim genoem.
12Sy seuns het met hom gemaak presies soos hy hulle beveel het: 13Sy seuns het hom na die land Kanaän geneem en hom begrawe in die grot op die stuk grond van Magpela, oos van Mamre, die stuk grond wat Abraham vir 'n begraafplek as eiendom gekoop het by Efron, die Hetiet. 14Josef het na Egipte teruggekeer nadat hy sy vader begrawe het – hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te gaan begrawe.
Josef en sy broers
15Toe Josef se broers besef dat hulle vader nou dood is, sê hulle: “As Josef 'n wrok teenoor ons koester, gaan hy ons beslis terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het.” 16Hulle het toe vir Josef laat weet: “U vader het voor sy dood opdrag gegee, 17‘So moet julle vir Josef sê: “Vergewe tog asseblief die oortreding van jou broers en hulle misstap – dat hulle jou soveel kwaad aangedoen het.” ’ Dus, vergewe dan asseblief die oortreding van die dienaars van die God van u vader.” Josef het gehuil toe hulle met hom praat.
18Sy broers het ook self gegaan, voor hom neergeval en gesê: “Kyk, ons is u slawe.” 19Maar Josef het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want is ek in God se plek? 20Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om 'n groot volk aan die lewe te hou. 21Dus, moenie bang wees nie! Ek self sal julle en julle afhanklikes van kos voorsien.” So het hy hulle getroos en mooi met hulle gepraat.
Josef se dood
22Josef het in Egipte bly woon, hy en sy familie. Hy het honderd-en-tien jaar lank geleef. 23Josef het die derde geslag van Efraim se nakomelinge gesien. Ook die kinders van Magir, die seun van Manasse, is op Josef se knieë gebore.
24Josef het vir sy broers gesê: “Ek gaan sterf, maar God sal beslis aan julle aandag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat hy met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob.” 25Josef het toe die Israeliete 'n eed laat aflê met die woorde: “God sal beslis aan julle aandag gee; neem dan my beendere hiervandaan saam.” 26Josef het gesterf toe hy honderd-en-tien jaar oud was. Hulle het hom gebalsem en in Egipte in 'n kis geplaas.